40 HOEVEEL IS JY WERD? jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

HOEVEEL IS JY WERD?

HOEVEEL IS JY WERD?

Bemark jouself!

2010-08-25Maretha Botes

Natuurlik wil jy graag meer geld hê, maar weet jy hoeveel jy werd is? En hoekom? Kenners sê as jy jou feite agtermekaar kry, behoort daar niks in jou pad te staan om presies te kry wat jy wil hê nie, mits jy natuurlik weet wat dit is!

Wat verdien wie?

As jy moet eerlik wees ... het jy ook al gewonder wat jou kollega verdien? Julle doen dieselfde werk, is op dieselfde posvlak aangestel, maar tog het jy ’n voëltjie hoor fluit dat sy kon onderhandel vir ’n verhoging en nie jy nie. En wat sal dit saak maak as jy weet wat jou kollegas verdien? “Báie,” sê professor Ed Lawler, direkteur van die sentrum vir effektiewe organisasie by die Universiteit van Kalifornië. “Ons betaling vertel ons wat ‘ander’ dink ons werd is. En díé beeld maak dat ons dikwels onderbetaal word, en onder-gewaardeer voel,” sê hy.

Penelope Trunk, skrywer van die blog, Brazen Careerist, sê die voordeel van die beginsel – gelyke betaling vir gelyke werk – is dat dit ’n sisteem is wat ware werkverrigting vergoed. “Dit sê dat werkgewers die werk waardeer wat mense doen – sonder bevoordeling van sommige werknemers.” In Suid-Afrika is daar egter ongelukkig nie wetgewing wat sê “gelyke betaling vir gelyke werk” soos in Amerika nie.

“Ek glo ook nie só ’n wet sal ooit in Suid-Afrika in werking tree nie!” lag André Venter, woordvoerder van die vakbond UASA. “Daar is ook nie maatskappye wat totale salarisdeursigtigheid toepas nie.” Maatskappye is wel wetlik verplig om salarisse van hul senior amptenare bekend te maak sodat houers van dividende ’n bepaling kan maak van wat met hulle geld gebeur. Hy sê die reg op privaatheid word in Suid-Afrika se konstitusie vervat en dít beskerm werknemers se reg om hul salaris privaat te hou. “Jou salaris is ’n ooreenkoms tussen jou en jou werknemer. Dit het niks met jou kollegas uit te waai nie. Elke posvlak het ’n betaalskaal. Indien jy nie hiermee gelukkig is nie, moet jy dalk maar ’n  ander maatskappy met ’n hoër betaalskaal vir dieselfde pos soek.”

Google dit

“Inligting is goed, en méér inligting is beter!” sê Robert Hohman, stigter van die webtuiste Glassdoor.com. “Geheimsinnigheid oor salarisse bevoordeel die werkgewer. Dit maak dit juis moeilik vir werknemers om te weet of hulle regverdige betaling ontvang – dit is soos om geblinddoek te wees,” sê Robert. ’n Soortgelyke webwerf met Suid-Afrikaanse inligting is beskikbaar op www.mywage.co.za.

Hierdie webtuiste is juis geskep om werknemers in alle bedrywe te help om vas te stel hoe hulle salaris met dié van ander werknemers in dieselfde pos vergelyk. Die webwerf gee jou onmiddellike, vars inligting oor hoe uniek jou vaardighede en opleiding is, en selfs hoeveel ánder werknemers van jou ouderdom (op dieselfde posvlak) daar in die industrie is. Só kan jy jou baas vir ’n ses slaan met die nuutste mark-inligting oor jou posisie en ook wat jy regtig werd is.

My storie

Adél (skuilnaam), ’n spanleier en skuldinvorderaar by ’n finansiële instelling, sê: “Ek het nooit tyd gekry om werklik te gaan sit en dink wat is my motivering om vir ’n verhoging te vra nie. Die dag toe ek egter uitvind ek verdien minder as my kollegas wat aan my rapporteer, het ek byna op my rug geval. Een van hulle het my kom vra vir ’n verhoging. Uit die aard van die saak móés sy haar salarisbesonderhede aan my bekend maak. Dit het my jaloers, kwaad, en soos die goedkoopste werknemer laat voel – cheap labour!

“Ek was vir ’n ruk hierna ongemotiveerd en het vrae begin vra soos: Waarom moet ek my bes gee as die maatskappy my nie waardeer nie? Ek het begin navorsing doen op die internet en professionele plasingmaatskappye genader om uit te vind presies hoeveel ánder mense in my posisie verdien – diégene met dieselfde jare diens, kwalifikasies en vaardighede as ek. En dit was beslis ’n hele paar rand meer! Ek kon uiteindelik my verhoging motiveer – met harde feite in die hand.”

Wat is jy werd?

