40 GELD GROEI ... ORAL! jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

GELD GROEI ... ORAL!

GELD GROEI ... ORAL!

Maak ’n plan en kom uit die rooi!

2010-02-25Helen Ueckermann

Wie sal nou nee sê vir ekstra kontant? Sal dit nie lekker wees om in die vervolg jou beursie met ’n bietjie meer selfvertroue oop te maak nie? Wel, jy kan! Amper enigiemand kan ’n plan beraam om meer geld te maak, sonder té veel moeite.

Miskien sit die volgende idees jou gedagtes aan die gang:

1.    HET JY ’N EKSTRA BED?

Internasionale sokker is groot hierdie jaar in Suid-Afrika, en dit is nog nie te laat om geld daaruit te maak nie. As jy in een van die groot sentrums woon waar sokkerwedstryde gespeel word en waar plaaslike en oorsese besoekers op soek gaan wees na huisvesting met bed en ontbyt, kan jy dalk ’n kamer in jou huis daaraan afstaan. Die sentrums is Johannesburg, Kaapstad, Durban, Port Elizabeth, Pretoria, Bloemfontein, Polokwane, Nelspruit en Rustenburg.

Jy kan dit selfs op die internet adverteer, solank jy net nie gebruik maak van amptelike 2010-handelsmerke nie, soos byvoorbeeld die woorde: wêreldbekersokkertoernooi, 2010, sokkerballe, en so meer. As jy dit nie self wil doen nie, gebruik ’n besigheid wat eiendomsverhuring doen. Hulle vorder vir jou die huurders se betalings in, en maak ook seker dat hulle kredietwaardig is.

Vir keurige huisvesting met bed en ontbyt is oorsese besoekers bereid om R600 en meer per nag te betaal.
Hoekom verhuur jy nie sommer permanent ’n kamer in of aan jou huis uit nie? Daar is hope studente of ’n jong werkende, enkellopende mense wat eers op hul voete wil kom voordat hulle hul eie woonstel of huis kry. Jou plaaslike verhuringsmaatskappye sal vir jou ’n idee kan gee wat jy daarvoor kan vra.

2. STOF JOU TALENTE AF!

Ons het almal iets waarmee ons goed is. As jy op skool of universiteit kuns as vak geneem het, rig jou motorhuis of ’n buitekamer in as ’n studio waar jy vir ander kan leer hoe om hul talent uit te leef. Doen dit na ure, soos saans of op Saterdagoggende. Jy kan tussen R100 en R150 per uur per persoon vra. Daar is altyd mense wat ’n stokperdjie wil begin, soos pottebakkery, houtkoolsketse, waterverftegnieke, mosaïekwerk, ens.

As jy in die kombuis koning kraai, sluit by ’n tuisnywerheid aan. Of gaan kook vir mense by hulle huise as hulle onthaal ... Soms soek hulle selfs ’n braaier, sodat hulle net kan kuier en eet.
Jy kan ook so van Augustusmaand se kant af vrugtekoek vir Kersfees bak. Sny dit in kleiner stukke of hou dit heel en verpak dit in mooi sellofaan. Draai rooi-en-groen lint daarom en bemark dit aan familie en vriende. Jy sal verbaas wees hoeveel bestellings jy kan kry!

Met naskoolse opleiding in tale of wiskunde en wetenskap, oorweeg dit om ekstra klasse aan leerlinge te gee. Jy kan in die omgewing van R100 per uur per leerling vra.

3. VERKOOP UIT!

Wie het nie onnodige, maar nog heel bruikbare goed in die huis nie? Daardie wit olifante wat jy eens so graag wou hê, maar wat nou eintlik in jou pad is of in die motorhuis gestoor word? Die klere wat jou kaste vol hang, maar wat niemand meer dra nie, skoene wat jou druk, maar wat verder niks makeer nie, matte, gordyne ...

Maak bymekaar en sit pryse op. Adverteer in jou omgewing dat jy een Saterdagoggend ’n garageverkoping gaan hou. Vir veiligheid moet jy liewer nie alleen wees nie – vra jou man om naby te staan. Dis dalk so ’n sukses dat jy ’n permanente tweedehandse winkel van jou huis af kan bedryf ... Of verkoop iets op die internet op byvoorbeeld www.bidorbuy.co.za, www.shotto.co.za of www.plum.co.za.

4. KRY ’N KLEIN FRANCHISE

Daar heelwat klein besighede wat jy kan oorweeg as jy op ’n meer formele manier deeltyds ’n besigheid wil bedryf. Voorbeelde hiervan is Walk/Run for Life wat vroeg in die oggend of laat in die middag bedryf word. So, dit sal nie met jou werksure inmeng nie en jy kan steeds ekstra geld verdien. Dalk verkies jy eerder gesondheidsprodukte, parfuum of skoonheidsprodukte.

Juwele is ook nogal ’n oulike manier om jou inkomste aan te vul. Vir meer inligting kan jy gerus gaan kyk by www.miglio.com of by www.runwalkforlife.co.za.

5. WAAR GLIP JOU GELD HEEN?

Dit sal nie eintlik help jy verdien meer geld, maar dit verdwyn weer ongesiens uit jou beursie uit nie! Jy móét weet wat in jou persoonlike geldsake aangaan. Iemand het eenkeer gesê: “As jy na jou kleingeld omsien, sal jou groot geld na hulself kyk.” Moet nou net nie penny wise en pound foolish wees nie! Hou vir ’n rukkie boek van die dinge wat jy met jou geld doen. Skryf byvoorbeeld neer hoeveel keer jy weekliks koffiewinkels besoek, of etes by die werk se kafeteria koop, en wat dit jou kos. Nogal duur, nè? Geen wonder jy het nooit meer iets in jou beursie nie – die koffiewinkel sluk al jou spaargeld in!

Hoe kan jy spaar? Vat eerder jou eie etes werk toe. Dalk kan jy in die aande ’n klein bietjie ekstra kook en dit dan die volgende dag saamneem. As jy jou koffiedrinkery met die helfte verminder, sal jy sommer baie geld spaar. En jy kan darem nog so nou en dan saam met jou vriendinne by jou gunstelingkoffiewinkel ontspan.

Dink mooi oor jou uitgawes. Mors jy dalk onnodig te veel geld op jou internet-subskripsie of by die wynklub waaraan jy behoort? Jy kan baie spaar as jy eerlik is!



argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]