40 HOKAAI! jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

HOKAAI!

HOKAAI!

Haastige hond verbrand sy mond, lui die spreekwoord. En deesdae is sulke “honde” oral te sien nadat hulle gretig gebyt het aan die buitensporige beloftes van swendelaars met hulle bedenklike “beleggingskemas”.

2009-04-09Helen Ueckermann

Dit is veral wanneer dit met die ekonomie goed gaan dat swendelary floreer omdat mense dan geneig is om meer waaghalsig te raak met hulle geld in die hoop om dit vinnig te vermeerder, sê Russel Michaels, woordvoerder van die Raad op Finansiële Dienste.

In die afgelope maande het twee sulke skemas, Fidentia en Money Skills, groot blootstelling in die media gekry oor die manier waarop hulle sake gedoen het. Uiteindelik is hulle deur die Departement van Handel en Nywerheid ondersoek en gedwing om hulle deure te sluit.

Duisende mense se swaarverdiende geld is in gevaar gestel deur beloftes wat onmoontlik was om na te kom, terwyl die persone wat aan die hoof van skemas gestaan het, na bewering in weelde geleef het.

In die geval van Money Skills is opbrengste van 2% per maand, oftewel ’n buitengewoon hoë 24% per jaar belowe, iets wat die maatskappy nie sou kon volhou nie. Die maatskappy se bates is intussen gevries en die geskatte meer as 400 beleggers wat elk meer as R100 000 in die skema belê het, kan maar net wag dat hulle (hopelik) iets van daardie geld gaan terugkry.

Hoe weet ’n mens egter wie is daarop uit om jou met mooi woorde om die bos te lei en wie jou aan ’n eerlike belegging wil bekendstel?

As die volgende tegnieke gebruik word om jou te oorreed om in ’n skema te belê, moet jou nekhare begin rys, sê Russel:

  • Daar word druk uitgeoefen om jou te laat inkoop: Die persoon wil nie jou weiering aanvaar nie en jy sukkel om van hom ontslae te raak. Ander laat jou skuldig voel omdat hulle so gaaf is en jy dan sleg voel om hulle in die steek te laat. Onthou egter dat dit jou geld is en jy is wat die besluit moet neem; moet jou nie daarin laat dwing nie.

 

  • Daar word aangedring dat jy onmiddellik besluit: Stellings soos: “Daar is nog net ’n paar geleenthede oor”, “Jy gaan ’n groot winsgeleentheid misloop” of “die aanbod gaan nou enige tyd verval” moet jou lont laat ruik. Enige iets wat vandag ’n goeie aanbod is, sal môre nog net so ’n goeie geleentheid wees. Die swendelaar is haastig sodat jy nie te diep daaroor kan nadink of ondersoek na hom kan instel nie.

  • Daar word beloftes van groot winste gemaak: Dis net groot genoeg om jou belangstelling te prikkel. Die oudste raad is hier steeds die beste, sê Russel: As dit te goed klink om waar te wees, ís dit waarskynlik. Russel sê as iemand aansienlik hoër opbrengste as ander in dieselfde beleggingsomgewing bied, is daar net twee verduidelikings: Jou geld gaan in hoërisiko-, hoë-opbrengs-projekte belê word met ’n baie goeie kans dat jy alles gaan verloor, of die persoon wat die belegging bemark, is van plan om die land binnekort permanent te verlaat.

  • Daar word beloftes gemaak van min of geen risiko: Swendelaars word dikwels ongeduldig as jy oor die risiko van die belegging uitvra. Onthou dat alle beleggings ’n sekere mate van risiko inhou, en dat jy geregtig is daarop om presies oor daardie risiko ingelig te wees.


Voordat jy ’n besluit neem, stel vas of die handelsmisdaadtak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Verbruikersinstituut, die Verbruikersraad of die Raad op Finansiële Dienste klagtes oor die bemarker of die beleggingsproduk of enige iets wat daarmee te doen het, gekry het.

Peper die bemarker van die skema met vrae soos:

  • Kan jy die skema aan my prokureur, rekenmeester, finansiële raadgewer of bankier verduidelik?
  • Watter finansiële produkte is jy gemagtig om te verkoop?
  • Wat sal die totale koste van die belegging wees (ingesluit kommissie vir agente en bestuurskoste)?
  • Hoe en waar sal ek die kwotasie kan laat verifieer? Hoe en wanneer kan ek die belegging onttrek?
  • Waar het jy my naam gekry?
  • Wie is jou organisasie se bestuurders en hoofde?
  • Hoe vinnig kan ek my geld kry as ek ’n wins maak en hoe vinnig kan ek onttrek aan die skema as ek verliese ly?

Die bemarker moet ook ’n prospektus en geouditeerde finansiële state kan verskaf en die beleggingsvoorstel op skrif kan stel.

’n Eerbare bemarker sal jou aanmoedig om vrae te vra, om soveel uit te vind as wat jy wil en om gemaklik te voel met jou belegging. Hy sal jou ook nie druk om ’n besluit te neem nie.

Onthou dat niks so dringend is dat dit nie ’n paar dae kan wag nie, veral nie as daar ’n kans bestaan dat jy al jou geld kan verloor nie. Gesels eers met ander mense, soos jou makelaar of finansiële adviseur, oor die voorgenome belegging.

Krediet aankope

  • Dit is altyd beter om kontant te koop omdat die transaksie onmiddellik afgehandel is en dit jou nie rente uit die sak jaag nie. As jy egter nie anders kan nie, is dit goed om te weet dat jy sekere regte het as jy aankope op krediet doen.

  • Die kontrak moet aan jou verduidelik word in ’n taal wat jy verstaan en alle nodige inligting moet openbaar gemaak word.

  • Die kredietverlener moet alle besonderhede oor gelde en koste, asook jou regte en verantwoordelikhede, rente, saamgestelde rente en die finale koste uiteensit.
  • Baie handelaars is bereid om goedere om te ruil; maak dus seker dat jy die kwitansies bewaar as bewys van jou aankoop. Stel eers vas wat die handelaar se beleid oor die omruil van goedere is of om jou geld terug te gee as jy iets wil terugbring.

As dinge verkeerd loop:

  • As ’n finansiële instelling ’n kredietkaart aan jou uitreik waarvoor jy nie gevra het nie, is dit jou reg om dit terug te stuur. Hulle mag geen koste van jou verhaal nie.
  • Hou rekord van jou transaksies, gaan jou kredietkaartstate na en meld enige onduidelikhede dadelik aan.
  • As jy sukkel om jou paaiemente te betaal, moenie dit ignoreer nie. Praat met die bank of handelaar aan wie jy die geld skuld om ’n plan te beraam.
  • Hou al jou kwitansies as bewys van aankope wat jy gedoen het ingeval jy aankope na die handelaar moet terugneem.

Bron: Departement van Handel en Nywerheid

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]