3 GROOTSTE MITES OOR GEBED
Het jy geweet 'how to pray' is van die woorde wat die meeste ge-Google word?
2011-11-15
Het jy geweet 'how to pray' is van die woorde wat die meeste ge-Google word?
2011-11-15
Dis omdat die meeste mense weet dat gebed belangrik is. Min van ons verstaan die ‘hoe’ en ‘hoekom’ daaragter. Boonop klou ons aan ’n klomp mites vas; dinge wat ons laat voel dat ons gebede nie goed genoeg is nie. Kyk dié leuens en halwe waarhede oor gebed vandag nog vierkantig in die oë, en word wat jy bedoel is om te wees ... iemand wat deur gebed God se krag in jou lewe vrystel.
“Ek kan nie goed bid nie. Ek weet nie eintlik hoe nie.”
Joyce Meyer vertel dat sy baie lank gevoel het haar gebede is nie goed genoeg nie omdat sy nie ‘reg’ bid nie. Wat ons nie besef nie is dat ons gebede wél onvolmaak is net soos ons. Dít is juis die rede waarom Jesus as middeman tussen ons en God optree. Wanneer jou gebed by Hom uitkom, hoor hy volmaakte gebede, want Jesus onderskep hulle. Hy vertolk hulle en maak hulle reg. In haar boek Gesels met God oor alles sê Joyce Meyer dat gebed ’n gesprek tussen jou en God is. Net soos jy en jou vriendinne julle harte met mekaar deel en na mekaar luister, is gebed ’n eerlike geselssessie met jou Vader – met die ékstra voordeel dat dit enige tyd en enige plek kan gebeur. Hy luister na die bedoeling van jou hart en lei jou waaroor, vir wie en ook hóé om te bid.
“As God dan weet wat ek nodig het, hoekom moet ek nog daarvoor vra?”
Gebed is God se duidelike opdrag aan ons. Hy vra dat ons moet bid, sonder ophou – en beslis nie om dowe neute nie. Skrywer en gebedskenner, Bennie Mostert, sê: “Deur die hele Bybel sien ons dat God gekies het om Homself te ‘beperk’, sodat Hy deur mense en hulle gebede kan werk”. Dus, sonder mense wat bereid is om te bid en as verteenwoordigers vir God op te tree, gaan ons dalk nie veel van God se krag in hierdie wêreld sien of ervaar nie. Deur te bid, selfs al weet Hy wat jy gaan bid of wat jy nodig het, werk jy saam met God om Sy krag vry te stel. Jesus sê juis dat ons moet vra om te ontvang, en dat ons nié ontvang nie, omdat ons nie vra nie!
“God hoor nie my gebede nie. Wat help dit ek bid?“
God hoor, maar verhoor soms nie ons gebede nie omdat sonde of verkeerde begeertes in die pad staan. Hoe klink jou gebed? ‘Here, straf die kollega wat my te na gekom het’? Dit is ver verwyderd van die tipe gebed wat God eerder sou wou hoor, een wat volgens Sy wil gebid word: “Here, help my om die kollega wat my te na gekom het, te vergewe, nes U my vergewe.” Dit is dikwels ons verkeerde gesindheid wat verhoed dat ons gebede verhoor word. Ander kere is ons dalk te haastig vir ’n antwoord. Wag op God. Hy sien die groot prentjie raak. En as Hy ‘nee’ sê, weet verseker dat Hy presies weet wat jy nodig het of kan hanteer.
Nie tyd om te bid nie? Húlle maak so:
Jolene Viljoen (Pretoria-Noord): “Ek het besef ons almal het dieselfde ure per dag. As iets ’n prioriteit is, máák jy mos tyd daarvoor. Wanneer ek my dagboekbeplanning op ’n Sondagaand doen, skryf ek doelbewus ‘kuiertyd met God’ op my week se kalender. Die een dag kan ek dalk ’n uur inruim en die volgende dag net 10 minute, maar ek sorg dat ek by hierdie ‘afsprake’ hou, nes die res van die week se verpligtinge.”
Danielle Fourie (Bloemfontein): “Ek is van nature ’n regte ‘Marta’ - altyd besig om iets te was, weg te pak of op te tel – en dan te kla dat ek nie tyd het vir ander dinge nie. Die Here het my tydens een van hierdie skoonmaaksessies saggies daarop gewys dat ek kan kies om ’n ‘Maria’ te wees – die een wat alles los en by Jesus se voete gaan sit. Dit vat nogal wilskrag, maar dis baie bevrydend wanneer ek in die middel van ’n laataand-skoonmaaksessie die besem of nat lap net neersit en by God se voete gaan sit. Probeer dit!”
Annika van Rensburg (Boksburg): “Ons het ’n besige huishouding, wat beteken dat daar min stil tye in die huis is. Ek het ontdek dat die twee ure in die motor werk toe en terug die perfekte stiltetyd met God is. Ek hou soms vir tien minute die radio aan en gebruik die musiek om my eie lofliedere op te maak. Dan sit ek die radio af en gebruik die res vir geselstyd met God. Lekkerrr!”
Cherise Jansen (Nelspruit): “Wanneer ek in die aand in die bed klim, maak ek my skryfblok oop en skryf die gebed op my hart neer. Ek is baie meer gefokus op wat ek vir God wil sê en vra as ek dit neerskryf – en dis lekker om maande later terug te blaai en te sien hoe Hy my gebede verhoor het.”
- Wat 'n wonderlike idee! Ek gaan beslis ook my gebede begin neerskryf, dit gee tyd om mooi te dink waarvoor ek eintlik vra
argief
JESUS IS PERFEK ...
maar ...LIEFDESBRIEF VAN JESUS
Weet jy hoe lief Ek jou het?HEMELVAART
'n Geskenk van boGELOOF HET NIE 'N HANDVATSEL
'n Stewige vashou aan GodWAT IS IN GOD SE HUIS?
... dalk 'n groot kombuis?GEBEDSHORLOSIE
Deur Liesel Krause-WiidJOU VRESE WEG BINNE 5 DAE
God is in beheer!DIE WONDERWERK BLOG
Onverwags en verstommendBID JY TEEN DIE PLAFON VAS?
Keer op keer besluit jy verkeerd. Of jou planne loop skeef – al het jy daaroor gebid. Waar is God dan?SPOKE VANDAG…
Bestaan spoke regtig of is dit net n mite? Kyk wat sê die kenners.


.jpg)




.jpg)

















