38 WENNER, JY! jou gees Articles www.voelgoed.co.za

WENNER, JY!

WENNER, JY!

Jy het seker al baie definisies van die woord "wenner" gehoor, en dan jou kop geskud en gesê dis nie iets wat jy kan wees nie.

2009-10-13

Kom ons kyk hoe jy hierdie beskrywing van ’n wenner kan word: “’n Wenner is eintlik net ’n verloorder wat nooit moed opgegee het nie.”

Richard Branson kry ook nie alles reg nie

As jy mooi oor die saak dink, is jy óf besig met ’n probleem óf jy het pas klaargespeel met een óf jy is op pad na die volgende een.

Niemand spring teëspoed vry nie. Ook nie die rykste, suksesvolste mense nie. Vat nou maar die veelgeroemde entrepreneur en Virgin-baas, Richard Branson. Toe hy nou die dag ’n nuwe wêreldrekord probeer opstel het deur die Atlantiese oseaan op ’n seiljag saam met sy kinders oor te steek, het sy poging klaaglik misluk.

Maar hy het hom nie daardeur laat afsit nie. “Dis was darem verskriklik lekker ook,” het hy met ’n breë glimlag gesê. “En nou het ons iets om aan te werk en weer te probeer.”

En dít is waar die geheim lê: by jou ingesteldheid. Want jou sukses hang nie af van hoe min of baie jou probleme is nie, maar hoe jy kies om dit te benader: as ’n groot tragedie of ’n avontuur van nuwe lesse en geleenthede waardeur jy kan groei ... in geloof én karakter.

Dit is ook die opvatting van Jim Tressel, een van Amerika se mees gerespekteerde voetbalafrigters. Hy het na honderde goeie en swak wedstryde besef dat die waardevolste lesse oor sukses nie uit jou oorwinnings geleer word nie, maar uit jou voorbereiding vir ’n wedstryd en jou mislukkings op die veld.

Die pad na sukses begin lank voor die eintlike wedstryd, en dis ’n reis wat aanhou nadat die eindfluitjie al geblaas het.

Voor die wedstryd

STEL JOU IN AS ’N WENNER!

Sukses beteken nie dat jy weet hoe om probleme te vermy of ongeskonde daaruit te kom nie. Dit beteken om ’n ingesteldheid te hê van: “Dit maak nie saak wát op my pad kom nie, níks gaan my onderkry nie.”

Daar is baie beloftes in die Bybel wat jou hiermee kan help. Deur die krag van Jesus Christus kan jy alles verduur wat jy moet verduur – dink maar aan die apostel Paulus se swaarkry. Daar is die belofte dat die Here altyd by jou is en jou nooit in die steek sal laat nie, en die wonderlike versekering dat Hy in alles meewerk sodat die goeie uiteindelik daaruit kan spruit, tot jou voordeel.

GLO!

Glo dit! Gló die beloftes wat hierbo staan. Elkeen is ook vir jóú bedoel. As jy oor die rand van die afgrond val en ten volle op die Here vertrou, sal een van twee dinge gebeur: Hy sal jou vang of Hy sal jou leer vlieg.

Elke probleem is ’n tydelike situasie. Dit is waar jy jou geloof oefen en jou karakter bou sodat jy die volgende uitdaging beter sal kan hanteer.

OEFEN GETROU


’n Sportvrou moet getrou oefen om suksesvol te kan wees. Netso moet jy gedissiplineerd wees in jou voorbereiding vir die uitdagings wat voorlê. Hoe doen jy dit? Jy werk elke dag aan jou verhouding met die Here. Jy luister wat Hy in die Bybel vir jou sê, jy dink daaroor en jy praat met Hom. Dan sal jy sterk kan staan as die volgende probleem voor jou opdoem.

Speeltyd

DINK REG

Wat jy dink, bepaal hoe jou lewe gaan wees. So staan dit ook in die Spreukeboek.

Is dit dalk hoekom jy partymaal nie van jou probleme kan loskom nie? Omdat jy heeltyd aan jouself as ’n mislukking dink?

Máár – dit wat in jou lewe skeefloop, bepaal nie wie jy is nie. As jy aan die Here God behoort, weet jy mos wie jy is: ’n kind van die Koning, iemand wat deur die krag van Christus kan oorwin.

Lees die Bybel aandagtig en onderstreep elke eienskap wat jou identiteit in God se oë bepaal. Herinner jouself daaraan dat probleme en mislukkings niks aan jou ware identiteit verander nie.

ERKEN AS DIT JY WAS


Partymaal ontstaan ons probleme deur ons eie toedoen. Ons is ongehoorsaam, hardkoppig, beterweterig of weier om te vergewe. Moenie dan vassteek by die probleem nie, maar gaan soek die oorsaak. Erken dat jy verkeerd opgetree het, vra om vergifnis waar jy moet en bied aan om goed te maak waar dit moontlik is. Laat dit vir jou ’n les vir die toekoms wees.

SPANWERK WERK

Moenie jou probleme alleen probeer oplos nie. Om jou af te sonder en te voel dat jy te sleg of te skuldig of te onwaardig is of skaam behoort te wees om jou probleem met ander te deel, is ’n doodloopstraat.

Steek jou hande na ander uit en vra hulp. Betrek jou vriende, familie of kollegas wat omgee en op wie jy kan vertrou. ’n Gedeelde las is immers ligter om te dra.

Voor die eindfluitjie blaas

GEE OOR EN VIND VREDE


Dis deel van die menslike natuur om te dink dat ons onsself uit ’n situasie kan red deur daaroor te tob en allerhande planne te maak. Eers as ons alles probeer het en terugkyk, besef ons dat ons planne op niks uitgeloop het nie.

Spaar jouself die frustrasie en bekommernis deur jou probleem van die begin af vir die Here te gee. Vertrou Hom vandag vir ’n uitkoms – syne, op sý tyd, sy plek en sy manier, en nie joune nie. Gee die saak volledig aan Hom oor; dan sal jy werklik God se vrede ervaar “wat alle verstand te bowe gaan”.

Hoe, en saam met Wie, jy die reis aanpak, maak jou ’n wenner.


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]