38 DIE WAARHEID OOR 2012 jou gees Articles www.voelgoed.co.za

DIE WAARHEID OOR 2012

DIE WAARHEID OOR 2012

Ons het by 12 kenners gaan aanklop vir die antwoorde op ons 12 grootste vrae ...

2011-12-02

Ons beweeg al nader aan 2012 en aan dáárdie datum.  Hoe moet ons dink oor sake soos die wederkoms, die wegraping, die groot verdrukking en hoe die hemel (en hel) gaan lyk? Of hoe “vyf minute ná die dood” vir gelowiges gaan wees en wat die “tekens van die tye” beteken?


Ons het by 12 kenners gaan aanklop vir die antwoorde op ons 12 grootste vrae ...

1.    Is 21/12/12 die einde?

Eintlik leef ons lankal in die “laaste dae”, maar ’n mens kan nie enige afleidings daaruit maak nie. Die Bybel sê Jesus sal so “onverwags soos ’n dief” kom. Niemand ken die datum nie, ook nie die Seun nie, het Jesus self gesê.
“Die tyd tot aan die einde van die wêreld sal deur swaarkry gekenmerk word.” Hierdie tekens is vloeibaar en kan weer en weer voorkom. Aardbewings en oorloë was nog altyd met ons, en daar is altyd vals profete en messiasse wat mense probeer mislei.”
Ons kan nie Jesus se wederkoms dag en datum bepaal nie. Al wat ons hoef te weet, is dat ons Here sal kom as die tyd reg is.  Daarom moet ons elke dag gereed wees.
(Prof. Stephan Joubert)

2.    Hoe reageer ek as Christen?

Baie mense glo die einde van die wêreld moet naby wees omdat ons reeds al hierdie tekens sien. Maar die tekens is al daar so lank as wat die Christendom bestaan.
Jesus sê in Matteus 24 dat ons nie ontsteld moet word wanneer mense ons wil wysmaak dat die einde aangebreek het nie. “Al hierdie tekens moet ons eerder daaraan herinner dat Jesus weer kom, nie wanneer Hy weer kom nie!”
Die belangrikste is dat ons nie ’n prentjie moet sien van vernietiging en doodsbenoude mense nie. Ons moet eerder uitsien na Jesus se koms as die begin van ’n nuwe lewe: ’n bestaan ewig by God.
(Prof. Hennie Stander)

3.    Watter houding moet ek hê?

Pas op vir uiterstes! Jy kan leef asof Jesus eers oor duisende jare weer gaan kom, of jy kan so besig wees om reg te maak dat dit lyk of die wederkoms net afhang van hoe hard jy werk.  
Nog iets om versigtig voor te wees, is pessimisme en optimisme. Pessimiste sal byvoorbeeld verwag dat die wêreld op presies 21 Desember 2012 sal vergaan, en dan die dae na die einde toe benoud aftel. Optimiste sal dink daar is glad nie ’n stryd om te stry nie.
Spes is die Latyn vir “hoop”, en ons hoop tog op die toekoms wat God vir ons saam met Hom beloof. Daarom moet ons eerder sê ons is spesimiste!
(Prof. Amie van Wyk)

4.    Wat sê al die “tekens”?

’n Mens moet hierdie tekens sien as Jesus se voetstappe wat nader kom, amper soos die bome wat bot en sê die lente is om die draai.
Daarom moet ons vol verwagting leef, en juis nié probeer om uit te werk hoe dit gaan gebeur nie. Hierdie tekens sê dat ’n mens gereed moet wees vir Jesus se terugkoms, terwyl jy steeds voluit leef en werk, sodat God se koninkryk waar kan word. “Dis nou die tyd om die evangelie uit te dra, mense te versorg en ander te dien.”
(Prof. Attie Barnard)

5.    Gaan daar ’n duisend jaar lank vrede wees?

Ons lees net in Openbaring van ’n duisendjarige vrederyk waar mense onder Christus se heerskappy op aarde ’n duisend jaar lank in vrede en geluk sal leef. Ons glo dat daar te min steunpunte in die Bybel is vir so ’n vrederyk. Baie profesieë vir Israel is reeds vervul, en profesieë word ook nie letterlik tot in die fynste besonderhede vervul nie.
“Dan is dit beter om te aanvaar dat Satan se binding simbolies is. Dit beeld Jesus se oorwinning oor die bose magte uit toe Hy op aarde opgetree, aan die kruis gesterf en weer opgestaan het. Die betekenis van die getal 1 000 kan dan wys op die Bose wat heeltemal oorwin is. Die ‘klein tydjie’ wat die duiwel weer losgelaat word, sou die simbool kon wees vir sy beperkte vermoë om wel vandag nog gelowiges aan te val.”
(Prof. Adrio König)

