38 WOORDE KAN MAAK OF BREEK jou gees Articles www.voelgoed.co.za

WOORDE KAN MAAK OF BREEK

WOORDE KAN MAAK OF BREEK

Watter soort woorde kom uit jóú mond?

2011-11-22

Dit sal jou ’n goeie idee gee in watter rigting jou gedagtes gewoonlik loop, en op die ou end ook jou hele lewe. Jou binneste, jou hart, het ’n groot invloed op jou woorde, en jou woorde bepaal uiteindelik jou lewe.

Jou hart se spieël

 

Die bekende Bybelse spreekwoord “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor” verklap dat wat in jou binneste gebeur, een of ander tyd in jou woorde uitkom. ’n Mens se mond is soos ’n fontein wat uitborrel, en die bron daarvan is jou hart.

Al die emosies wat ons as mense voel, kan deur woorde veroorsaak word: liefde, blydskap, vriendelikheid, noem maar op. Ongelukkig is die teendeel ook waar: emosies soos vrees, woede, haat en jaloesie kan ook deur woorde gewek word. Woorde kán ’n mens baie seermaak. Dit kan baie skade aanrig, omdat negatiewe woorde vernietig en afbreek. En dit kan die oorsaak wees van vrees, haat , hartseer en oorlog. Ons breinspoel ook ons kinders tot negatiewe gedrag met ons woorde. Daarom is dit belangrik dat ’n mens moet let op wat jy sê – maar nog belangriker, hóé jy dit doen.

Toets jouself gerus: Hoeveel goeie dinge het jy die laaste paar dae oor iemand anders of oor die lewe gesê? En hoeveel slegte goed?

As jy jou gedagtes met positiewe dinge vul, gaan dit een of ander tyd uitborrel. Ongelukkig werk dit net so met slegte dinge. Besluit om deur die loop van die volgende twee dae te “hoor” wat jy sê. Kies doelbewus om negatiewe gedagtes en woorde onmiddellik hok te slaan.

 “Wat jy dink, maak werklik saak,” sê Susan Coetzer in haar boek 40 Woorde. “Watter dialoog sou die wêreld hoor as iemand ’n luidspreker aan jou gedagtes sou koppel? Dink mooi! Watter woorde sal weergalm as jou gedagtes van silent na full volume opskuif?

 “Draai vandag die volume van negatiwiteit af in jou gedagtes en skakel oor na ’n mooier, vredevolle stasie. Dink net watter verskil dit kan maak. My en jou gedagtes kan ons land transformeer, as ons ‘mooi’ daaroor dink!

Genesende woorde

 

Woorde van erkenning het ongelooflike krag – meer as wat jy jou kan voorstel. Woorde kan heelmaak, hulle kan seën, hulle kan liefkoos, hulle kan deure oopmaak en hulle kan vir jou onmeetlike oorvloed bring. Hulle kan liefde bring, asook vrede en vreugde en geluk.

Eleanor Roosevelt het gesê niemand kan jou minderwaardig laat voel sonder jou toestemming nie. Ongelukkig laat ons dikwels toe dat pyn uit ons verlede ons met kwetsende woorde laat reageer as iemand ons seermaak. Die genesing moet eers in ons hart plaasvind sodat ons uit die oorvloed goeie wense in ons hart kan reageer. Ons is ook geneig om onsself af te kraak of om te ag, dis niks, terwyl ons eintlik baie trots kan wees op ons prestasies of sterk punte. Leer om eenvoudig dankie te sê vir komplimente.

Susan skryf dat om nederig te wees, nie beteken om ’n lae selfbeeld te hê nie. Sy beklemtoon dat iemand wat nederig is, ’n gesonde selfbeeld het oor haar potensiaal en haar talente in Christus (en dat dit in ’n oogwink weggeneem kan word.)”

Leer om gereeld genesende woorde te praat. Gebruik woorde wat van oorvloed getuig: Beklemtoon jou kinders se sterk punte, prys hulle en sê gereeld vir hulle hoe uniek hulle is en hoe lief jy hulle het. Wees kwistig met komplimente, maar bedoel dit eerlik. Jy sal vind hoe meer mense jy komplimenteer, hoe meer waardering kry jy ook by hulle.

Die belangrikste woorde

 

Daar is al baie geskryf en gepraat oor watter woorde die belangrikste is. Op die internet en in boeke sal jy baie lees oor die vyf belangrikste woorde vir skrywers of die tien belangrikste woorde vir ouers of die drie belangrikste woorde vir onderwysers. Daar is lang lyste hiervan opgeteken, maar hier is vir jou ’n lysie van die belangrikste hartswoorde:

  • Die ses belangrikste woorde: Ek erken dit was my fout.
  • Die vyf belangrikste woorde: Ek is lief vir jou.
  • Die vier belangrikste woorde: Kan ek jou help?
  • Die drie belangrikste woorde: Ek is jammer.
  • Die twee belangrikste woorde: Baie dankie.
  • Die een belangrikste woord: Ons.

 

Maak hierdie lysie deel van jou daaglikse leesstof. Plak dit teen jou spieël of yskasdeur. Lees dit elke dag totdat jy dit uit jou kop ken. Met hierdie woorde kan ’n wêreld verander word – en dit alles kan by jou begin!

(Erkenning aan: The Power of Words deur Nancy Leigh DeMoss

en 40 Woorde uit die hart van Susan Coetzer)

Kommentaar
  • Finesse is die beste tydskrif van al die boeke, jy kan hom lees, en wegpak, en weer lees, elke keer leer jy iets by, dankie vir Finesse.
  • Ek neem hierdie stukkie van "Genesende Woorde" vir my. Dankie vir dit.
  • die boek die krag van jou woorde, kan ek dit bestel by julle of sal ek dit by cum boeke kry, ek is Mev M Van Graan, 24 crocusstraat, fairbridge hoogte, UITENHAGE 6229. of skakel my 0837540336,. kan ek dit dan betaal as ek hom deur pos kry, sal u asb vir my laat weet.
  • Dit is die boek genesende woorde. die krag van jou woorde. dankie martie van Graan.

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]