38 BRING DIE KINDERS NA MY TOE! jou gees Articles www.voelgoed.co.za

BRING DIE KINDERS NA MY TOE!

BRING DIE KINDERS NA MY TOE!

“Ja, ek wil by die skool van God leer,” sê Lindsay (Graad 4) wat aanhou inkleur.

2010-01-13Hennie Stander

DIE KIND

Jare gelede was daar ’n weeskind op Ugie in die skool. Naweke het ’n Joodse gesin na hom en sy boetie omgesien, want hulle was ook Joods. Tydens saalbyeenkomste kon hy en die ander Joodse kinders buite gaan speel, of huiswerk doen. Hulle is van alle Christelike aktiwiteite verskoon.
Soos enige jong seun, het hy ook ’n onderwyser-held gehad. Meneer Stewart was almal op die klein dorpie se vriend. Hy het omtrent in elke sportsoort uitgeblink en kon enige musiekinstrument waarop hy sy hande lê, bespeel.
Op ’n dag vra die weeskind vir meneer Stewart iets wat die res van sy lewensgang sou bepaal.
“Meneer,” het die seun gevra, “hoekom is jy so anders as die ander mense op die dorp?”
“Wel,” het meneer Stewart geantwoord, “want ek het ’n baie spesiale Vriend.”
Meneer Stewart het vir die seun ’n klein Bybeltjie gegee om te lees. Snags, na “ligte-uit”, het hy by kerslig onder sy kombers op sy knieë sy pad na verslossing oopgelees.
Deur die jare heen, het meneer Stewart die seun se klankbord geword. En op 16 is die seun gedoop met al drie Joodse gesinne van die dorp wat die voorste ses banke van die NG-kerk volsit.
Daarna het die seun belydenis van geloof afgelê en met sy roeping begin.
Jy ken hom ook, sy naam is Solly Ozrovech.

DIE KEUSE


En as niemand by Solly se skool hom van Christen-wees te geleer het nie? Daarom verkies Lindsay se ma, Tertia, ook dat die kinders op skool in Christelike godsdiens onderrig word: “As dit ’n keuse is,” voeg sy by, “en hulle nie geforseer word nie.” Nes dit vir Solly ’n keuse was ...

Dalk kan skole een periode per week, buiten die lewensoriëntering les, aan godsdiens afstaan. En byvoorbeeld die kerke, moskees, en sinagoges in die omgewing nooi om self met die kinders te kom praat. Dit is in lyn met die Grondwet, dat daar geen diskriminasie in terme van geloof mag wees nie. Hierdie benadering plaas meer verantwoordelikheid op die ouers, om hulle kinders te help om Christenskap uit te leef. As hulle ouers het.
Brenda voel ook dat kinders wat nie uit godsdienstige huise kom nie, die geleentheid moet kry om te kies of hulle ’n verhouding met Jesus wil hê of nie. Haar seun, Berlou (Graad 3), dink ook dis goed om van Jesus en die Bybel in die skool te leer. “Dit help ons om nie verkeerde dinge te doen nie. En ons leer om vir almal lief te wees.”

Sita, ’n ma van twee, leer graag haar kinders oor God: “Ek stem nie altyd saam met alles wat kinders ten opsigte van Christenskap in skole leer nie. Wanneer my kinders by die skool iets leer wat nie ooreenstem met wat in die Bybel staan nie, help ek hulle reg en verduidelik dat dit nie is wat die Bybel sê nie.”
Susan (Graad 7) se ma, Orpha, meen ook dat ouers nie hulle verantwoordelikheid aan skole en kerke moet oorlaat nie. Tog, voel sy dat die Bybelkennis wat oorgedra word, belangrik is. “In skoolverband kan kinders ook in hul portuurgroep leer waarmee ander medegelowige vriende sukkel en met mekaar deel hoe Jesus hulle daarmee help.” Susan hou van die interessante Bybelstories wat hulle leer, maar voel “toetsskryf is net ’n mors van tyd en geld!” Maar sy dring aan daarop dat Bybelonderrig belangrik is vir die jeug.

Prof. Christina Landman (teoloog van Unisa) is ook bekommerd dat onderwysers, wat soms ’n skewe begrip van Christelike godsdiens het, dit aanbied in skole. “Wanneer hulle dit gebruik om kinders met die hel te dreig, of hulle net vol vreeslike vroom, lewensvreemde, maklike waardetjies pomp, word dit ’n ongesonde spulletjie wat liewers kon gebly het.” Verder gebeur dit dikwels dat die “Bybelmeneer” of “Bybeljuffrou” se lewe ten hemele skreeu. Dan wil jy ook eerder hê dat hulle liefs moet stilbly oor die Bybel.

Juffrou Henna is self ’n Christen wat graag Bybelles sal gee. “Ek sal dit op geen kind afdwing nie en my voorbereiding ordentlik doen. Dit moet iets vir die kinders beteken en nie ’n “af” periode wees nie.” Godsdiens word te dikwels net as ’n sleutel gebruik wat dinge moet oop- en toesluit: Die saalbyeenkoms word met skriflesing oopgesluit, en die skoolkwartaal word met gebed afgesluit. Om godsdiens so te gebruik, doen ook meer kwaad as goed. En gewoonlik word kinders geforseer om hieraan deel te neem.


Igno, pa van twee, voel ook nogal sterk daaroor dat geen geloof op enige kind afgedwing moet word nie: “Ek sou nie graag wil hê dat enige van my twee kinders geforseer moet word om enige ander godsdiens se sessies by te woon nie.” Verder voel hy dat as Christene waarlik lewe soos die Woord voorskryf, behoort ander uit jou dade te sien waarvoor jy staan, en kan dan self kies of hulle in jou godsdiens wil deel. “So JA vir godsdiens in skole,” vat Igno sy siening saam. “Sonder indoktrinasie, maar met waardige uitleef van Christelike beginsels.”
Solly Ozrovech sê self die feit dat die Christelike geloof nooit op hom afgedwing is nie, ’n God-gegewe voorreg was. Tog, was hy gedurig aan die Christelike boodskap en lewenswyse blootgestel. Veral op skool, waar sy onderwysers almal uitgesproke en daadwerklike kinders van die Here was. “Ek het ’n goeie idee gehad wie Jesus was” sê hy.

DIE PLAN

Het jou kind ’n goeie idee wie Jesus is? Is daar in jou kind se skool Onnies vir Jesus, soos wat in Solly se skool was? Of is daar mense wat jou kind beroof? Jada Pinkett-Smith het gesê: Die ergste ding wat een mens aan ’n ander kan doen, is om sy God weg te vat.

Wil jy graag weet wat jy, as één ma kan doen om te sorg dat die kind wat jy grootmaak, maar wat eintlik aan God behoort, nie sy Pa vergeet nie? Jy kan vir één onderwyser, wat steeds jou kind van Jesus vertel, ondersteun. En jy kan dit saam met Finesse doen. Sny die boekmerk uit en gee die vir die onderwysers wat jou kind se lewe op ’n positiewe manier raak. Dít is hoe een mens ’n verskil maak. Wat dalk ’n duisend ander lewens kan raak.

Help jou kind se juffrou of meneer om nog Solly’s te kweek.
En juffrou, of meneer – word ’n Onnie vir Jesus!


-   

Kommentaar

gesels saam


argief