KRUIDJIE-ROER-MY-NIE? NIE EK NIE!
Deur maklik aanstoot te neem, belemmer ons ons eie geestelike groei en stoot sodoende die mense om ons weg.
2012-01-25
Deur maklik aanstoot te neem, belemmer ons ons eie geestelike groei en stoot sodoende die mense om ons weg.
2012-01-25
Ons voel maklik seergemaak as iemand ons nie met takt en liefde behandel nie. Deur maklik aanstoot te neem, belemmer ons ons eie geestelike groei en stoot sodoende die mense om ons weg. Lees hier hoe om dit te voorkom.
Om maklik aanstoot te neem kan jou ’n baie ongelukkige persoon maak. Jý is die een wat op die ou einde die slegste daarvan afkom. Liggeraakte mense word beskou as moeilik om mee oor die weg te kom, of ’n gesprek mee te hê.
In sy boek The Bait of Satan vergelyk John Bevere aanstoot met ’n lokval. “Twee elemente maak ’n lokval vir ’n dier suksesvol: dis weggesteek sodat die dier daaroor struikel en daar is aas wat die dier na die doodskake lok. Aanstoot is een van die misleidendste en sluuste tipes aas van die vyand – ons tel die aas op, verorber dit, voed ons harte daarmee en word dan vasgevang.”
Ek, myself en ... ek?
Volgens John val mense wat aanstoot neem, in twee kategorieë: dié wat regtig sleg behandel is en dié wat dínk hulle is sleg behandel. Baiekeer besef jy nie in watter lokval jy vasgevang is wanneer jy aanstoot neem nie. Wanneer iemand iets sê of doen wat jou laat aanstoot neem, fokus jy op hulle “oortreding”. Jy voel dit is teen jou gemik. Om dadelik op jou perdjie te spring is een van die effektiefste maniere van die vyand om jou te verblind. Wanneer jy voel jy is verontreg, fokus jy so op jouself en jou gevoelens dat jy perspektief kan verloor.
Dis die klein dingetjies ...
“Mense struikel gewoonlik nie oor rotse nie,” sê die skrywer Francis Frangipane. “Jy struikel oor klippe, die betreklike klein dingetjies. Iemand se persoonlikheid kan jou pla of die persoon het ’n irriterende gewoonte. As jy elke keer wanneer iemand nie optree soos jy van hom verwag nie, ontsteld raak, gaan jy net jouself benadeel. Sien die groter prentjie. Dit is nie die moeite werd om elke keer wanneer iemand iets negatiefs sê of doen, aanstoot te neem nie. Jy kry later ’n slegte reputasie as iemand wat liggeraak is.
Mense kan jou nie vervul nie
Baiekeer voldoen mense nie aan ons verwagtings nie. Ons verwag dat mense, eerder as God, ons moet vervul, ons gelukkig moet maak en ons goed moet laat voel oor onsself. As iemand nie kommentaar lewer oor jou nuwe haarstyl nie, neem jy aanstoot en voel asof niemand raaksien nie. Jy voel sleg oor jouself en voel die persoon moes ten minste iets oor jou voorkoms gesê het.
Dit is dieselfde as jy iets vir iemand doen en hulle sê nie dankie nie. Jy voel dadelik verontreg omdat jy soveel moeite vir hulle gedoen het, maar hulle “waardeer” dit nie. Moenie verwag dat ander mense iets in ruil vir jou goedheid moet doen nie. Doen iets omdat jy wil, nie omdat jy moet, iets in ruil verwag of dink hulle moet jou ewig dankbaar wees nie.
Francis sê ons is gemaak om ons sekuriteit in God te vind en nie in mense nie. “Onrealistiese verwagtings sal jou dus altyd onvervuld laat voel. Ons neem dan aanstoot.”
Mure om jou hart
Om jou teen aanstoot te beskerm, bou jy mure om jou. John Bevere reken ons gebruik energie om seker te maak ons kry nie weer seer nie. Sodoende kan niemand jou teleurstel nie. Maar deur dit te doen, sal jy nooit onvoorwaardelike liefde ervaar nie. Jy moet waag om te kan wen.
