WERKE WAT RYK MAAK
As 'n mens dink aan jou loopbaan en wat dit vir jou beteken, is werksbevrediging en selfvervulling hoog op die lys.
2009-04-09Helen Ueckermann
As 'n mens dink aan jou loopbaan en wat dit vir jou beteken, is werksbevrediging en selfvervulling hoog op die lys.
2009-04-09Helen Ueckermann
Tog speel daardie tjek wat jy aan die einde van die maand gaan kry telkens ’n deurslaggewende rol wanneer om werk aansoek gedoen word of as werkverwisseling ter sprake kom.
Al is jy op soek na daardie uitdagende werk waarin jy jouself kan uitleef, is mense selde bereid om dit teen verminderde vergoeding te doen. Op die keper beskou wil jy tog jou opleiding en die geld wat jy daarop bestee het, omskep in ’n loopbaan waarin jy jouself kan vestig en wat goeie vooruitsigte het – anders het jy dalk net jou tyd gemors.
Die gemiddelde Suid-Afrikaanse werker verdien sowat R20 000 per jaar. In teenstelling daarmee het sommige maatskappydirekteure in die kleinhandelsektor, soos dié van Pick ’n Pay, Shoprite en Massmart, in 2004 meer as R10 miljoen verdien.
Dit laat ’n mens wonder: watter beroepe maak van mense Suid-Afrika se topverdieners?
Formele navorsing oor die onderwerp is in 1998 laas gedoen deur die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing en is nou, amper tien jaar later, nie meer relevant nie.
Mnr. Kris Jarzebowski, besturende direkteur van die aanlyn-personeelagentskap CareerJunction, sê egter volgens die poste wat in April en Mei op die agentskap se webwerf geadverteer is, kan projekdirekteurs, ingenieurskonsultante, produkontwikkelaars, finansiële hoofde en tesourierbestuurders gemiddeld tussen R800 000 en R950 000 per jaar in die sak steek.
Voorbeelde van poste wat in dieselfde tydperk op die webwerf geadverteer is met ’n vergoeding van meer as R1 miljoen per jaar het ingesluit ’n verskeidenheid direkteurskappe, uitvoerende hoofde en hoofbestuurders, sê hy.
Maatskappydirekteur
In 2004 was die gemiddelde vergoeding van maatskappydirekteure in die kleinhandelsektor R3,7 miljoen.
Dit klink dalk buitensporig hoog, maar die ekonomiese realiteit is dat mense met die bestuurstalent om maatskappye tot groot hoogtes te voer, skaars is, meen me. Anne Pratt van Memela Pratt & Associates, ’n agentskap wat uitvoerende personeel identifiseer en plaas.
“Dié talentvolle mense kry gereeld aanbiedings uit die buiteland en deur hulle goed te betaal, kan ons hulle hier hou om ons ekonomie uit te bou. ’n Groot deel van direkteure se vergoeding lê opgesluit in aandeelopsies. Die direkteure wat vandag so goed verdien, het tien jaar gelede, toe die aandele aan hulle uitgereik is, nie veel gehad om oor te glimlag nie omdat dit amper niks werd was nie. Intussen het die mark geswaai en het aandeelpryse die hoogte ingeskiet en daarom is die land se direkteure vandag miljoene werd,” sê sy.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat ’n direkteur se aanspreeklikheid geweldig hoog is. Hulle word byvoorbeeld in hul private hoedanigheid getakseer en aanspreeklik gehou vir verliese wat die maatskappy ly.
Soos per geleentheid by ’n aandeelhouersvergadering van Pick ’n Pay opgemerk is: ’n direkteur wat ’n maatskappy se aandeelprys in twee jaar kan verdubbel, verdien elke sent wat hy kry!
Stelselargitek
Mense in die inligtingstegnologiebedryf verdien in die algemeen meer as in ander bedrywe, sê mnr. Org Geldenhuys, besturende direkteur van Abacus Recruitment.
Die hoogsbetaalde mense in dié veld is inligtingstegnologiehoofde by groot bankgroepe, meen hy.
“Hulle kan sowat R1,5 miljoen tot R2 miljoen per jaar verdien. Dit is egter mense wat tegnies briljant is. Hulle begryp die argitektuur van reuse-stelsels en kan dit doeltreffend integreer. Hulle laat as’t ware verskillende stelsels met mekaar gesels,” sê Org.
“Stelselargitekte is dikwels mense met ’n B.Sc.- of B.Ing.-graad wat geleidelik by die IT-omgewing betrokke geraak het en bykomende kwalifikasies verwerf en ondervinding as stelselanaliste opgedoen het.
“Dit kom neer op ’n akkumulasie van 15 tot 20 jaar se ondervinding en kennis opdoen in ’n IT-omgewing gepaard met deeglike loopbaanbeplanning,” sê Org.
