38 JOU VRESE WEG BINNE 5 DAE jou gees Articles www.voelgoed.co.za

JOU VRESE WEG BINNE 5 DAE

JOU VRESE WEG BINNE 5 DAE

God is in beheer!

2010-08-25

As jy asseblief net tussen jou werk, kinders, man en huis tot Vrydag toe kan oorleef ... met daardie alewige kommer en finansiële beklemming in jou bors. Boonop dreig ’n politieke storm al ’n geruime tyd om los te bars. Sê nou jy kan een week gebruik om te sorg dat die ander 51 minder soos ’n riller lyk? Wel, jy kan!

DAG 1 – God is in beheer

Jy hoef net jou televisie aan te skakel of die koerant oop te maak om te sien hoe dinge handuit ruk ... Selfs kinders spring nie meer geweld en moord vry nie. En as jy nog nie beroof is nie, bly jy sekerlik op ’n ander planeet. Een wat nie deur boewe beheer word nie, want die politieke korrupsie is eintlik ’n grap. So, waar is God?

God is steeds in beheer. Diep in jou hart weet jy dit. En as jy nog nooit God se hand in jou lewe ervaar het nie, bly jy óók op ’n ander planeet! Om moedeloos te word oor omstandighede buite jou beheer is niks nuuts nie. Selfs die Prediker het al duisende jare gelede gekla dat alles tevergeefs is. Maar, God beheer alles, die geskiedenis, die toekoms en vandag, daarom hoef jy nooit wanhopig te wees nie. Aan die einde is die oorwinning altyd God s’n en jy sal saam met Hom ’n oorwinnaar wees. Onthou dit die hele dag lank, en elke dag daarna.

DAG 2 – Bly hoop


Om te hoop, vertel die Bybel, is baie soos geloof. Jy hoop op dinge wat jy nie kan sien nie. Dalk is dit die rede hoekom hoop so moeilik is. Veral as jy die teendeel heeltyd om jou raaksien. Maar sonder hoop kan geen mens lewe nie! Hoeveel keer antwoord jy: “Ek hoop so,” wanneer iemand jou iets vra? Soms gebeur dit wat jy gehoop het nie, en ander kere wel. Maar solank as wat jy hoop, kan jy aangaan.

God se Woord sê duidelik dat as jy in Jesus glo, jy met groot vertroue op die hemel wat vir jou voorlê, mag hoop. En niemand wat op Christus gehoop het, is nog ooit teleurgestel nie. Hy kom áltyd elkeen van sy beloftes na. “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het,” skryf die Hebreërskrywer (Heb. 10:23).
Moenie die fout maak om te geheg aan jou “hemel op aarde” te raak nie. Die hemel waarvan die Bybel vertel, is in die toekoms. Maar dalk is dit vir jou baie nader as wat jy dink ... Sorg dus dat jou hoop op die regte Persoon gerig is. Herinner jouself vandag pal daaraan om te hoop, sodat jy dit môre vanself begin doen.

DAG 3 – onthou die goeie ou dae!

Met elke brokkie nuus oor nog ’n inbraak of aanranding, raak jou wanhoop meer. Veral as jy dit by jou bure en familie begin hoor. Dan besef jy die boosheid is heelwat nader as wat jy dink. En jy wonder wat op aarde gaan van jou gesin word? Waarheen is ons land op pad?

Wanneer jy so voel, moet jy veral die kere in die verlede onthou waar God jou gehelp het. Toe dit goed gegaan het met jou, en daar die onwaarskynlikste wonderwerk gebeur het. Net so sal hy jou nou en môre ook help. Al jou vrese is ’n mors van tyd.

En onthou, God weet van al die slegte goed wat met jou gebeur en dit waarmee jy sukkel. Daarom belowe die Bybel dat al gaan dit op die oomblik ook hoe swaar, Hy op die ou end alles vir jou ten goede sal laat afloop. Wanneer alles vir jou hopeloos lyk, sal God ingryp en jou help. As jy ooit weer aan God se versorging begin twyfel, volg die voorbeeld van die psalmdigter: “Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins” (Ps. 77:12-13).

Wanneer dit voel asof jy niks kan doen aan die misdaad, korrupsie en geweld wat jy rondom jou sien nie, weet God kan wel. Hy is steeds volkome in beheer en Hy beskerm en bewaar sy kinders in gevaarlike tye. God sal jou in die toekoms dra en vir jou sorg, presies soos Hy dit in die verlede gedoen het – daarop kan jy reken. Daarom kan jy vandag uitsien na môre!

DAG 4 – lewe vreesloos!

Vrees vreet die lewe uit jou uit. Dis onmoontlik om gelukkig en vreesbevange gelyk te wees. En dis ook moeilik om te bid en geestelik te groei as jy heeltyd bang is. Boonop sê sielkundiges dit gaan nie help om jou vrese te onderdruk nie, want dan raak dit net al erger in jou onderbewussyn. Dit is baie beter om jou vrese in die oë te kyk, te konfronteer en iets daaraan te doen.

Aan die een kant het ons vir Job wat sê dat die dinge waarvoor hy bang was, hom juis getref het (Job 3:25). En aan die ander kant beweer die mense wat weet, dat net sowat 20% van dit wat jy vrees, ooit gebeur. Alles in ag genome is dit glad nie die moeite werd om jou lewe te versuur met vrese nie.

Die heel beste oplossing vir vrees is om jou vrese te herken, te erken en hulle om te ruil vir God se liefde en vrede. “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie,” skryf Johannes (1 Joh. 4:18). Probeer een dag op ’n slag sonder vrees leef.

DAG 5 – hou moed!

Paulus se lewe was maar moeilik. Hy het harder gewerk en was meer in die tronk as die meeste ander mense, hy was dikwels in doodsgevaar, en is gemartel en met klippe gegooi. Paulus het ook skipbreuk gely, gereeld in gevaar verkeer en hy was ook baie maal honger en dors ... Tog kon al die negatiewe dinge nie daarin slaag om hom moed te laat verloor nie. Hy getuig: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” (2 Kor. 4:16).

Die Engelse woord vir moed, courage, kom van die ou Franse woord corage, wat weer afgelei is van die Latynse woord cor, wat hart beteken. Om te kan moedhou ten spyte van jou omstandighede, verg dat jy dit met jou hart doen. “Ons kan ons moed behou deur met die hart na ons omstandighede te kyk,” skryf John Eldredge in sy boek Die Hart.

Moed beteken nie dit gaan altyd goed nie, maar dat jy die uitdagings op jou pad te aanvaar omdat jy weet God is by jou. ’n Plaasarbeider het op ’n keer vir die radelose boer gesê: “Mens moet ’n lang moed hê.” Hoe lank is jou moed vandag?

Uittreksel uit Nina Smit se boek

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]