Joyce Meyer glo ook aanstoot neem is ’n vorm van selfbeskerming. Jy ignoreer dit nie sommer as iemand jou aanstoot gee nie. Hoekom nie? Jy wil nie toelaat dat die persoon dink hy kan jou “so” behandel nie. Hoe moeg sou ons nie aan die einde van elke dag wees as God elke klein dingetjie wat ons verkeerd doen, aan ons moes noem nie? Ons vermoei ons deur boek te hou van die kwaad wat ons voel ander ons aandoen.
Suiwer die lug
As jy aanstoot geneem het oor iets wat iemand anders gedoen of gesê het, is dit beter om dit met die persoon uit te praat. Suiwer die lug, sê Francis. As jy dit nie doen nie, begin jy kort voor lank van die persoon skinder.
John stem saam. “Aanstoot neem verhinder mense om optimaal te funksioneer ten koste van God se doel en roeping vir hulle lewens. Mense wat aanstoot neem, voel seergemaak, hulle begrip word vertroebel en hulle begin mense oordeel op aannames, gesigswaarde en hoorsê.”
Dit steel jou vrede
Joyce beklemtoon dat jou vrede gesteel word wanneer jy aanstoot neem. Jy is dadelik ontsteld en voel persoonlik aangeval en verneder, al was dit glad nie so bedoel nie. Die duiwel gebruik jou liggeraaktheid om te wen. As hy jou een keer so ver gekry het dat jy verhoudings vernietig deur aanstoot te neem, sal hy dit weer en weer doen. Dit word ’n swak plek in jou mondering, want jy stoot mense so weg. Dit versuur jou lewe. Dit kan jou vreugde steel as jy daaroor bly tob. Joyce sê wanneer ons omgekrap is, kan ons nie hoor wat God sê nie. “Ons kan nie deur die Gees gelei word wanneer ons aanstoot geneem het en in ’n gat is nie.”
Ken jou hart
Hoogmoed kan ook veroorsaak dat jy aanstoot neem. Dit weerhou jou daarvan om jou eie hart te ken. Ons wil altyd die beste van onsself by ander hoor. Iemand moet jou paai en mooi dinge vir jou sê. As dit nie gebeur nie, vervies ons ons en neem die ander persoon kwalik.
John sê jy weerhou vergifnis wanneer jy glo jy is onregverdig behandel. Maar net omdat jy glo jy is onregverdig behandel, gee jou nie toestemming om aanstoot te koester nie.
Ons kan nie wegkom van mense met slegte bedoelings, die storms van die lewe of mense wat ons irriteer nie. Ons kan onsself nie altyd teen negatiewe emosies beskerm of verhoed dat ons dit ervaar nie. Wat ons wel kan doen, is om te leer om dit te bestuur, sê Joyce. Ons kan God vertrou om ons genade te gee om heilig op te tree, maak nie saak wat die situasie is nie. Ons kan op aanstoot reageer deur ons vertroue in God te plaas.
argief
HEMELVAART
'n Geskenk van boGELOOF HET NIE 'N HANDVATSEL
'n Stewige vashou aan GodWAT IS IN GOD SE HUIS?
... dalk 'n groot kombuis?GEBEDSHORLOSIE
Deur Liesel Krause-WiidJOU VRESE WEG BINNE 5 DAE
God is in beheer!DIE WONDERWERK BLOG
Onverwags en verstommendBID JY TEEN DIE PLAFON VAS?
Keer op keer besluit jy verkeerd. Of jou planne loop skeef – al het jy daaroor gebid. Waar is God dan?SPOKE VANDAG…
Bestaan spoke regtig of is dit net n mite? Kyk wat sê die kenners.BRING DIE KINDERS NA MY TOE!
“Ja, ek wil by die skool van God leer,” sê Lindsay (Graad 4) wat aanhou inkleur.STERRE LEES OF NIE?
Vrye keuse. Dít is een van die grootste gawes waarmee God ons mensdom geseën het. Maar mag jy sterre raadpleeg?























