GOD SE SKULD?
'n Jong meisie in die Kaap verkrag toe sy op 'n eensame pad gaan draf het. Agterna het sy in 'n koerantberig gesê: “God het 'n doel daarmee gehad.”
2009-07-14Hennie Stander
'n Jong meisie in die Kaap verkrag toe sy op 'n eensame pad gaan draf het. Agterna het sy in 'n koerantberig gesê: “God het 'n doel daarmee gehad.”
2009-07-14Hennie Stander
Mathys Roets is onlangs verlam na ’n motorfietsongeluk. Volgens koerantberigte het Mel Botes, sy vriend en medesanger, daarna gesê: “Niemand kan geblameer word nie. Dit was God se plan.” Kort tevore is ’n jong meisie in die Kaap verkrag toe sy op ’n eensame pad gaan draf het. Agterna het sy in ’n koerantberig gesê: “God het ’n doel daarmee gehad.” Wanneer ’n kind sterf, vertroos mense mekaar dikwels met die woorde: “God het die mooiste blommetjie kom pluk om in sy tuin te plant.”
Wat die heidene sou sê
Ek weet dat die heidene in die antieke wêreld sou saamstem het dat dit Gód was wat al hierdie dinge veroorsaak het. Trouens, hulle sou gesê het: “Hierdie dinge is lank tevore reeds so vir jou bestem. Met jou geboorte is alle rampe en teëspoed wat oor jou gaan kom, klaar neergeskryf. Daar is absoluut niks wat enigiemand kan doen om dit te vermy nie. Wat moet gebeur, sal gebeur. Al wat jy kan doen, is om na sterrewiggelaars en fortuinvertellers te luister om uit te vind wat op jou wag. Maar jy sal die rampe nie kan vermy nie, want die gode het alles haarfyn beplan.”
Soms kry ’n mens hierdie heidense opvattings by Christene ook!
Dis jou karma
Die Boeddiste sal redeneer dat al die rampe jou karma is. Jy is eintlik self verantwoordelik vir alles wat oor jou kom, want wat nou met jou gebeur, is net die gevolge van wat jy in jou vorige lewe gedoen het. Maar daar is darem ’n troos. As jy in hierdie lewe goeie keuses maak, verseker jy daarmee dat dit met jou beter sal gaan in jou volgende lewe.
Die waarheid
Maar wat is die Bybelse beskouing hieroor? Is dit Gód wat agter al ons hartseer en pyn sit? Ek dink nie so nie. Die Bybel sê in Jakobus 1 vers 17: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” Die goeie en mooi dinge kom dus uit God se hand. Daaruit moet ons aflei dat die slegte en bose goed nie van God af is nie.
Maar waar kom al die slegte dinge en booshede dan vandaan? Dit is eie aan hierdie wêreld. Jesus het wel die Bose oorwin toe Hy aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het, maar die Bose is steeds besig om sy laaste stuiptrekkings te gee en rig nog skade aan. Hy sal sy finale doodsteek kry wanneer Christus ons weer kom haal. Intussen maak hy wel amok, en so kry God se kinders in die kruisvuur seer.
Is ek self die oorsaak?
Daar is natuurlik ’n ander waarheid wat geen mens graag wil hoor nie. Dit is naamlik die feit dat ék dikwels self die oorsaak van my eie rampe kan wees. As ek byvoorbeeld ’n ongesonde leefstyl of gewoontes handhaaf, ’n hartaanval kry en sterf, is dit nie God wat sy “mooiste blommetjie kom pluk het nie”. Dan is ek self die oorsaak van my eie ramp, en ek self is daarvoor verantwoordelik dat my dogter dalk sonder ’n ma in haar trourok voor die kansel gaan staan. Dit is soos Spreuke 19:3 sê: “Sy eie dwaasheid bring ’n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.”
Ons is nie marionette nie!
Die vraag wat dikwels gevra word, is waarom God nie ingryp en keer as mense mekaar seermaak nie. Hoekom verhoed Hy dit byvoorbeeld nie as ’n rower ’n meisie wil verkrag nie? As Hy dit dan nie beplan het nie, hoekom verhinder Hy dit minstens dan nie?
Die antwoord is eenvoudig: God het aan die mens die vryheid gegee om te kies om reg of verkeerd te doen. Net soos enige ouer op ’n stadium aan sy kinders die vryheid gee om self te kies en dan ook die risiko te loop dat hulle verkeerd kan kies, so het God ook aan die mens die vryheid gegee om te kies, selfs om verkeerd te kies.