6.    Wat is die “nuwe Jerusalem”?

In die Bybel is Babilon die simbool van alles wat sleg is. Dis ’n wêreld wat losbandig is, waar mag misbruik word, waar daar ’n ongelyke ekonomie is, waar mense nie meer glo nie – alles dinge wat ook waar is van ons wêreld. Daarteenoor is die nuwe Jerusalem waarvan Openbaring praat, die plek waar alles nuut sal wees en waar waardes soos liefde en respek vir mekaar, vir die aarde en vir God sal heers.
Jy hoef nie doodbang vir “die einde” te sit en wag nie. Jy kan nou al begin werk om so ’n nuwe wêreld waar te maak! “Ons weet dat ons as gelowiges dit gaan oorleef. Daarby weet ons waar ons gaan woon: net hier in die nuwe Jerusalem wat God ons op die nuwe aarde gaan help bou.”
(Prof. Christina Landman)

7.    Gaan regtig net 144 000 hemel toe?

Dit maak ’n mens benoud as jy hoor net 144 000 uitverkorenes kan hemel toe gaan. Wie is hulle? En beteken dit dat die plekke in die hemel almal reeds bespreek is?
Openbaring is vol dramatiese beelde oor die einde, maar dit is nie letterlike voorspellings wat tot in die fynste besonderhede uitspel wat gaan gebeur nie.
“Die getal 144 000 (12 x 12 x 1 000) wys op volheid – die hele volk van God. Só kan ons dan aanvaar dat Israel in hierdie geval alle gelowiges verteenwoordig: gelowiges uit alle volke, Jode sowel as nie-Jode.
“Hierdie is dus ’n simboliese voorstelling wat vir gelowiges die versekering gee dat ons nie vernietig sal word óf sal agterbly as God se oordeel kom nie. Wat “die einde” ook al inhou, daar is geen groter sekuriteit as dít nie!”
(Dr. Izak van der Walt)

8.    Gaan ons boontoe of ondertoe?


Die Bybel dink dikwels in prentjies omdat mense dit beter verstaan. “Die probleem kom wanneer ’n mens wil aanhou om vaste prentjies te vorm  en dan begin bespiegel oor wat Jesus se terugkoms alles vir ons as gelowiges gaan inhou.” ’n Mens kan so opgewonde raak daaroor dat jy kan begin dink jou siening is die enigste regte een. Dink maar net aan Paulus wat skryf dat ons met Jesus se wederkoms op die wolke weggevoer sal word, die lug in, waar ons die Here gaan ontmoet (1 Tess 4:16-17). Beteken dit dan ons gaan “boontoe”?
Hierdie is maar een voorbeeld van hoe maklik ’n mens jou eie idees kan vorm. “Dink ’n bietjie hieroor: ‘boontoe’ en ‘ondertoe’ hang tog af van jou posisie. As jy in die noordelike halfrond woon (sê in Noorweë) is ‘boontoe’ vir jou in een rigting, terwyl ‘boontoe’ vir iemand in Suid-Afrika in presies die teenoorgestelde rigting sou lê.”
(Dr. Johan van Schalkwyk)

9.    Hoe lyk die hemel?

Na die verwoesting van Jerusalem het die Jode altyd bly hoop dat hulle ’n nuwe hemelse Jerusalem op aarde kan kry. Hulle het dit gesien as die nuwe stad wat God eendag uit die hemel sal laat afsak. Johannes gebruik hierdie beeld om te beskryf hoe wonderlik die hemel sal wees.
10.    Ons bestemming aan die einde lê nie in ’n  “doodbang aftelling na 21 Desember 2012” nie. Dit skrik nie vir die woeste natuurrampe en die vernietiging van ons wêreld nie, want God is in alles altyd by ons. “God is oraloor teenwoordig en in beheer, ook in ons stukkende wêreld. Ons God sal ons ook uiteindelik bring na daardie beste bestemming by Hom.”
Openbaring 22:3-4 belowe: Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien. Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees.
(Prof. Francois Tolmie)

