38 HANTEER JOU WÊRELDSE STRES jou gees Articles www.voelgoed.co.za

HANTEER JOU WÊRELDSE STRES

HANTEER JOU WÊRELDSE STRES

Gaan maak 'n koppie tee, haal diep asem en sit vyf minute opsy om die beste raad oor streshantering te lees wat daar is … want dis God se raad, spesiaal vir jóú.

2009-12-10Anita van Niekerk

Jy sê: “Ander mense veroorsaak die stres in my lewe”
God sê: “Weet wie jy is en lééf dit”


Baie van die stres in ons lewe word veroorsaak deur ons onsekerhede: die maskers waaragter ons wegkruip, omdat ons nie wil hê mense moet van ons swakhede en tekortkominge weet nie. Ons stel onrealistiese standaarde waarby ons nooit kan uitkom nie.

LES: Jy is gemaak om die kroon van God se skepping te wees! Jy’s in beheer van jou keuses en dit hang van jóú af of jy in lyn met God se wil vir jou lewe leef.

Jy sê: “Dis onmoontlik om almal tevrede te stel.”
God sê: “Besluit wié jy tevrede wil stel.”


Ons is geneig om te sê “hulle wil hê …”, “ek moet …” of “ek kan nie anders as om …”. Eintlik is daar min dinge in die lewe wat ’n absolute móét is. Wat jy eintlik sê is: “Ek kies om dit te doen, omdat ek nie die gevolge wil dra as ek dit nié doen nie.”

LES: Fokus daarop om God bó ander tevrede te stel. Daardeur vereenvoudig jy jou lewe en die druk wat daarmee saamgaan.

Jy sê: “Ek werk gedurig onder druk, maar voel ek bereik niks nie.”
God sê: “Bepaal waarheen jy oppad is”


Dis maklik om heeltyd besig te wees, maar dit beteken nie noodwendig dat jy produktief is nie. Jy kan die heeldag rondhardloop, maar jy kan nog steeds aan die einde van die dag niks bereik het nie.

LES: Praat met die Here oor wat jy graag wil bereik in die lewe. Lê jou dagtake voor Hom neer en vra jouself af: “Is dit regtig die manier waarop ek my dag wil spandeer? Wil ek regtig 24 uur van my lewe hiervoor opoffer? Here, wat wil U hê moet ek met hierdie dag doen?

Jy sê: “Ek weet ek het baie werk, maar niemand kan dit so goed soos ek doen nie.”
God sê: “Delegeer, want dit doen jou én ander goed.”


Jesus kon waarskynlik al die take wat Hy vir Sy dissipels gegee het, beter as hulle gedoen het. Nogtans het Hy geweet dat as hulle Hom help, Hy meer van Sy tyd en energie op ander areas kon spandeer. Dit het ook Sy dissipels goed gedoen om sekere take self te doen.

LES: Jy kán sekere dinge waarskynlik beter as ander mense doen juis omdat jy die kans gegun is om dit in te oefen en uit jou foute te leer nie? Gun ander ook hierdie kans.

Jy sê: “Daar’s net nie tyd vir ontspan nie.”
God sê: “Máák tyd”


Die Bybel praat van verskeie kere waar Jesus na ’n stil plek gegaan het om te rus en te herlaai. Dis een van die redes waarom Hy druk so goed kon hanteer. Selfs God het gerus ná Sy skeppingswerk.

LES: Jy kan slegs die pas volhou as jy nou en dan stoom afblaas en iets doen wat lekker is – nie omdat jy moet nie, maar omdat jy wil. Ontspanning is nie opsioneel nie, dis noodsaaklik!

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]