SES SLINKSE GELDVRETERS
Waarheen gaan al jou geld heen?
2009-10-16Helen Ueckermann
Waarheen gaan al jou geld heen?
2009-10-16Helen Ueckermann
Keer dat jou geld verdwyn
Wens jy ook jy het in die middel van die wêreldwye resessie ’n paar ekstra rand in jou sak gehad? Kom ons kyk ’n bietjie wat is mense se grootste geldmorsgewoontes en hoe jy dit vir jouself beter kan maak. Dit kan dalk net help om te keer dat die kosbare geldjies so vinnig verdwyn …
Geldvreter mot #1: GEEN BEGROTING
Om nie te begroot nie is vyand nommer 1! Mense wat begroot, leef elke maand volgens hul eie klein geldplan. Hulle weet hoeveel geld hulle inkry, maar ook hoeveel hulle uitgee, en meer belangrik, hoeveel hulle het om uit te gee.
As jy nie begroot nie, het jy geen idee waarheen jou geld verdwyn nie. Mense is geneig om sommer gou ’n paar sommetjies in hul koppe te maak. Die probleem hiermee is egter dat jy ’n week later nie kan onthou wat jy bereken het nie. En wat van al die klein bedraggies wat jy by die OTM getrek het en reeds van vergeet het? Dié uitgawes is soos ’n emmer wat stadig lek, en voor jy jou oë uitvee, is dit leeg.
Jy mag dalk verras wees oor wat jy alles te wete kan kom deur te begin begroot: soos hoe om jou geld te rek of te spaar vir iets wat jy graag wil hê.
Geldvreter mot #2: ONNODIGE WAARBORGE
Of jy ’n kar koop of ’n wasmasjien, daar is altyd ’n ywerige verkoopspersoon wat vir jou die onmisbaarheid van ’n verlengde waarborg verduidelik. Dit kos soms tot 50% van die koopprys, veral op kleiner items. Dit maak groot geld vir die winkel, maar hoe help dit jou?
Koop eerder ’n produk van hoë kwaliteit en van ’n betroubare handelsmerk. As jy dit mooi oppas, is die kans dat dit binne die waarborgtydperk gaan breek byna nul.
Geldvreter mot #3: DUUR KLUBLIDMAATSKAP
Wil jy regtig die boeke hê wat jy gereeld volgens kontrak by die boekklub moet bestel? Gaan jy nog gym toe en het jy werklik al daardie wynklub se treffers nodig?
Indien nie, gaan tel ’n bietjie op wat dit jou elke maand kos. Indien jy wel daarvan gebruik maak, werk uit of dit jou nie goedkoper sal uitwerk om dit sommer saam met jou kruideniersware te koop nie. Dan spaar jy sommer op die afleweringskoste ook.
Geldvreter mot #4: ONNODIGE LUUKSES
Hieronder tel al daardie lekker dinge: om jou kar te laat was, gereeld uit te eet, middagversnaperinge by die werk, gebottelde water, wegneemkoffies, middagetes in die kafeteria, rook … En natuurlik die koop van klaar voorbereide etes, persoonlike afrigters en kitskos.
Dit maak ’n mens skoon uitasem as jy aan al die moontlikhede dink, maar een ding is duidelik: Hier kan jy nou lekker spaar! Kom ons doen ’n sommetjie of twee. Jou man is ’n roker wat twintig sigarette per dag deurdraf. Teen R25 per pakkie beteken dit dat hy oor die tydperk van ’n jaar R9 125 bestee, en oor ’n leeftyd van 50 jaar R456 250!
Om jou kar binne en buite te laat was kos by sommige plekke in Johannesburg ’n stewige R55. Doen jy dit een keer per week, kos dit jou R2 860 per jaar. Drink twee cappuccino’s per week teen R15 elk en dit kos jou R1 560 per jaar. Dit laat ’n mens met ’n heel ander oog na jou plat beursie kyk!
As jy toegang tot ’n tuinslang het, is dit maklik genoeg om jou eie kar te was; as jy oefening nodig het, gaan stap saam met jou vriendinne voor of na werk ’n kilometer of twee; en as jy nie sonder jou koffie kan klaarkom nie, hou ’n houer kwaliteit-koffie in jou lessenaar se laai.
Geldvreter mot #5: MEGA MOTORS
In Suid-Afrika is jou motor nou maar eenmaal ’n statussimbool wat wys tot watter mate jy sukses behaal. Dus is dit vir die meeste mense moeilike om af te skaal en ’n kleiner model aan te skaf.
Terwyl jy op jou tande kners oor die besluit, is daar tog heelwat maniere waarop jy kan keer dat geld vermors word.
Beplan jou ritte beter sodat jy verskeie take met een rit kan afhandel. Ry byvoorbeeld in een rit na die skool, die supermark en die kinders se na-uurse aktiwiteite toe.
Stig ’n saamryklub sodat jy net een keer per week met jou eie voertuig hoef werk toe te ry. Maak ook seker dat jou motor teen sy markwaarde verseker is. As jou kar al ’n paar jaar gelede gekoop is, het die waarde beslis afgeneem en moet die versekering aangepas word.
Geldvreter mot #6: IMPULSIEWE AANKOPE
Hieronder tel alles wat jy koop omdat die gier jou onverhoeds tref. Dit beteken jy het te veel kontant in jou beursie, en jou debiet- en kredietkaart word te maklik uitgehaal.
Hoeveel wit olifante staan in jou huis? Daardie tweestuk-pakkie en bypassende skoene wat op die uitverkoping na so ’n winskopie gelyk het, maar wat jy nog nooit aangetrek het nie? Die broodmaker wat jou so lus gemaak het vir ’n vars snytjie as jy soggens opstaan?
Gee jouself 24 uur kans om na te dink voor jy koop. As jy dan steeds dink dit is ’n goeie idee, is jy waarskynlik reg. Maar miskien besef jy, as jy daaroor geslaap het, dat dit eintlik net ’n mors van kosbare geld is.
- goeie wenke dankie veral no 6
- Haai ja, dis almal goeie wenke en die een waar jou motor verseker is en hy is al 10jaar oud maar jy betaal 'n fortuin vir die kar !
argief
JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 5)
Gaan op 'n finansiële dieetBEDERFGELD ...
... net vir jou!STAAN OP EN SÊ JOU SÊ!
... en kry só meer respekJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 4)
Die hoofmomente van spaarGEHEIME VAN SUKSESVOLLE VROUE
... en wat sê die lewensafrigter?WAT PRESIES RUK JOU SAK?
Koopverleidings wat pla ...JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 3)
'n Praktiese raamwerkJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 2)
'n nuwe benaderingBESTUUR JOU FINANSIES
Hou hierdie geldgewoontes in gedagteJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN!
Daar is nie 'n beter tyd om te begin spaar as juis nou nie.























