40 VEILIGE, VINNIGE EN GERIEFLIKE AANLYNKOPIES jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

VEILIGE, VINNIGE EN GERIEFLIKE AANLYNKOPIES

VEILIGE, VINNIGE EN GERIEFLIKE AANLYNKOPIES

Met ’n kliek is die wêreld in jou handpalm

2010-05-17

Die internet het ons lewens verander. Met die druk van 'n knoppie is jy in die wêreld se grootste winkelsentrum met 'n onbeperkte verskeidenheid produkte aan die punte van jou vingers.

Vra maar vir enige vrou wat ’n werk, gesin en dalk ’n krisis of drie moet “juggle”, of sy regtig dan nog tyd het om die week se kruideniers te gaan koop... Sy probeer regtig hard om by alles uit te kom, maar soms is die eise wat aan vrouens gestel word bloot net te veel. Gelukkig laat tegnologie ons nie in die steek nie en kan jy nou in die gemak van jou eie huis kruideniers koop én dalk nog ’n lekker leesboek ook.
Ja, jy gaan kans kry om jou gunsteling boek te lees, want jy gaan soveel meer tyd op hande hê as jy nie hoef te worry oor parkering soek, lang rye by betaalpunte en ongeskikte mense wat stamp en stoot nie.

E-koop is pure plesier

Om jou kruideniers aanlyn te koop is egter nie ’n gevestigde manier van koop nie, maar dit is ’n welkome een. Vra maar vir Jenny du Toit, 50, ’n tuisteskepper van Alberton in Gauteng. Jenny het ’n paar jaar gelede vir die eerste keer haar rys en vleis aanlyn gekoop nadat sy haar voete ernstig beseer het en sy toe nie kon loop nie. “Dit is baie lekker en gemaklik. Ek sal dit egter nie permanent doen nie, maar in noodgevalle is dit gerieflik,” sê sy. Sy meen dat dit nog steeds vir haar lekker is om tussen die rakke rond te loop, maar dat sy gereeld verversings vir spesiale geleenthede, aanlyn bestel. 


Justine Grobler, 35, sê dat sy aanlynkopies gedoen het terwyl sy ’n druk werksprogram gehad het, maar wanneer sy wel tyd tot haar beskikking het, nog steeds die winkels besoek. “Ek sou aangehou het om online inkopies te doen as my lewensomstandighede nie verander het nie. Dis net vinniger,” sê Grobler.


Omdat die internet die vrou se hart só goed ken, weet hulle dat ons ’n neus vir ’n lekker winskopie het. Daarom bied die internet ’n groot verskeidenheid produkte teen gerieflike pryse aan verbruikers. Wat ook voordelig is, is dat jy spesialiteitsprodukte blitsvinnig op die internet kan opspoor sonder om te sukkel en liters petrol uit te ry.
Annestine van der Merwe, 41, ’n kunstenaar van Nelspruit, het gevind dat sy krale en borduurontwerpe, oombliklik oor die internet kan bekom. “Die krale was byna halfprys in vergelyking met krale wat dieselfde winkel verkoop. Dit is die volgende dag afgelewer en ek kry altyd wat ek soek. Borduurontwerpe kan jy van die internet aflaai minute nadat jy ’n betaling gedoen het,” sê sy.

Veiligheid kom eerste

Maar as aanlynkopies dan só gerieflik en vinnig is, hoekom is vrouens dan so sku om dit te doen? Dit wil blyk of veiligheid die grootste probleem is.
Janine Rudling, 31, ’n persoonlike assistent het nádat sy boeke aanlyn gekoop het, ’n oproep van haar bank gekry om navraag te doen oor verdagte aktiwiteite op haar kredietkaartrekening uit Amerika. Dit het geblyk dat skelms haar persoonlike inligting bekom het.


“Ek is nou versigtiger oor die webblaaie wat ek gebruik,” sê Rudling. Annestine sê dat sy nog nie probleme ervaar het met haar aanlynkopies nie, maar dat sy nog steeds versigtig is om haar persoonlik inligting die kuberruimte in te stuur.
Mense moet egter besef dat jy net só versigting as wat jy in die mall is met jou persoonlike besittings ook moet wees as jy aanlyn koop. Aanlynkopies moet vir jou lekker wees en jy moet veilig voel en daarom word jy nie aan jou eie genade oorgelaat nie. Deur net ’n paar eenvoudige dinge na te gaan voordat jy begin shop kan jy ure se genot hê. Jou grootste bekommernis sal nie veiligheid wees nie, maar eerder hoé jy jou man se kredietkaart in die hande gaan kry.

HIER IS ’N PAAR WENKE VIR VEILIGE INKOPIES OP DIE INTERNET:

•    Op ’n webblad wat beveilig (secure) is sal daar ’n prentjie van ’n geslote slot of ’n heel sleutel in die onder regterkantste hoek van jou internet snuffelaar (browser) verskyn. As daar ’n prentjie van ’n oop slot of ’n gebroke sleutel is, dan is die webblad nie beveilig nie.


•    ’n Webblad wat beveilig is behoort ’n “privacy policy” gedeelte te hê. Ander terme wat dalk ook gebruik word vir dieselfde begrip is “terms & conditions” of “legal terms.” Wanneer jy dié gedeelte gaan lees moet die webblad sê watter inligting wat jy aan hulle bekendmaak hulle gaan gebruik, hoe die inligting gebruik gaan word, en die opsie vir jou gee om te “opt out” (om enige tyd jou inligting en betrokkenheid by die webblad te onttrek).


•    Sekere webblaaie vertoon die Thawte logo en sal sê: “Secured by thawte.” Dit beteken dat die webblad enige inligting wat jy verskaf skommel en onleesbaar maak voordat dit deur die internet gestuur word.

•    Dit is ook belangrik dat jy nie enige vertroulike inligting via e-pos stuur aan iemand nie, veral nie volgens skakels wat jy per e-pos ontvang het nie. Besoek liewer die webblad self.

•    Kyk op die webblad of daar ’n adres en ’n telefoonnommer is. As jy dalk op nie heeltemal gemaklik is om produkte op die web te bestel nie, kan jy dalk jou bestelling oor die telefoon plaas.

Daar is ’n paar Suid-Afrikaanse webblaaie wat ’n goeie reputasie het en wat as veilig beskou word:

PICK ’N PAY: ’n Goeie webblad vir kruideniersware – www.pnponline.co.za.
WOOLWORTHS: Nog ’n lekker webblad vir kruideniersware – www.woolworths.co.za
BID-OR-BUY: Dié webblad bied die geleentheid om tweedehandse goedere aanlyn op veiling te sit en ook te bie op tweedehandse en in sommige gevalle, nuwe eiendom – www.bidorbuy.co.za
NETFLORIST: Om blomme en ander verskeie geskenke te laat aflewer aan iemand, is dié webblad betroubaar – www.netflorist.co.za
COMPUTICKET: Vir enige kaartjies na konserte, teaterproduksies, kunstefeeste en sportgeleenthede is Computicket ’n veilige opsie – www.computicket.co.za

Maak nie saak of jy nou elke dag in die kuber malls jou inkopies doen of dalk by jou naaste inkopiesentrum nie, tegnologie stel jou in staat om produkte en dienste te bekom op ’n vinnige, maklike wyse. Só word kuberslim en hou die deur oop. Jy mag dalk nie daagliks jou inkopies aanlyn doen nie, maar dit mag jou dalk net help wanneer dinge bietjie rof gaan en die tyd druk. 


Liesl du Toit




argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]