MAAK MEER TYD VIR HOM
Is jou lewe ook besig om met jou weg te hardloop?
2011-12-06
Is jou lewe ook besig om met jou weg te hardloop?
2011-12-06
Daar is altyd te veel om te doen, maar net nooit genoeg tyd nie. Ironies genoeg, is daar net een manier om jouself weer terug op koers te kry: Máák meer tyd vir God. Goeie gedagte, dink jy, maar hóé, as te min tyd juis jou groot probleem is! Of is dit?
Baiekeer is ons eintlike probleem nie te min tyd nie, maar eerder die manier waarop ons oor God, tyd en ons besige program dink. Kom, maak ’n paar kopskuiwe en dink nuut oor Sy plek in jou lewe.
Pas jou dagboek by Hom aan: Joyce Meyer vat dit vas wanneer sy sê ons moet ophou om God in ons program te probeer inpas. Dis tyd dat ons andersom werk en ons program rondom God laat pas. Wat sy bedoel, is dat Hy nie iemand is wat jy êrens wanneer jy vyf minute vry het, in jou besige dagboek inprop nie. Hy moet die rede word waarom jy iets doen. Om meer tyd vir Hom te maak beteken dat die dinge wat jy aanpak, nie meer oor die wat sal gaan nie, maar oor die hoe en hoekom. Hoe sal jy jou voorlegging, vergadering of spertyd benader sodat dit aan God die eer bring? (Dis die hoekom.)
Gee jou hele lewe: Die Here het jare gelede vir geestelike motiveringspreker Retah McPherson gesê dat Hy nie net haar hart wil hê nie maar haar hele lewe. “Ek wil een word met jou – Ek wil jou alles wees,” was Sy woorde in haar binneste. Dis ook die verhouding wat Hy met my en jou wil hê. Dit het Retah laat besef dat daar vandag soveel afgode is wat meeding vir ons tyd en aandag dat die eie ek die middelpunt van ons bestaan word (mý tyd, mý behoeftes, mý pyn, mý probleme). “As die eie ek op die troon sit, leef ons vanuit ons sielsdimensie (ons is gees, siel en liggaam), en ons eie behoeftes en begeertes is al wat tel. Dis wanneer jy jou BlackBerry vat en vir tien mense boodskappe stuur wat sê: Bid vir my!, sonder dat jy self op jou knieë val en tot Abba Vader uitroep om jou te help,” sê sy. “Sy plan vir ons was van die begin af om in Hom te leef, en dit beteken deur Hom en tot Hom. Dis dán dat ons tot alles in staat is deur Jesus Christus wat ons die krag gee.”
Hoeveel tyd wil God met jou spandeer? Gospelsanger Louis Brittz sê dít is die eintlike vraag wat ons ons moet afvra. Hy dink ook die meeste Christene skat die antwoord te gering. “Ek stem saam met Philip Yancey as hy skryf dat ons enigiets vir God kan sê – met verskriklike eerlikheid – maar dat ons Hom net nie moet ignoreer nie. As ons glo dat God hier is, en ons spandeer nie tyd met Hom nie, is ons gewoon ongeskik – en Afrikaanse kinders is mos nie só grootgemaak nie. Ek bid en lees die Bybel, soms in die oggend, soms in die nag en soms terwyl ek reis. Dis moeilik in ’n lewe waarin daar nie veel roetine is nie. Dit bly die belangrikste groei-area in my lewe. Ek is so bewus dat Jesus baie gebid het en tyd met sy Vader deurgebring het, en as Hý dit moes doen, hoeveel te meer nie ek ook nie.”
Só maak ons
Lede van Finesse se redaksies en ’n paar lesers deel die praktiese maniere waarop hulle meer spesifieke tyd vir God in hulle besige dag inruim.