Dit klink net te maklik om te sê jy is “baie werd” vir ’n maatskappy. Jy weet beslis jy werk jou arms af, maar wie sê enigiemand anders dink dieselfde? Jy wil nie met ’n mond vol tande sit wanneer jy moet verduidelik hoekom jy dink dat jy waardevol vir jou maatskappy is nie. Hiér is drie sleutelmaatstawwe om seker te maak wat jy werd is:

1. Markwaarde – die waarde van jou vaardighede in die mark waarvoor jy aansoek doen. “Toe ek begin dink het daaraan om vir ’n verhoging te vra, het ek eers navorsing gedoen oor wat ander mense – mans en vroue – met dieselfde vaardighede as ek in dieselfde tipe werksomgewing en pos verdien. Ek het agtergekom ek verdien omtrent R10 000 per maand minder! Dít was my wegspringplek vir onderhandelings. Ek kon uiteindelik ’n prys op my vaardighede sit,” sê Daleen Slabbert, produkbestuurder.

2. Maatskappywaardes – wat is jy werd vir die spesifieke maatskappy by wie jy aansoek doen óf vir wie jy reeds werk? “Ek het besef my maatskappy kan nié maklik iemand anders met dieselfde kwalifikasies en vaardighede as ek in die hande kry nie. Wat nog van minder betaal! My vaardighede om webblad-ontwerp te kon doen, asook oor my maatskappy se nuutste projekte te kon blog, was vir my as ‘gewone sekretaresse’ ’n bonus. Dus was ek inderdaad goud werd,” sê Verena Schmidt, sekretaresse by ’n nie-winsgewende maatskappy.

3. Selfwaarde – wat is hierdie werk vir jóú werd? “Ek het besluit geld speel nie ’n rol in hoeveel ek my werk geniet nie,” sê Marcelle le Roux, onderwyseres. “Werksbevrediging het vir my alles te doen met die groei wat ek in ánder mense kan waarneem wanneer ek hulle iets leer. Ek was nie bereid om dít prys te gee vir meer geld nie! Dus het ek nee dankie gesê vir die skoolhoofpos wat ek aangebied is. Al het dit beteken ek sou meer geld verdien.”

Vra so vir ’n verhoging

Dit sal ongelooflik lekker wees as jou baas vandag na jou toe stap en sê: “Jy kry ’n verhoging – onmiddellik effektief.” Sjoe! Maar moenie asem ophou vir só ’n wonderwerk nie. Niemand sal meer geld uitgee as wat hulle móét nie. Jy sal dus vir ’n verhoging moet vra. Ford Myers, skrywer van Get the job you want, even when no one’s hiring, sê (die meeste) maatskappye verwag van hul werknemers om te kan onderhandel – selfs al is dit net vir hul eie salarisse.

Maak só

•  Wag vir die regte oomblik. Jy wil nie jou baas onkant betrap met só ’n gesprek nie. Maak ’n afspraak en sê vooraf waaroor jy wil gesels. Wees sensitief vir die ekonomiese klimaat. As jou maatskappy finansieel swaar kry, is dit dalk nie die regte tyd om ’n geselsie oor verhogings aan te roer nie.
•  Tree op asof jy 100% gereed is vir ’n verhoging, sê Nancy Clark, bestuurder van WomensMedia. “Tree met selfvertroue op, en die wêreld sal jou waarde hoog ag!”
•  Wees seker wat jy wil hê. Doen navorsing en wees gereed om voorbeelde te gee van wat ander werkers in jou pos verdien.
•  Onderhandel. As jy nie presies kan kry waarvoor jy vra nie, wees bereid om te onderhandel. Jy sal steeds beter af wees.
•  Wees gewapen. Jy onderhandel dikwels in só ’n situasie met mense wat linkerbrein georiënteerd is. Wees dus voorbereid om op swart en wit te kan wys met hoeveel persent jy die maatskappy se winste laat groei het, of hoeveel voormalige werknemers se werk doen jy alles saam. Het jy dalk e-posse van kliënte wat na jou toe verwys is deur ander tevrede, kliënte?
•  Wees gereed vir ’n “nee” – dis net realisties. Nóú moet jy kan sê wat jou doelwitte is vir die volgende ses maande: jy gaan x-getal nuwe kliënte werf, of verkope met x persent opstoot.

Vermy dít

•  Verskonings. Sodra jy begin met, “Sjoe, ek’s regtig jammer om nóú hieroor te gesels, maar ...” As jy nie doodseker is jy verdien daardie verhoging nie, gaan jou baas beslis ook nie so seker wees nie!
•  Persoonlike probleme. Onthou, dit gaan nié hier oor of jou man sy werk verloor het nie. Dit gaan oor die feit dat jy die verhoging verdien.
•  Emosionele uitbarsting. Veral vroue is geneig om te wys as hulle kwaad, gefrustreerd of seergemaak voel. Skud jou baas se hand, en sê dankie vir die geleentheid. As jy nié ’n verhoging kon beding nie, maak seker hy (of sy) verstaan dat jy oor ’n paar maande wéér hieroor wil gesels. Indien wel, sê altyd dankie.
•  Verleë wees. Moenie dink jou baas het die speelkaarte altyd in sy hand nie. As jy al lank vir die maatskappy werk, waardevolle bydraes gemaak het en spesialisvaardighede het, het jy beslis die mag om te onderhandel in jou twee hande!

Daar het jy dit nou. Hou op wroeg omdat jy oorwerk en onderbetaal voel. Gaan vra vir jou pond vleis met die selfde durf waarmee jy nog altyd jou werk aanpak.

Kommentaar

gesels saam


argief