WEES MAL OOR JOU WERK
Kry die regte balans
2010-06-23Maretha Botes
Kry die regte balans
2010-06-23Maretha Botes
Net toe jy dink balans beteken jy moet ewe veel tyd aan werk, gesin en jouself spandeer, hoor jy dit is eintlik ’n mite. Só ’n toertjie sal die skaal beslis laat kantel en jy sal ongelukkiger voel as ooit, sê Jim Bird, stigter van die Work Life Balance opleidingsinstituut.
Die goeie nuus is dat daar geen ideale balans is nie. Wat vandag vir jou werk, gaan dalk nie môre die ding doen nie. Wat werk vir ’n getroude vrou met kinders, werk weer nie vir ’n enkellopende nie. Hoe moet jy dan maak?
Dit moet lekker wees
Plesier en bevrediging. Dít is die sleutels tot ’n goeie balans. En dit is die enigste manier hoe jy weer passievol sal voel oor wat jy doen, meen Jim. Wanneer laas het jy werklik iets geniet wat jy by die werk gedoen het?
“Met genot bedoel ek nie ‘ha-ha’-plesier nie,” verduidelik Jim. “Ek bedoel daardie tevrede gevoel van trots, liefde, geluk, feesviering – al die elemente van ware lewensvreugde.”
Sommige mense sal onmiddellik sê: “Maar dan moet ek van werk verander, want op die oomblik geniet ek niks nie.” Dit is wat meer as een derde van alle werknemers sê. Hulle werk bied hulle geen bevrediging nie. Volgens navorsing deur die maatskappy Harris Interactive voel net 20% van werknemers werklik passievol oor wat hulle doen.
Miskien het jy so ’n paar jaar gelede jou droomwerk gekry. Aanvanklik het alles voor die wind gegaan, maar die afgelope maande is jou werk net ’n “werk” en alle genot is by die venster uit. In die meeste gevalle is dit egter nie so maklik as pak jou tassie en kry ander werk nie.
Sodra jy ál jou tyd en energie in jou werk insit – soos die meeste mense geneig is om te doen – het jou werk begin om jou lewe oor te neem. Jy kan maklik kwade gevoelens teenoor jou werk ontwikkel, wat later ander aspekte van jou lewe gaan oorskadu.
Maar jy kán weer die vuur aanblaas. “Dit vat twee om te tango!” sê Jim. “Dit hang van jouself af of jy iets in vandag se werk gaan vind om te geniet.”
Werk vs loopbaan
“Ek sê altyd vir mense raak éérs verlief op die loopbaan, dan op die werk,” sê John Mullins, lewensafrigter. Of jy kies om ’n entrepreneur te wees of om die korporatiewe wêreld te betree, dit moet iets wees waarby jy aanklank vind, anders gaan jy altyd bly soek na die “ideale werk”.
Jou werk gee jou ’n kans om jou loopbaan te ervaar. Byvoorbeeld, om te weet hoe dit voel om ’n dokter te wees, moet jy pasiënte sien. Jy gaan ook nie weet hoe dit voel om ’n modeontwerper te wees voor jy nie ’n paar uitrustings gemaak het nie. Volgens John is dit ook makliker om van werk te verander as van loopbaan. Jy gaan dalk vir ’n jaar as teatersuster werk en nie werklik daarvan hou nie. Maar jou loopbaan is verpleging. Ná ’n jaar kry jy ’n pos as verpleegkundige in die kindersaal, en jy is dol daaroor!
My storie
Twee jaar gelede was ek vas oortuig ek het die verkeerde loopbaan gekies. Ek het Biologie vir graad 8- en 9-leerlinge aangebied, maar eintlik geweet musiek is my passie. Dit was ook een van my hoofvakke op kollege. Soggens het ek met ’n swaar hart opgestaan. Tot een oggend wat ek my klaskamerdeur oopgestoot het, dit weer toegetrek het en met ’n missie na die skoolhoof se kantoor toe gestap het. Gelukkig was hy daardie oggend nie by sy lessenaar nie, want ek sou my bedanking daar en dan ingedien het.
Dit het my vir maande gepla dat ek nie meer geniet wat ek doen nie. Dit het my bekommer dat my gebrek aan passie na die leerlinge sou deursyfer en hulle negatief beïnvloed.
Terug in my klas het ek ’n helder oomblik beleef. Ek wou nie die onderwys laat vaar nie, maar ek wou graag my passie vir musiek uitleef.
Ek het besluit om die skoolhoof te vra of ek na-uurse musiekklasse by die skool kon aanbied, teen geen ekstra koste nie, net om te sien of daar belangstelling was. Hy het ingestem. Die belangstelling was só groot dat die hoof besluit het om die volgende jaar musiek as vak by die skool se kurrikulum in te sluit. Ek het natuurlik onmiddellik gespring vir die pos!