Kuier op pad skool toe
“Wanneer ons ons kinders doop, luister ons na die belofte en stem volmondig in om hulle te leer van die Here. Maar ek wonder hoe getrou ons hierdie belofte uitleef wanneer hulle groter word. Bybelstories met kleintyd is maklik, maar wat dan? Dit kan nie die onderwyser se taak word nie! So het ek ook maar geworstel met hierdie dilemma. Ek het nie geweet waar om te begin of watter sake om aan te raak nie. Boonop was daar ‘nooit tyd nie’. Maar toe kry ek ’n blink plan. Dit neem ons ongeveer 20 minute om skool toe te ry. Deesdae lees ek vyfuur soggens gedurende my stiltetyd uit Carpe Diem se Bybeldagboek die stukkie wat spesifiek vir vroue geskryf is. Dan lees ons in die motor op pad skool toe saam die kinders se dagstukkie, wat oor dieselfde teks en tema handel. Dit werk wonderlik, want nou voel ek voorbereid om met hulle te gesels en ons kan die teks saam bespreek.” Venessa, handelsmerkdirekteur
‘Kerk’ in die week
“Ek en my man is albei baie sportief. Gevolglik is ons die meeste naweke weg van die huis af op ’n klim-, stap-, vlieg- of roei-uitstappie. Ons oplossing is om kerk op ’n weeksaand te hou. Ons het ’n vaste afspraak met ’n ander paartjie, waartydens ons na opnames van preke luister. Dit voel soos die huiskerke van Handelinge, omdat ons nie net luister na wat gepreek word nie, maar daaroor praat en vir mekaar bid.” Suzan Laubscher, konseptualiseerder
Bietjie, bietjie maak baie
“Ek plak graag ’n klein gebedslysie op my motor se paneelbord of stuurwiel en gebruik my bestuurtyd as gebedstyd. Of ek luister na ’n preek of oudio-Bybel terwyl ek bestuur. Jy kan teen ’n minimale fooi per maand op www.audible.com registreer. Jy kan ook inteken op ’n SMS- of e-posdiens (soos www.christnotes.org) om elke dag ’n Bybelvers te kry. Of oorweeg dit om iets soos @BibleVerseQuote op Twitter te volg en gereeld ’n teksvers te kry. Dis vinnig om te lees en jy kan vir die res van jou dag op die Bybelvers se diepere betekenis en toepassing in jou lewe fokus. Gaan lees ook vanaand die hele gedeelte rondom die vers in jou Bybel.” Yolandi North, leefstylredakteur
“Musiek is ons geestelike inspuiting”
“Ek maak altyd seker dat daar ’n geestelike musiek-CD soos dié van Hillsong United, Jesus Culture of Jeremy Camp in my kar is. Op pad werk toe of ná afsprake sal ek aandagtig na die lirieke luister en uit my hart uit saamsing om weer te besef waaroor alles eintlik gaan – en dat ek nooit alleen is nie. Dit help my om die aandag van myself af weg te vat en nét op Hom te fokus. Dis soos ’n inspuiting van energie en vreugde wat net God jou kan gee!” Leani Jansen van Vuuren, projekbestuurder
Ek is mal oor musiek en oral waar ek is of gaan, is daar musiek. Praise & Worship-liedjies van Casting Crowns en Micheal W. Smith is my gunstelinge. As ek soms vasbrand met my Bybelstudietyd, is een van hierdie liedjies die perfekte manier om my dag mee te begin of af te sluit. As ek na werk gaan draf, is dit ook hierdie liedjies wat op my iPod speel. Daar is niks wat my so laat ontspan en naby aan God laat voel nie. San-Mari Erasmus, produksiekoördineerder
Daar is talle maniere om meer van God in jou dag te beleef. Maak ’n kopskuif, raak kreatief en gaan vind die unieke manier waarop jy jou dagtake rondom God kan bou. Jy sal soveel groter geestelike rykdom en vervulling beleef.
argief
JESUS IS PERFEK ...
maar ...LIEFDESBRIEF VAN JESUS
Weet jy hoe lief Ek jou het?HEMELVAART
'n Geskenk van boGELOOF HET NIE 'N HANDVATSEL
'n Stewige vashou aan GodWAT IS IN GOD SE HUIS?
... dalk 'n groot kombuis?GEBEDSHORLOSIE
Deur Liesel Krause-WiidJOU VRESE WEG BINNE 5 DAE
God is in beheer!DIE WONDERWERK BLOG
Onverwags en verstommendBID JY TEEN DIE PLAFON VAS?
Keer op keer besluit jy verkeerd. Of jou planne loop skeef – al het jy daaroor gebid. Waar is God dan?SPOKE VANDAG…
Bestaan spoke regtig of is dit net n mite? Kyk wat sê die kenners.


.jpg)




.jpg)

















