BLAAS JOU BONUS SÓ!
Wenke om die meeste van jou 13de tjek te maak.
2009-12-22Helen Ueckermann
Wenke om die meeste van jou 13de tjek te maak.
2009-12-22Helen Ueckermann
DINK VOOR JY DOEN
Die einde van die jaar is hier en daarmee saam (vir die gelukkiges onder ons!) ook daardie wonderlike jaarlikse gebeurtenis: die bonus of dertiende tjek.
Met ’n bietjie beplanning kan jy verseker dat jy nie jou eie grootste vyand word nie. Ons almal weet tog hoe dit gaan. As jy R100 in jou sak het aan die begin van die week, koop jy hier ’n koeldrank en daar ’n oogpotlood en voor jy weet, is daar niks van jou blou noot oor nie.
Dieselfde kan met jou bonus gebeur as jy sake nie deurdink nie en lukraak begin geld blaas.
Al sien jy dalk jou bonus as ’n meevaller, beteken dit nie dat dit minder werd is of dat die opbrengs minder gaan wees as jy dit slim aanwend nie.
Dit sal vir almal heerlik wees om op ’n duur vakansie na ’n eksotiese bestemming te vertrek, en jy kan gerus jou bonus daarvoor gebruik ... ás jy weet dat jou finansies in orde is, sê kenners.
Soms is dit beter om jouself te beloon met wyse besluite pleks van onmiddellike plesiertjies, veral deesdae waar soveel mense sukkel om met hul geld uit te kom – laat staan nog van skuld af te betaal!
Sunel Veldtman, direkteur van Barnard Jacobs Mellet Wealth, sê daar is niks mee verkeerd om jouself te bederf ná ’n jaar se harde werk nie. Dit wat oorbly (en dit behoort die grootste deel te wees!) moet jy egter wys gebruik. “Koop gerus iets waarmee jy jou sukses en harde werk kan vier soos ’n duur bottel parfuum, sjampanje of ’n uitspattige paar skoene! Dit is belangrik om terug te kyk en jouself nou en dan op die skouer te klop.
“Ek het ’n paar jaar gelede die eerste keer vir myself ’n horlosie gekoop. Ek het besef dat ek nog nooit myself erken het vir my harde werk en sukses nie. Dit was vir my ’n baie belangrike stap om te besef dat ek myself mag beloon.”
Carl Fischer, uitvoerende hoof van bemarking en korporatiewe sake by Capitec Bank, stem saam dat jy gerus jouself ’n bietjie kan bederf. “Dit hang af van hoe hard jou geldverpligtinge druk. Wat sien jy op die horison? Gaan dinge beter word vir jou? Besluit dan op grond daarvan hoeveel van jou bonus jy wil gebruik vir bederf,” sê hy.
SUNEL EN CARL SE TOPWENKE:
1. Betaal jou skuld af. Om skuldvry te wees maak jou vry. Jy gaan onmiddellik elke maand meer geld in jou sak hê. Boonop gaan jy ook ontslae wees van al daai rente wat jy sou betaal het op die uitstaande bedrae. Jy slaan dus sommer twee vlieë met een klap. As jy besluit om jou skuld af te betaal moet jy daarná twee dinge doen: bly in die toekoms uit die skuld uit en probeer om die bedrag wat jy nou elke maand beskikbaar het, te belê.
2. Huis, paleis, pandok? Dok op! As jy bereid is om dit nou te doen, sal dit jou leningstermyn aansienlik verkort, afhangende van hoe groot jou bonus is, wat die heersende rentekoers is en hoeveel op jou huisverband uitstaande is.
Kyk na die volgende voorbeeld: Sê nou maar jou besteebare bonus is R10 000, en jy het ’n verband van R500 000 teen ’n rentekoers van 10,5% en ’n maandelikse paaiement van R5 000 oor die volgende twintig jaar. Betaal daardie R10 000 in jou huisverband in, en jy hoef onmiddellik 13 maande minder af te betaal. Maal die 13 maande met jou huispaaiement van R5 000: Jy spaar R65 000 se paaiemente deur daardie enkele betaling te maak!
3. Groei jou geld. Geld groei nie op jou rug nie en ook nie aan bome nie, maar as jy R10 000 oor tien jaar belê teen ’n opbrengs van 8%, sit dit uiteindelik R21 589 in jou sak. Belê jy die geld oor 20 jaar teen ’n opbrengs van 10%, word jy beloon met ’n stewige R67 275. Doen jy dieselfde oor 30 jaar teen 10% kan jy spog met R452 593, en oor 40 jaar teen 12% met R930 510. Dit is die opgehoopte uitwerking van rente op rente waaruit jy hier voordeel trek. En dit kan duidelik ’n aansienlike verskil aan jou aftree-neseier maak. Gaan sien gerus jou bank of ’n finansiële kundige om jou hiermee te help.
4. Knap op, kap op en maak wins. Daardie vrot visdam wat ’n bedding vol rose word, die nuwe patio, ekstra slaapkamer, nuwe kombuis of vars laag verf beteken dat jy jou geld uitgee op iets wat jy deur die jaar kan geniet terwyl jy ook waarde tot jou huis toevoeg – iets wat later weer geld in jou sak kan sit as jy dalk die eiendom wil verkoop.
5. Begrawe jou skatte. Kan jy jou indink hoe gerus jy sal slaap as jy weet dat daar genoeg geld weggesit (diep genoeg “begrawe” in ’n bankrekening waar jy dit nie kan gaps vir skoene nie) is om te betaal vir jou motor wat breek, of ’n vliegtuig te kan haal as jou ma, wat aan die ander kant van die land bly, skielik siek word?
6. Maak net een nuwejaarsvoorneme. Veral as jy kleingoed het, is daar baie uitgawes om mee rekening te hou, soos skoolgeld, nuwe uniforms, skoolboeke en sporttoerusting.
Dit is heerlik om jou bonus te kry, maar dink mooi voor jy dit blaas. Jy wil nie later spyt wees nie.
argief
JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6)
Kom ek deel vandag met jou die grootste spaargeheim wat ek ontdek het …ONS ALMAL MAAK FOUTE ...
... maar leer ons daaruit?JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 5)
Gaan op 'n finansiële dieetBEDERFGELD ...
... net vir jou!STAAN OP EN SÊ JOU SÊ!
... en kry só meer respekJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 4)
Die hoofmomente van spaarGEHEIME VAN SUKSESVOLLE VROUE
... en wat sê die lewensafrigter?WAT PRESIES RUK JOU SAK?
Koopverleidings wat pla ...JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 3)
'n Praktiese raamwerkJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 2)
'n nuwe benadering


.jpg)




.jpg)

















