38 LIEFDESBRIEF VAN JESUS jou gees Articles www.voelgoed.co.za

LIEFDESBRIEF VAN JESUS

LIEFDESBRIEF VAN JESUS

Weet jy hoe lief Ek jou het?

2011-06-27

My liewe vriendin

Hoe lekker is dit om jou “vriendin” te kan noem! Ek kan jou seker ook my liewe suster noem, want dit is jy natuurlik ook. Ons Vader het jou as sy kind aangeneem en aan My verbind met bloed – my bloed – en daarom is ons ook bloedfamilie. Maar Ek wil jou liewer my vriendin noem, omdat dit vir My iets sê van die baie spesiale verhouding wat Ek met jou het, en hoe kosbaar jy vir My is.

Weet jy hoe lief Ek jou het? Só lief dat Ek my álles vir jou gegee het, tot op my laaste druppel bloed. Jy moet asseblief nooit daaraan twyfel nie. En miskien sal jy my liefde vir jou nóg beter verstaan as Ek vir jou vertel wat in my hart was op daardie verskriklike Paasfees, nou al byna 2000 jaar gelede, toe die prys wat Ek moes betaal het om jou my vriendin te kan maak, sy dieptepunt bereik het.

Alles het in daardie laaste paar uur tot ’n punt gekom, en my tyd op aarde was verby. Ek en my dissipels het vir oulaas die paasfees-ete saam gevier. Dit was ’n baie spesiale, wonderlike aand, en jy was ook daar, in my gedagtes. Ek wens jy kon ook in die liggaam daar wees! Ek het almal daar aan tafel se voete gewas, Judas Iskariot s’n ook, om vir hulle te wys dat Ek hulle liefhet en wil dien, net soos Ek jou liefhet en met alles wat Ek het, wil dien en help. Maar Judas het my liefde in my gesig teruggegooi. Dankie, my liewe vriendin, dat jy dit nooit, ooit met my liefde vir jou sal doen nie.

Toe is ons buitentoe, na Getsemane. Dit was die laaste aand van my aardse lewe, en die wreedheid van die beker wat Ek sou moes drink, het daar in al sy felheid tot My deurgedring. Ek erken dit ruiterlik: Ek was bang vir wat op My gewag het. Ek was bang vir die marteling wat Ek geweet het sou volg. Ek was bang om dood te gaan. Die swaar vrag wat Ek aan die kruis sou moes dra, het soos ’n wrede monster voor my gestaan en grynslag. Onthou, Ek moes die sonde van die hele wêreld – joune ook! – op My neem en die straf daarvoor betaal: die dood weg van God af. Dáárvoor het Ek nie kans gesien nie. Ek het by my Vader gepleit dat Hy My dié wrede dood moes spaar, dat Hy liewer op ’n ander manier die sonde van die mensdom moes wegneem. Maar Hy het anders besluit, en uiteindelik, ná ’n diepe innerlike stryd, het Ek opgestaan van my knieë af, oorgegee aan die wil van die Vader en bereid om te sterwe soos Hy besluit het. Ek het aan jou gedink toe Ek daar op my knieë was. Dit het My baie gehelp, want Ek het geweet my dood ga
an jou red. Jy was in my gedagtes, anders sou Ek nooit kon deurdruk nie.

As Ek terugdink aan alles wat gebeur het, besef Ek dat Ek daar in Getsemane al die oorwinning behaal het, oor Myself en oor Satan, toe Ek die keuse gehad het om nee te sê vir die Vader se plan, en tog ja gesê het vir Golgota.

Jy wonder dalk of daar nie ’n ander manier is waarop jy van jou sonde verlos kan word nie. Hoekom die kruis? Die antwoord is eenvoudig: daar is net een manier waarop die Vader bepaal het dat sonde weggeneem kan word, en dit is deur onskuldige, sondelose bloed. En as Ek die sonde van die hele wêreld wou wegneem, moes Ek my eie bloed daarvoor gee, tot die laaste druppel toe, want net Ek het sondelose bloed om te gee. My bloed het jou sondes weggewas, uitgewis, vernietig, sodat jy voor die Vader kan staan as ’n skoon gewaste, rein mens, al is jy ’n sondaar. Ek het my lewe geruil vir jou lewe. Ek is dood sodat jy in die Vader se teenwoordigheid kan lewe en my vriend kan wees. Dít is hoe lief Ek jou het.

Die geselhoue wat my rug en skouers oopgekloof het was vir jou, sodat Ek die vrag wat jóú rug en skouers wil knak, van jou kan afhaal. Die spykers het my hande deurboor sodat Ek die verkeerde dinge wat jou hande gedoen het, kan wegvat. My voete is vasgekap aan die kruis sodat Ek die afdraaipaaie wat jou voete soms kies, kan omkeer in oorwinningspaaie. Die doringkroon het my kop stukkend gesteek sodat Ek die gedagtes wat in jou kop opkom, rein kan maak. Die spies het my hart deurboor sodat jou hart Myne kan wees.

Ja, my liewe vriendin, Ek het dit alles vir jou gedoen. Ek aan jou gedink toe Ek daar aan die kruis gehang het, want dit was vir jou ook, al het jy toe nog nie eers bestaan nie. Dink asseblief aan My in die tye wanneer dit met jóú swaar gaan. Dink aan wat Ek vir jou deur is; Ek belowe Ek sal daar wees vir jou, om jou te help om deur jou swaar te kom.

Die verskriklikste van my offer was nie die pyn van die geseling nie, of die marteling van die kruis nie, maar die Godverlatenheid. Ek het altyd, my hele lewe lank, swaar gesteun op my Vader se nabyheid en sorg en liefde. Maar aan die kruis het Hy My verlaat, sodat Ek alleen daar in die verstikkende donker gehang het, alleen met die walging van die ganse mensdom se sonde op my skouers. Dit was louter hel. As Ek geweet het dit sou só wees, sou Ek dalk nie kans gesien het nie. Of nee wag, Ek sóú. Ek sou dit weer verduur, ter wille van jou. En Ek belowe dat jy nooit ooit so Godverlate sal wees soos Ek was nie. Nooit. Ek is elke oomblik by jou.

My liewe vriendin, my Vader het jou gekies om deel van ons familie te wees. Jy is gekoop deur my bloed. Ek het dit gedoen omdat Ek jou liefhet. Jy moet dit asseblief nooit vergeet nie. En onthou, Ek is nie meer in die graf nie. Ek het opgestaan en Ek lewe sodat Ek jou kan help om elke dag vir ons Vader te leef.

Met al my liefde!
Jesus


Naskrif: lees asb. Joh 3:16

Kommentaar
  • Hoe sal ons liefdesbriet aan Jesus lyk? Doen ons so baie dat dit gewig sal dra? Ons vat meer as wat ons gee.

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]