40 ONS ALMAL MAAK FOUTE ... jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

ONS ALMAL MAAK FOUTE ...

ONS ALMAL MAAK FOUTE ...

... maar leer ons daaruit?

2011-07-19

Nie een van ons is perfek nie, nie in ons persoonlike lewe nie en ook nie by die werk nie. Ons begaan foute, maar wat gebeur dan? Maak ons of dit nie gebeur het nie of leer ons iets daaruit?

Foute is onvermydelik. Dit gebeur met almal, veral by die werk. Jy vergeet om ’n belangrike afspraak na te kom of jy verstaan die bestelling of opdrag verkeerd. Dan voel jy soos ’n mislukking, want hoe kon dit gebeur het? Wat kon jy gedoen het om dit te voorkom? So maal jou gedagtes om en om en verval jy maklik in ’n diep put van selfbejammering. En kort voor lank is almal om jou ook negatief.

Stop dit nou dadelik! Moenie deel word van die groep mense wat nie waagmoed, selfvertroue en toewyding het nie. Jou werksplek hoef nie ’n vreesaanjaende plek te wees wat gelykstaande is aan ’n mynveld nie. Jou werksplek is jou speelplek, die plek waar jy foute mag maak, maar ook waardevolle lesse kan leer, waar jy jou knieë kan afstof as jy geval het en nog harder as tevore te speel.

Ons wou by vier suksesvolle vroue weet wat hulle geleer het uit ’n fout wat hulle in hulle beroep gemaak het. Hier is die lesse wat die ondervinding hulle geleer het.

Wanneer is sag té sag?

Niemand wil bekend wees as die ou heks by die werk nie, maar jy kan ook nie net toegee nie. Daar moet ’n fyn balans gehandhaaf word wanneer jy mense toelaat om sekere goed by die werk te doen. Jy wil nie te toegeeflik voorkom nie, want dan word dit moeiliker om ’n professionele verhouding met jou kollegas te hê. Jy verloor ook ’n mate van gesag, veral as jy ’n bestuurder is.

Só vertel Monhla Hlajla, besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (ACSA). “Ek was in die verlede geneig om te sag te wees en mense te veel van ’n kans te gee. Dit gaan nie daaroor dat ’n mens ander nie die kans gun nie, maar jy moet realisties wees.

“Ek het maande lank mense hulle sin gegee of meer verantwoordelikheid gegee as wat hulle kon hanteer, en ek het gou agtergekom dit nie werk nie. Hulle kon net nie aan die hoë werksvereistes voldoen nie. Dan begin hulle die energie van die mense om hulle en die stelsel waarbinne hulle werk, aantas. So word almal uiteindelik benadeel.

“Ek moes leer dat dit beter is om met meelewendheid streng op te tree as om almal gelukkig te probeer hou. Wanneer ’n probleem opduik, is dit nodig om onmiddellik te reageer en op te tree. Tog kan ’n mens ook nie elke liewe fout probeer voorkom nie. Sonder foute en wat jy daaruit leer, is die lewe net ’n teorie.”

Ek weet alles

Bianca Volschenk, ’n vryskutjoernalis, vertel hoe sy vars uit universiteit ’n groot ontnugtering gehad het. “Ek het gedink ek is volleerd en toe kry ek my eerste werk. Gou kom ek toe agter dat dinge nie heeltemal werk soos ek op universiteit geleer het nie. Dit kan nie eers vergelyk word met wat jy in die praktyk leer en nog kan leer nie.”

Dis nie altyd maklik om kritiek te aanvaar as jy begin werk nie, maar kritiek is baie waardevol. Dit word dadelik kop toe gevat, of sal ons sê, hart toe. Die emosionele worsteling raak erg en naderhand is ’n mens skoon omgekrap. “Kom aarde toe, sussie! Dis deel van die lewe. Jy moet eers klippe kou en ’n paar dingetjies wys word voordat jy jouself kan probeer bewys!” Dis ’n groeiproses en hulle sê mos: Rome is nie in een dag gebou nie.

Versigtig – Goed of sleg?

Gusti Coetzer, een van die direkteure van Talent Africa, meen die grootste fout wat sy ooit begaan het, was om te lank te wag voordat sy haar eie sakeonderneming begin het.

“Ek kom uit ’n tradisionele huis waar daar geglo is dat jy vir ’n baas moet werk sodat jy ’n vaste inkomste kan kry. Selfs by die universiteit waar ek gestudeer het, is daar nie veel gedoen om entrepreneurskap aan te wakker nie,” vertel Gusti.

“Toe ek en my vennoot, Brian Khumalo, jare gelede besluit het om entrepreneurs te word, het ons geweet daar is ’n goeie kans dat ons kon misluk. Maar ons was nie bereid om langer ander mense te verryk ten koste van ons eie voorspoed nie. Die idee rondom ’n vaste inkomste kon ek nie sommer afskud nie en die grootste uitdaging was om nie aan ’n salarisstrokie te dink nie. Ons moes ’n paar maande sonder ’n inkomste klaarkom, maar dit was regtig die moeite werd.”

Geduld, waar is jou einde?

Kort nadat die nuwe regering van oudpresident Nelson Mandela in 1994 aan bewind gekom het, is Tanya Abrahamse aangestel as hoofdirekteur van plattelandse ontwikkeling in die destydse RDP-kantoor. “Ek het sterre in die oë gehad, net om teleurstelling te proe. Ek was te naïef. Ek moes leer dat ’n mens nie ’n land oornag kan verander nie. Dat die foute van die verlede nie sommerso reggestel kan word nie, maar dat dit jare sou neem.” Deesdae is Tanya hoof van SANBI (die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut). Ondervinding het haar geleer dat vroue te veel maak van hulle foute, terwyl mans makliker daarmee saamleef. “Vroue is te bekommerd dat hulle nie beter is as die laaste sukses wat hulle behaal het nie.” Maak nie saak wat jy nou is nie, jy kan beter doen, maar dit neem tyd en gebeur nie op jou voorwaardes nie.

As ons jonk is, glo ons in die illusie van ’n wonderlike lewe. Maar soos ons elke dag leef, word ons blootgestel aan die werklike lewe – een vol stampe en stote wat jou vorm.

Dit is ’n verligting om te weet dat selfs die suksesvolste sakevroue al foute gemaak het. Dit gee die “gewone” vroue onder ons hoop, nie waar nie? As jy die fokus van jou foute verskuif na die lesse wat jy daaruit geleer het, dink net hoe goed jy gaan voel oor al die suksesse wat jy gaan hê.



Bronne:
Article alley
www.careerpointkenya.com



Helen Ueckermann en Ilana Scholtz

Kommentaar

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]