38 DIE VRUG VAN JÓÚ GEES jou gees Articles www.voelgoed.co.za

DIE VRUG VAN JÓÚ GEES

DIE VRUG VAN JÓÚ GEES

Verbeel jou elke mens is 'n trossie druiwe. As elke druiwekorrel een van die vrugte van die Gees verteenwoordig, hoe lyk jou druiwetrossie?

2009-10-08Benescka Botha

Is jou korrels koeëlrond en sappig of lyk hulle meer na uitgedroogte rosyntjies?

Roomys, klere, appels en pere. Dít is die items wat ’n winkel moet verkoop of ’n boom moet dra om onderskeidelik as ’n roomyswinkel, ’n klerewinkel, ’n appel- of peerboom bekend te kan staan.

So moet iemand wat haarself ’n Christen wil noem ook sekere eienskappe hê. In Galasiërs 5 word dié eienskappe gelys as die vrugte van die Gees, naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Dra jy vrugte van plastiek?


Ek onthou ’n dag toe ek saam met my ouers by mense gaan kuier het. Op die koffietafel was ’n groot bak sappige druiwe – my mond het behoorlik gewater. Toe die gasvrou die vertrek verlaat het ek soos ’n weerligstraal opgespring om een van die druiwekorrels te pluk. Tot my ontsteltenis moes ek uitvind: Dit is plastiek!

Is dit nie dieselfde met sommige mense nie? Hulle lyk goed aan die buitekant; soet en sappig. Ons stal hulle op voorblaaie van glanstydskrifte en koerante uit en hulle is ons helde. Maar as die ware toets kom – wat is aan die binnekant?
Die Here is meer geïnteresseerd in dit wat aan jou binnekant is – juis omdat goeie dade misleidend kan wees. Maar die Woord waarsku ook in Jakobus 2:26 dat ‘geloof wat nie tot dade kom nie, dood is’.

Dra almal dadelik vrugte?


As jy ’n jong plantjie by die kwekery koop en in jou tuin uitplant, gaan dit nie onmiddellik vrugte dra nie want die plantjie se wortels moet eers by die omgewing aanpas en in die grond afgroei om water en voedingstowwe te kry.

Nuwe gelowiges is dieselfde as hierdie plantjie. Hulle moet ook eers ‘aanpas’ by die nuwe omgewing en leefstyl en die beste ‘kunsmis’ vir dié groeiproses is die Woord van die Here (Rom.10:17).

Wat verhoed ons om vrug te dra?

Wanneer ons onbelyde sondes in ons lewe vertroetel, begin ons grondlangs groei. Ons kwyn weg en dra geen vrugte nie. Dit is dan dat die Boer met pynlike maatreëls ingryp. As daar dus moeilike, soms pynvolle, oomblikke oor jou pad kom (en jy weet dat sonde die oorsaak daarvan is), moet jy onthou dat die Here besig is om aan jou te snoei.

Vrugte kom met tyd


Bekende outeur Rick Warren sê: “Ons moet onthou dat die vrug van die Gees nie iets is wat onsself kan bewerkstellig nie. Dit is iets wat God in ons tot stand bring. Maak jouself dus vol met die Woord. Vra die Heilige Gees om volle beheer oor jou lewe te neem. Aanvaar jou omstandighede as deel van God se plan om jou lewe te verander. Vra Hom om jou te help om reg op te tree teenoor moeilike mense en in slegte situasies, net soos Jesus sou doen.”

God is besig om aan jou druiwetrossie te werk en seker te maak al die korrels is koeëlrond en sappig. Plant jouself in Hom en voor jy jou oë uitvee is jy dalk die trossie wat Hy sal kies as Hy deur die laning stap!

Kommentaar
  • Dankie sus!! Net mense buite kan sien en se of daar werklike goeie vrugte is. Miskien dink ek so maar dit wat ander sien is nie so eg nie????
  • Ek glo dat ek 'n Christen is, maar die laaste paar dae voel dit leeg in my en voel dit asof ek onvervuld is in my Geloof. Ek dink dit het te doen met die feit dat ek bitter graag my 2 jarige wil begin leer van Jesus. Hy het sy kinder Bybel waarvoor hy bitterlik lief is en hy loop elke aand met hom rond, maar sodra ek vir hom begin lees uit die Bybel, trek iets anders sy aandag. Ek is so bang die Wegraping is naby en dat ek nie genoeg doen om my liefling kind van my Liefling Pa te leer nie. Wat kan ek doen?
  • Dankie vir hierdie bemoedigende woorde , ek het vandag weer selfondersoek gedoen en ek wil weer my krys optel. Ek het die afgelope tyd baie ver van die Here af gelewe en ek wil weer tot inkeer kom, bid asb vir my

gesels saam


argief