Geoktrooieerde rekenmeester
Wat ’n geoktrooieerde rekenmeester jaarliks in haar sak steek, hang nie net af van haar vlak van opleiding nie, maar ook van waar sy werk en die aard van haar verantwoordelikhede, sê me. René van Wyk, hoof van finansiëledienstepraktyk van die personeelagentskap Leaders Unlimited/Korn Ferry International.
Amper ’n kwart van die direkteure van die top 100 maatskappye wat op die Johannesburg Stock Exchange genoteer is, is geoktrooieerde rekenmeesters. Hulle speel met hul analitiese denke en deeglike kennis van finansiële prosesse ’n deurslaggewende rol in die land se ekonomie en word in die regte omgewing uitstekend betaal.
“Dit is moeilik om vas te stel wat die top-salarisse beloop, maar ’n pas gekwalifiseerde persoon met vier jaar se universiteitstudie in ’n B.Com.-rigting agter die rug, plus drie jaar se opleiding terwyl hulle reeds werk, wat ook die eksamen van die Raad vir Geoktrooieerde Rekenmeesters geslaag het, kan in sekere gevalle al R400 000 per jaar verdien.
“As dieselfde persoon dan ’n paar jaar se ondervinding by haar kwalifikasies kan voeg, is dit nie uitgesluit dat sy voor haar dertigste verjaardag tot R600 000 kan verdien nie,” sê René.
“Sou die geoktrooieerde rekenmeester byvoorbeeld ’n toppos by ’n handelsbank beklee en betrokke raak by groot transaksies wat die samesmelting en oorneem van maatskappye behels, kan haar vergoeding aansienlik die hoogte inskiet deurdat bonusse betaalbaar word,” sê sy.
Aktuaris
Aktuarisse is wiskunde-foendi’s en kenners van risiko. Hulle is opgelei om die moontlikheid van toekomstige gebeure te takseer, kreatiewe maniere te vind om die moontlikheid daarvan te verminder en die finansiële uitwerking daarvan tot die minimum te beperk.
Hulle is dikwels die breinkrag agter hoe ons finansiële welsyn beskerm word. Aktuarisse bekyk onder meer hoe versekering die beste kan werk, hoe aftrede beplan moet word en hoe banke jou geld kan veilig hou.
As sleutelspelers in die bestuurspanne van die maatskappye waar hulle werk, word hulle goed betaal.
Volgens ’n Kaapstadse personeelagentskap wat spesialiseer in die plasing van aktuarisse, kan iemand in dié beroep met ’n nagraadse kwalifikasie en drie tot vier jaar ondervinding R450 000 per jaar verdien, en na ses of sewe jaar sowat R650 000.
Met meer as sewe jaar se ondervinding kan ’n suksesvolle top-aktuaris, weer eens afhangende van sekere faktore en waar hulle werk, tot R850 000 per jaar vir haar dienste vra.
Entrepreneur
’n Suksesvolle entrepreneur kan – met of sonder soortgelyke opleiding – maklik soveel verdien soos mense in topposte. Omdat hulle vir hulself werk, is dit nie altyd maklik om syfers aan hulle inkomste te koppel nie.
Onder die meer bekende en hoogs gespesialiseerde gesondheidsberoepe wat dikwels onder die vaandel van entrepreneurskap bedryf word, tel onder meer dié van apteker, dokter en tandarts.
Entrepreneurskap is veel meer as om net jou eie onderneming te bestuur, sê mnr. Brian Walsh, stigterslid van die webwerf http://www.entrepreneur.co.za/www.entrepreneur.co.za.
“Entrepreneurskap gaan daaroor dat jy beheer neem van jou eie lewe en om jou droom te leef. Dit gaan daaroor dat jy volle verantwoordelikheid neem vir die goeie en slegte gevolge van die besluite wat jy neem. Daar is nie ’n vangnet nie, daar is geen salaristjek elke vier weke nie.
“’n Suksesvolle entrepreneur is iemand wat nie bang is om ’n risiko te neem nie, wat kan vasbyt, wat vernuwend kan dink, wat vinnig ’n besluit kan neem en diensooreenkomstig kan optree, wat daarvan hou om probleme op te los en wat ’n onkeerbare begeerte het om te presteer en ’n verskil te maak, sê Brian."
argief
JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6)
Kom ek deel vandag met jou die grootste spaargeheim wat ek ontdek het …ONS ALMAL MAAK FOUTE ...
... maar leer ons daaruit?JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 5)
Gaan op 'n finansiële dieetBEDERFGELD ...
... net vir jou!STAAN OP EN SÊ JOU SÊ!
... en kry só meer respekJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 4)
Die hoofmomente van spaarGEHEIME VAN SUKSESVOLLE VROUE
... en wat sê die lewensafrigter?WAT PRESIES RUK JOU SAK?
Koopverleidings wat pla ...JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 3)
'n Praktiese raamwerkJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 2)
'n nuwe benadering


.jpg)




.jpg)

















