ONS 3 WYSE MANNE OOR KERSFEES ....
Dis tyd om weer jou Kerstafel te beplan, maar is dit regtig hoe ons Kersfees moet vier? Wat sê Isak, Solly en Angus?
2009-12-22Anita van Niekerk
Dis tyd om weer jou Kerstafel te beplan, maar is dit regtig hoe ons Kersfees moet vier? Wat sê Isak, Solly en Angus?
2009-12-22Anita van Niekerk
Ons gaan sing Kersliedere, bid en gee geskenke en liefde. Maar Kersfees is ook ’n tyd van dankbaarheid, vernuwing en van onthou ... van die Koningskind wat duisende jare gelede ook deur drie wyse manne vereer is.
LAG, GESELS, ONTHOU ...
Dr Isak Burger, president van die AGS Kerk van Suid-Afrika
Namate ek ouer word, raak Kersfees my al hoe dieper. Miskien is dit nostalgie ... so ’n mengsel van dankbaarheid en hartseer oor die herinneringe aan Kersfeeste uit die verlede. Of miskien is dit omdat dít waaroor Kersfees gaan, vir my al hoe meer betekenis kry.
Stille nag, heilige nag – dit maak nie saak wie dit sing en in watter taal nie, ek raak nie moeg daarvoor nie. Kersliggies, Kersbome en Kersvader ontketen ook nie in my ’n stryd nie. Ek wil nie hare kloof oor die interpretasie van die herkoms daarvan nie. Ek weet wat dit vir mý simboliseer.
Ek wil ook nie deelneem aan debatte oor of 25 Desember regtig Christus se geboortedatum is nie. Ek glo Hy is regtig in Betlehem gebore en die stemme van engele het regtig oor die herdersvelde van Betlehem weerklink.
Ons gaan vanjaar weer, soos die afgelope 30 jaar, Oukersaand in ons huis bymekaar kom – almal in ons naby familiekring vir wie dit moontlik is. Die huis gaan mooi versier wees met liggies en kerse. Daar gaan heerlike eetgoed en drinkgoed wees. Ons gaan kuier, lag, gesels en onthou. En dalk ’n paar trane afvee.
Ons gaan ook Stille nag sing. En bid. En geskenke gee en ontvang. Ons gaan hierdie jaar ekstra dankbaar wees – ons was hierdie Kersfees amper sonder ons oudste seun.
En voor Hom wat eens die Kind in die krip was, nou ons komende Koning, sal ons weer ootmoedig buig …
VERSTAAN WAT LIEFDE IS...
Solly Ozrovech, geestelike skrywer
Kersfees is elke jaar vir ons gesin ’n baie spesiale tyd, want Christus is die middelpunt van ons feesviering. Ons herinner mekaar dan ook daaraan dat dié fees oor liefde en die gesin gaan.
Dit was liefde wat gemaak het dat die Here God sy Seun na die aarde toe gestuur het. God het liefgehad en daarom het Hy Sy enigste Seun gegee. Christus het liefgehad en daarom het Hy Sy lewe gegee. Ons gesin het liefgehad, daarom het ons onsself eers aan Christus gegee en daarna aan mekaar.
Met Kersfees sê ons weer vir mekaar dat ons God liefhet en ook ons gesinslede. Dan dink ons ook aan wat Kahlil Gibran gesê het: “Wanneer ek van my besittings gee, gee ek nog maar weinig. Dit is wanneer ek myself gee dat ek begin verstaan wat liefde beteken.”
Kersfees is by uitstek ook ’n gesinsfees. Dan kom ons weer bymekaar en versterk die band tussen ons. En al loop dinge in ons gesinsverhoudings gedurende die jaar dikwels skeef, kry ons met Kersfees die geleentheid om weer nuut te begin en reg te maak wat verkeerd is tussen ons. Ons kan weer daaraan dink dat ons Vader ons liefhet en ons in ’n gesin geplaas het op hierdie aarde. En dit maak nie saak hoe onvolmaak dié gesin ook al is nie, dit kan deur Christus nuut gemaak en ’n ware fees word.
Ons herinner mekaar ook altyd aan Martin Luther se onsterflike woorde: “Al is Christus duisend maal in Betlehem gebore, maar nog nie in jou hart nie, beteken dit vir jou niks nie.”
TYD SAAM MET DIE HERE
Angus Buchan, evangelis - Shalom Ministries
Soos Goeie Vrydag is Kersfees vir my ’n baie belangrike tyd van die jaar. Die presiese datum wanneer ons Jesus se geboorte moet vier – en hoe ons dit moet vier – maak glad nie vir my saak nie.
Vir my lê die grootste gevaar eerder daarin dat ons die meeste van ons tyd aan die voorbereidings en feesvierings spandeer in plaas van om te onthou wat Kersfees nou eintlik vir ons as Christene simboliseer.
Wat régtig saak maak, is dat Kersfees ons herinner dat God van die hemel af aarde toe gekom het om as ’n mens tussen ons te kom woon. Dis waaroor die dag vir my gaan.
Kersfees is ook by die Buchans Familietyd met ’n hoofletter F. Ek dink ek kan so lekker met die Afrikaners assosieer, en hulle met my, omdat ons albei gesinswaardes baie hoog ag. Kersfees is ’n tyd om hierdie bande hegter saam te snoer. Dan kom die kinders van universiteit af huis toe en familie kom van oorsee af kuier. Oukersaand deel ons geskenke uit en bring tyd saam met die Here deur.
Op Kersdag gaan ons kerk toe, eet lekker en dan is dit tyd om vir die 27 Zoeloe-wesies – my ander kinders – by die kinderhuis op die plaas Beth-hat-liam (Hebreeus vir ‘Die Huis van die Lammers’) te gaan kuier. Ons bid saam, maak saam geskenke oop en speel saam. Hulle wil so graag hulle nuwe goed vir ‘Dad’ wys!
Op Kersdag maak ek ook altyd tyd om ’n lang ent alleen te gaan stap. Dan bid, sing en ontspan ek net in die Here se teenwoordigheid. Ek onthou weer die ongelooflike dinge wat Hy vir my gedoen het. En ek sê dankie vir die nuwe hoofstuk van ’n splinternuwe jaar wat voor my lê.
argief
JESUS IS PERFEK ...
maar ...LIEFDESBRIEF VAN JESUS
Weet jy hoe lief Ek jou het?HEMELVAART
'n Geskenk van boGELOOF HET NIE 'N HANDVATSEL
'n Stewige vashou aan GodWAT IS IN GOD SE HUIS?
... dalk 'n groot kombuis?GEBEDSHORLOSIE
Deur Liesel Krause-WiidJOU VRESE WEG BINNE 5 DAE
God is in beheer!DIE WONDERWERK BLOG
Onverwags en verstommendBID JY TEEN DIE PLAFON VAS?
Keer op keer besluit jy verkeerd. Of jou planne loop skeef – al het jy daaroor gebid. Waar is God dan?SPOKE VANDAG…
Bestaan spoke regtig of is dit net n mite? Kyk wat sê die kenners.


.jpg)




.jpg)

















