40 HÁÁR SKOENE SPEL SUKSES jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

HÁÁR SKOENE SPEL SUKSES

HÁÁR SKOENE SPEL SUKSES

Lindsay Bennet se sukses geheime

2010-06-18

Wow, my skoene is hot genoeg om op Top Billing te wees!” was my gedagte toe iemand van dié TV-program my ’n paar jaar gelede gebel het. Ek het eers gedink dis dalk een van my vriendinne wat gekskeer, maar toe die dame ’n tweede keer sê wie sy is en dat hulle ’n insetsel oor my handewerk wil maak, was ek in die wolke!

Kyk, dis báie harde werk om jou eie besigheid te hê. Gedurende die eerste paar jaar kan jy nie ’n sent vir jouself vat nie. Alles word net so in die besigheid teruggeploeg. Maar as jy kan vasbyt tot jy deur die groeipyne is, beteken dit jy is ’n sukses.

Ek het destyds uit pure verveling in my meubelwinkel deur ’n tydskrif gesit en blaai. Daar was ’n prentjie van ’n besonderse paar skoene in, en toe dink ek: “A, ek kan dit ook maak.” Ek het materiaal gaan koop en sole by ’n leerwinkel laat maak. My vriendinne was mal oor my skoene en ek moes vir elkeen ’n paar maak. Daarna het ek 100 paar skoene gemaak en in my winkel neergesit – ek wou net die mark toets. Maar binne vier weke was alles verkoop!

Die tekens was duidelik: Ek moes skoene maak! Vandag wéét ek ek doen wat ek nog altyd moes doen, en ek doen dit goed! Elke paar is uniek en kom uit my hart. Toe ek begin skoene maak het, kon ek nie eers ’n naaimasjien gebruik nie. Ek het lesse geneem en stik vandag baie goed, al moet ek dit nou self sê. Ek doen álles self – van materiaal soek, patrone maak en ontwerp tot skakeling met klante – ’n baie belangrike deel van die besigheid, omdat ek presies moet weet wat elke klant se voorkeur is. Dis net die BTW wat ek liewer aan ’n kenner oorlaat.

As jy graag jou hart wil volg en jou stokperdjie ’n besigheid wil maak, hier is my tips:

Jou mark

Toets heel eerste jou mark, soos ek gedoen het deur die skoene in my meubelwinkel te sit en te kyk of daar werklik mense was wat daarvan hou. Ek het ook voorbeelde van my werk na winkels toe gevat en gevra of ek dit daar kon uitstal. Só het nog ’n paar honderd skoene verkoop. Vandag voer ek selfs na Amerika uit!

Jou klante

Tevrede klante wat oor jou produk praat, is jou heel beste advertensie. Elke persoon wat my skoene koop en mal is daaroor, vertel dit vir ’n vriendin en dié kom koop ’n paar. Die vriendinne wat my eerste skoene gedra het, het vir almal wat hulle ken, daarvan vertel. En net deur dit te dra, het mense hulle spontaan op straat gevra: “Waar kry jy daardie mooi skoene?”

Jou geld

Jy moet beslis wéét jy kan dit bekostig om die besigheid te begin. Ek moes R7 000 by my man leen om deur die eerste vyf jaar te kom, masjiene te koop, my personeel te betaal – ek het vyf vroue wat vir my werk – en materiaal en leer te bekostig. Hierna het ek genoeg geld begin maak om my skuld te delg, en myself ook ’n salaris te gee!

Jou geluk

Jy móét gelukkig wees! Jy moenie iets doen net om geld te maak nie. Om meubels te verkoop het my verveel. As tydverdryf het ek elke tydskrif op die mark gelees.

Vandag het ek nie tyd om tydskrifte te lees nie, maar ek geniet elke oomblik van wat ek doen. Al die harde werk was en is beslis steeds die moeite werd!

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]