40 JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6) jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6)

JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN!   (deel 6)

Kom ek deel vandag met jou die grootste spaargeheim wat ek ontdek het …

2011-08-10Danie Vorster

DIE GROOTSTE SPAARGEHEIM …


Spaar se wortels lê in selfgesentreerdheid, het te doen met selfbehoud, selfonderhoudend: Dit het te doen met die geleidelike bymekaarmaak van bates en beleggingsfondse in die vorm van kontant, deposito’s, vaste eiendom, aandele, effektetrusts, polisse en dies meer. Alhoewel daar kort-, medium- en langtermyn spaardoelwitte behoort te wees, is die langtermyndoel van spaar gewoonlik om selfonderhoudend te word – sodat jy genoegsame inkomste kan genereer om jouself en jou gesin te onderhou gedurende jou latere jare, wanneer jy aftree-ouderdom bereik het. Natuurlik is daar diegene wat hul uiterste bes probeer om soveel geld moontlik te maak om so vroeg as moontlik af te tree, en daarna rustig te lewe.

Miskien droom ons almal op een of ander stadium in ons lewens, onwillekeurig, om nog in die fleur van ons lewens ’n multi-miljoenêr te word sodat ons kan ophou werk en net die vrug op ons arbeid kan geniet … Natuurlik besef ons gedurende ons middeljare, of selfs vroeër, dat dit nie haalbaar is nie, wanneer ons die harde ekonomiese werklikheid van die lewe begin verstaan en aanvaar.
 Baie mense skryf egter in vir kompetisies en loterye in die hoop dat hulle oornag ryk genoeg sal word om hul spaardoelwitte sonder moeite te verwesenlik. Ongelukkig ken ek niemand wat op hierdie manier ryk genoeg geword het om agteroor te kon sit en net op hul rente te kon lewe nie.
Miskien ken jy so iemand? Hulle is BAIE skaars. Ons ander sal maar die basiese beginsels van spaar moet bemeester en vir ons laat werk om ons selfgekose doelwitte te bereik.

Spaar behoort egter nooit gedryf te word deur geldgierigheid, selfsugtigheid of selfbelang nie. Dit kan nooit op die lang duur werk nie. ’n Oordrewe spaarsin of spaarmentaliteit gekarakteriseer deur eie belang, veroorsaak suinigheid. Wanbalans in jou spaarbenadering sal ook wanbalans in jou lewensuitkyk veroorsaak. Vrekkerigheid is sekerlik een van die mees afstootlike karaktereienskappe wat gou uitgesnuffel word en jou sosiaal onaanvaarbaar maak. Dit kan egter nie eers vergelyk word met die skade wat suinigheid aan jouself en jou toekoms kan veroorsaak nie. Suinigheid laat die deure na jou toekoms net op ’n skrefie oop.

Alhoewel spaar te doen het met die verwesenliking van ‘n droom soos daardie oorsese vakansie of motorvoertuig, en uiteindelik selfonderhoud, om onafhanklik te wees van andere of om een of ander onvoorsiene gebeurlikheid finansieel te oorleef, mag dit nooit verabsoluteer word en ’n allesinsluitende doelwit word, waarin ander mense eenkant toe gestoot word of hul behoeftes geïgnoreer word nie.

Die spaar geheim vervat in ’n gesonde spaar gewoonte, het te doen met die lettertjie G, oftewel die daad Gee.

Spaar en Gee gaan hand aan hand. Ons kan nooit spaar ten koste van vrygewigheid nie. Ons moet volkome balans handhaaf tussen hierdie twee uiterste pole, wat nie natuurlik versoenbaar is nie. Ek het nie nodig om hier te preek nie, maar dit is onmoontlik om lief te hê sonder om te G. Dit is ook ’n lewenswet, geartikuleer deur Jesus Christus, opgeteken in Handelinge 20:35, dat jy gelukkiger sal wees as jy G as wat jy ontvang. Dit is ’n lewensbeginsel dat jou spaargeld nooit so effektief en suksesvol vir jou sal werk, en jou spaardoelwitte bereik sal word, as jy nie eers G voordat jy spaar nie.

Ek is van mening dat spaar ’n natuurlike behoefte is wat ons dryf om minder uit te gee as wat ons verdien, maar wat nie maklik verwesenlik word in ‘n materialistiese wêreld, waar skuld en inflasie hoofrolspelers is nie. Ons het ‘n geestelike katalisator nodig om ons spaarplan te aktiveer, asook om dit te balanseer en in stand te hou. G waarborg dat ons spaarmodel op ’n gesonde grondslag gebou is, en waarborg dat dit sal werk.

Ek weet dit is ’n algemeen aanvaarde beginsel in sommige kringe dat jy jouself eerste moet betaal – die sogenaamde “pay-yourself-first” beginsel. Sommige interpreteer dit dat jy die eerste 10% of 15% van jou verdienste  in jouself moet belê of moet spaar. Ek verskil egter hiervan. Gaan alles nie maar oor jou en jou keuses nie? Wie het die huis gekies waarin jy bly en die grootte van die verband bepaal wat jy afbetaal ? Wie het die motorvoertuig gekies wat jy ry en waarop jy maandeliks so swaar afbetaal? Wie kies die leefstyl wat jy nastrewe? Om nog die eerste van jou oes vir jouself toe te eien, maak jou selfgesentreerd. Daardeur stel jy jouself eerste, tweede en derde. As jy die gewoonte kan aanleer om die eerste deel van jou na-belaste inkomste weg te G – besluit jy maar self hoeveel en aan wie - sal jy agterkom dat dit jou horison verbreed, en dat jy geluk sal smaak deurdat jy die geheim van die spaargewoonte sal ontdek en beleef …

Effektiewe en doeltreffende spaar voorveronderstel dat jy eers sal G voordat jy vir jou eie persoonlike toekomstige behoefte voorsiening maak. Die feit dat jy in die posisie is om te spaar beteken dat jy minder uitgee as wat jy verdien; dit kan toegeskryf word aan die Here se Genade en moontlik ook jou finansiële selfdissipline. G is die eerste letter van GRATITUDE. G is niks anders as ‘n uiterlike belydenis van jou dankbaarheid vir wat jy het nie – en hier praat ons nie net van stoflike goed nie, maar ook van die mate van jou Gesondheid en Gluk …

… en dit is die geheim van die spaargewoonte wat ek ontdek het, die sleutel tot lewensoorvloed … gaan probeer dit en geniet dit, want dit is ’n Gawe van God!


Gaan lees gerus weer die vorige artikels in hierdie rubriek om deurlopend ‘n gesonde finansiële perspektief te behou, asook om jou vordering te meet.





Kommentaar
  • ek het nooit genoeg om te spaar nie, maar gee wel altyd van my bietjie wat ek het.

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]