Hierdie keuses veroorsaak dikwels ontsaglike pyn en lyding, en Hy is inderdaad hartseer oor wat ons aan mekaar doen. Maar ons kan nie vir God blameer vir dit wat ons uit vrye wil aan mekaar of aan onsself doen nie.
In die paradys kon Adam en Eva ook kies. Mense kies dikwels, nes Adam en Eva, om verkeerd te doen in die mate dat God selfs “bedroef was dat Hy die mens op aarde gemaak het”, soos Genesis 6 verduidelik. Indien God elke keer ingryp en keer wanneer iemand verkeerd doen, het Hy nie werklik aan die mens ’n vrye keuse gegee nie. Dan bly die mens ’n marionet in God se hand.
Word ons nie gestraf nie?
Mense was nog altyd lief daarvoor om te dink God straf iemand wanneer ’n ramp die persoon tref. Maar dan verstaan ons nie die boodskap van die Nuwe Testament nie. Jesus het klaar ons straf aan die kruis gedra. As dit nodig was dat God ons nog ook so ’n bietjie moet straf omdat ons verkeerd gedoen het, beteken dit Jesus se lyding aan die kruis was nie genoeg nie. Daarom het Jesus dit ook baie duidelik gestel dat ons nie moet probeer om altyd ’n verband te soek tussen (byvoorbeeld) siekte en sonde nie. Lees gerus meer hieroor in Johannes 9.
Ons is nooit alleen nie
God veroorsaak nie ons rampe en ellende nie. Maar Hy staan ook nie onaangeraak deur ons hartseer nie. Nee, Hy staan bý ons, en Hy is saam met ons hartseer oor ons pyn en seerkry, ongeag wat of wie dit veroorsaak het.
En God kan ons help om hierdie hartseer en pyn om te draai tot iets moois in ons lewe. Daarom kan mense wat selfs die slegste ramp oorgekom het, steeds ’n beter mens aan die ander kant uitkom. As ons eerlik is, moet ons erken dat ons die beste lesse in ons lewe geleer het in die tye toe ons swaar gekry het, en nie in goeie tye toe dit voorspoedig gegaan het nie.
Dit is mos wat Romeine 8:28 sê: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”
Maar dit beteken nie God beplan die slegte nie. Dit beteken wel dat God die slegte wat gebeur, kan omskakel tot iets positiefs in ons lewe. ’n Pêrel het sy ontstaan juis te danke aan ’n irritasie in die skulp.
Moet egter nooit vergeet dat Jesus self die grootste lyding tydens sy aardse bestaan ervaar het nie. Ons ly saam met Jesus, maar ons kan ook saam met Hom oorwin!
- Ek stem saam. Die Here se in die Bybel ek het vir julle 'n lang lewe beplan, voorspoed en nie teespoed nie. Dit is nie die Here se wil as 'n kind/vrou verkrag word nie. Ongelukkig is die duiwel lustig en onthou elke mens het "freedom of choice"!
- Ek worstel juis met die vraag, is God dan nie in beheer van ons lewe nie? Ek dink ek kan 'n paar antwoorde uit hierdie artikel kry, ja Hy is! En die duiwel is nog steeds besig met sy streke, dit sien ons elke liewe dag om ons.
argief
HEMELVAART
'n Geskenk van boGELOOF HET NIE 'N HANDVATSEL
'n Stewige vashou aan GodWAT IS IN GOD SE HUIS?
... dalk 'n groot kombuis?GEBEDSHORLOSIE
Deur Liesel Krause-WiidJOU VRESE WEG BINNE 5 DAE
God is in beheer!DIE WONDERWERK BLOG
Onverwags en verstommendBID JY TEEN DIE PLAFON VAS?
Keer op keer besluit jy verkeerd. Of jou planne loop skeef – al het jy daaroor gebid. Waar is God dan?SPOKE VANDAG…
Bestaan spoke regtig of is dit net n mite? Kyk wat sê die kenners.BRING DIE KINDERS NA MY TOE!
“Ja, ek wil by die skool van God leer,” sê Lindsay (Graad 4) wat aanhou inkleur.STERRE LEES OF NIE?
Vrye keuse. Dít is een van die grootste gawes waarmee God ons mensdom geseën het. Maar mag jy sterre raadpleeg?