11.    Maar wat van die hel?

Die ewige lewe lê nie in die toekoms nie. Johannes 3:36 sê dat elkeen wat glo, die ewige lewe hét. “Omdat ons aan Christus verbind is, is dit amper asof ons reeds in die hemel is. En as ons afgesny van God voel, beleef ons klaar ’n klein stukkie van die hel – dit word donker.” Daarom beskryf ons belydenis dat Jesus se verskriklike lyding Hom die hel laat beleef het, omdat Hy in daardie oomblikke al die lyding wat mense op aarde kon beleef, moes verduur – sonder God.
Johannes 3:36 sê ook dat God se woede op ongelowiges rus. Hulle verskrikking sal dus baie erg wees. “As ons wil weet hoe die hel is, kan ons net om ons kyk. Die hel is nie ’n vuur of ’n donker put nie. Ons sien die hel reeds raak in die lewe van mense wat sonder God leef.”
(Prof. Phil Botha)

12.    Wat as die flieks waar is?

“Los die spieëlkyk en leef ’n slag! Ons moet besef dat ons dalk meer besig gehou word deur die raaiselagtige beeld in die spieël as die lewe self.”
Ons word in Jakobus 1:6-8 beskryf “soos golwe rondgeslinger” deur boeke, webwerwe, TV-programme en films soos 2012 (wat die einde voorspel met die vreeslikste beelde). Ons lees dit en ons glo dat dit “die feite” is. Dan voel ons dat ons niks kan doen om die tragedie wat aanstorm, te keer nie. Baie mense ly aan ’n soort wêreldwye angs, en hulle bou rondom daardie doodbang gedagtes ’n werklikheid wat nie regtig bestaan nie.
Ons moet altyd onthou dat die Heilige Gees ons sal toerus en lei. Romeine 8:38-39 verseker ons: ... geen dood of lewe ... kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
(Ds. Pieter Roeloffse)

Waaraan kan ek vashou?

Ons weet dat ons in Christus kan rus van ons sonde en skuld. Hierdie rus is nie volkome nie: Ons leef steeds saam met die onvolmaaktheid, pyn en swaarkry van ons wêreld.
Die oomblik wanneer jy sterf, is jy egter op ’n plek waar jy volkome rus en vrede beleef. Dan is daar geen sonde, siekte, hartseer, trane, pyn, afskeid en dood nie. “Dan ervaar jy God se rus. Stefanus het die oomblik toe hy sterf, sy Here gesien waar Hy vir hom staan en wag.”
Dalk maak die voorspellings van mense oor wat in 2012 gaan gebeur jou ook bang. Maar dis nie nodig nie! “Jy mag as gelowige vashou aan die versekering dat niks wat nou op die aarde gebeur, ’n grepie kan wegvat van die heerlikheid wat voorlê nie.”
(Dr. Isak Burger)
 


Koop 2012 nou aanlyn by voelgoedwinkel.co.za teen die spesiale prys van R112

 

 

 

 

 



Kenners:
Prof. Stephan Joubert is buitengewone professor in Teologie aan die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat.
Prof. Hennie Stander is adjunkdekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe en professor in die Departement Antieke Tale, Afdeling Grieks, aan die Universiteit van Pretoria.
Prof. Amie van Wyk is emeritus professor in Dogmatiek en Etiek van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, tans NWU.
Prof. Attie Barnard is emeritus professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria en betrokke by die Ned. Geref. Kerk Brackenfell deur preekbeurte en Bybelkursusse.
Prof. Adrio König was professor in Sistematiese Teologie, Unisa, en is tans by Kerksondermure.
Prof. Christina Landman is professor in Teologie aan Unisa en leraar in die VGKSA Dullstroom.
Dr. Izak van der Walt is emeritus professor van die Baptisteseminarium op Kempton Park.
Dr. Johan van Schalkwyk is predikant van die Ned. Geref. Kerk, Lynnwoodrif.
Prof. Francois Tolmie is dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.
Prof. Phil Botha is professor in die Departement Antieke Tale, Afdeling Semitiese Tale, aan die Universiteit van Pretoria.
Ds. Pieter Roeloffse is predikant van die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Randburg.
Dr. Isak Burger is president van die AGS van Suid-Afrika.

Kommentaar

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]