38 STERRE LEES OF NIE? jou gees Articles www.voelgoed.co.za

STERRE LEES OF NIE?

STERRE LEES OF NIE?

Vrye keuse. Dít is een van die grootste gawes waarmee God ons mensdom geseën het. Maar mag jy sterre raadpleeg?

2010-01-07

Die posisie van die son, maan en sterre. Dís wat die antieke Grieke gebruik het om die toekoms van ’n volk of individu te voorspel. Vandag is die Sterre, waar jou sterreteken volgens jou geboortedatum toegeken word, beskikbaar in koerante, tydskrifte, boeke en op die Internet. Maar is dit verkeerd as Christene die Sterre lees? God het immers die sterre en maan ook geskep ...!

VAN NUUSKIERIGHEID IS DIE TRONK VOL ...

In die verlede het mense nie net astroloë nie, maar ook fortuinvertellers, tarotkaartlesers en ander mediums genader om meer lig op die toekoms te probeer werp. Vandag nog wil mense weet wat vir hulle voorlê.
“Hoewel die lees van sterre onskadelik lyk,” sê dr Isak Burger, “verbied die Here dit ten sterkste op verskeie plekke in die Bybel. Astrologie word altyd met heidense nasies en die okkulte verbind. Nêrens in die Bybel praat God so met mense nie.”
Dr. Burger maak dit duidelik dat die Wyse Manne uit die Ooste wat na Jesus gekom het, “nie astroloë (sterrewiggelaars) was nie, maar astronome (sterrekundiges) wat dit as ’n primitiewe wetenskap beoefen het”.
In Jesaja 47:10-14 waarsku die Here die hele volk teen astrologie omdat dit vernietiging meebring. Ook die gebruik om die son, maan en sterre te aanbid (Deut. 4:19; 17:2-5; 2 Kon. 21:3,5; Jer. 8:1-2) word ten sterkste verbied.

WAT IS DIE LANGERMYNSKADE?

Baie vroue beweer hulle lees die Sterre ‘net vir die lekker’ en ‘glo dit in elk geval nie’. Maar in sy boek The power of your subconscious mind skryf Joseph Murphy dat alles wat ’n mens sien, hoor, lees of ervaar in jou onderbewussyn ingegraveer word. Die enigste manier hoe dit verwyder kan word, is deur ’n breinoperasie of ’n beroerte.
Wat jy in die Sterre lees sal in jou onderbewyssyn vassteek. Sou daar iets staan soos: “Dié week gaan jy iemand ontmoet wat jou in die rug gaan steek” of “Jy gaan finansiële teëspoed beleef” sal jy dalk onbewustelik elke mens wat jy ontmoet meer krities beoordeel, of moeiliker geld uitgee. En sou een van hierdie twee voorspellings wel waar word, sal jy onmiddellik ingetrek word en alles glo wat die Sterre voorspel.
Dr Burger sê een van die gevare van Sterre-lees is dat die duiwel geleidelik ’n houvas op jou kry. “Wat aanvanklik as ’n grap beskou word, blyk later regtig te werk. Voor jy besef wat aangaan, is jy in ’n demoniese binding vasgevang.”
Dr Burger vergelyk betrokkenheid by die okkulte met dwelmverslawing. “Niemand gebruik die eerste keer dwelms met die doel om verslaaf te raak nie. Dit begin onskuldig, maar voor jy jou oë uitvee, is jy verslaaf. Baie Sataniste erken dat die Sterre hulle eerste tree op die pad na die okkulte en Satanisme was.”

VAN WAAR DIE KENNIS?

Navorsing in die boek Why do buses come in threes – The hidden mathematics of everyday life, wys dat, wanneer die sterretekens weggeneem word, mense glad nie kan identifiseer watter paragraaf aan hulle eie teken behoort nie. Sit nou die sterretekens by en skielik is elkeen se lesing kamtig die ‘akkuraatste een’.
Jennifer Shepherd, skrywer van die Sterrekolom Lipstick Mystic Stars en ook die romantiese sterrekolom Romance Planet vir The Chicago Tribune’s Redeye, ontbloot die waarheid oor sterre in haar artikel Are newspaper horoscopes real or fake? Sy vertel van verskeie astroloë wat reeds jare dood is, wie se daaglikse voorspellings steeds in groot koerante en tydskrifte verskyn. Die kolom word oorgeneem deur ’n spookskrywer wat net goed opmaak vir die week of maand wat voorlê. “Alles gaan oor die waarde wat jy persoonlik aan iets heg,” sê Shepherd, “of dit nou waar is of nie.”

WEES WYS…


“God is nie ’n pretbederwer nie,” sê dr. Burger. “Hy is lief vir ons en juis daarom waarsku hy ons teen astrologie. Hy weet die vyand gebruik dit om mense uiteindelik totaal onder sy beheer te kry.”


 

Kommentaar
  • Dis so waar aanvanklik begin dit as 'n grap en 'n bietjie nuuskierigheid. Net nou is jy vas in satan se greep.Laat God jou toekoms in sy hand hou en bepaal en Jesus jou verlede toedek onder sy bloed.

gesels saam


argief