Vandag geniet elke oomblik van my werk ... wel, amper! Daar sal natuurlik altyd dingetjies, soos administratiewe take, wees wat nie lekker is om te doen nie. Ek kyk daarby verby en hou vas aan die plesier wat ek uit die groter prentjie put. Elke oggend het ek ’n idee van ’n spesifieke aktiwiteit wat ek wil geniet. Ek is meer produktief by die werk, het meer energie soggens as ek opstaan, én het meer energie om tyd saam met my gesin en vriendinne deur te bring. Toe ek ongelukkig was in my werk, het ek só getap gevoel dat ek nie lus was vir dinge doen saam met ander mense nie. – Vinette du Toit (34), hoërskool-onderwyseres, Durban
My plan
My situasie was van só aard dat ek soggens vroeg moes ry en saans soms laat by die huis gekom het – in Johannesburg se slegte verkeer. Daarom moes ek my kind douvoordag by die dagsorg aflaai en soms na donker eers gaan haal. Partykeer het ek en my man deur die dag net per e-pos en telefoon gekommunikeer. Dié roetine het ons begin vang.
Ek het na my mense verlang. Dit het my werk begin beïnvloed, want ek het gevoel ek offer alles op vir ’n baas wat oor twintig jaar nie daar vir my gaan wees as dit werklik saak maak nie. Ek kon egter nie sommer net ophou werk nie en ook nie onmiddellik ’n ander werk kry nie. Dus moes ek ’n plan maak.
Ek het met my baas oor my frustrasie gaan gesels. Ek het verduidelik wat aan die gebeur is, en dat my produktiwiteit, kreatiwiteit en wíl om te werk kwyn. Ek het voorgestel dat hy my toelaat om skiktyd te werk. Dit sou beteken ek sit my agt uur werk per dag in, maak nie saak watter agt ure nie, solank die werk net gedoen kom.
Vandag kan ek my week beplan volgens my en my gesin se behoeftes. Soms is ek wel al agtuur op kantoor, maar dan geniet ek dit. Ander dae loop ek tweeuur sodat ek na my kind se belange kan omsien. Dit beteken wel dat ek soms werk huis toe neem, maar ten minste voel ek nou tevrede en gelukkig met die wete dat ek op alle gebiede in my lewe kan gee en ontvang. – Lisa Rooi, produkfotograaf, Johannesburg
Kies genot
Doen elke dag 20 minute lank iets waarvan jy hou. Gaan drink voor werk koffie by jou gunstelingkoffiewinkel of glip gou na werk by jou ’n boekwinkel in – net om die vrede te voel! Voor jy by jou huis se voordeur instap, besluit wat dit is wat jy vanaand by die huis wil geniet, en werk daarnatoe wanneer jy die deur oopmaak. Kies ook elke dag by die werk een ding wat jy gaan geniet. En klop jouself op die skouer daarvoor!
Algemene riglyne hoe jy weer plesier in jou werk kan ervaar
• Bly positief. Daar is niks meer dreinerend as negatiwiteit nie. As jy op jou hoede is vir dinge of situasies by die werk wat jou gemoed beïnvloed, kan jy dit probeer vermy of vaardighede aanleer om dit te hanteer.
• Kry perspektief op die situasie en styg uit bo die idee dat niks kan verander nie.
• Wees dankbaar. Waarvoor is jy vandag dankbaar by die werk? Staan ’n rukkie stil by dié lekker gedagte en glimlag! Al is dit net dat jy saam met ’n dierbare kollega middagete kan geniet. Dis iets!
• Probeer iets nuuts. As jy hoor dat jou maatskappy ’n nuwe projek aanpak, bied jou hulp aan. Dit kan jou in aanraking bring met nuwe mense, nuwe vaardighede en jou kreatiwiteit weer voed.
• Doen elke dag iets wat vir jou lekker is – al is dit om ’n roomys gedurende middagete te eet. Geniet dit. En onthou die oomblik.
• Dink weer oor waarom jy in die eerste plek die werk doen wat jy doen. Wat is dit wat aan die begin die posisie vir jou aantreklik gemaak het, en maak weer daardie opgewonde gevoelens in jouself wakker.
• Onthou dat jou werk nie jou lewe is nie. Dit is slegs ’n deel van jou lewe. Jou lewe bestaan uit ander fasette ook – jou familie, vriende en jouself. Gee al die plantjies water op die regte tyd en jy sal in die geheel gelukkig en vervuld voel.
Daar het jy dit. Jy kán mal wees oor jou werk. Nie noodwendig as gevolg van die “werk” wat jy doen nie, maar oor jou ingesteldheid wanneer jy dit doen. Gaan geniet dit!
www.mindtools.com
www.cnn.com
www.johnmullins.co.za
argief
JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6)
Kom ek deel vandag met jou die grootste spaargeheim wat ek ontdek het …ONS ALMAL MAAK FOUTE ...
... maar leer ons daaruit?JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 5)
Gaan op 'n finansiële dieetBEDERFGELD ...
... net vir jou!STAAN OP EN SÊ JOU SÊ!
... en kry só meer respekJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 4)
Die hoofmomente van spaarGEHEIME VAN SUKSESVOLLE VROUE
... en wat sê die lewensafrigter?WAT PRESIES RUK JOU SAK?
Koopverleidings wat pla ...JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 3)
'n Praktiese raamwerkJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 2)
'n nuwe benadering


.jpg)




.jpg)

















