10 LASTIGSTE SKOONHEIDSPROBLEME
Daardie tye wanneer jy voel jou lyf het jou verraai? Die troos is, jy is nie alleen nie.
2012-01-19
Daardie tye wanneer jy voel jou lyf het jou verraai? Die troos is, jy is nie alleen nie.
2012-01-19
Stekelhare op jou bene en ’n puisie as die hormone deurmekaar is, is erg genoeg. Maar as die beenhare ingroei en sweer en die veluitslag op snaakse plekke op jou lyf voorkom, kan dit groot verleentheid veroorsaak. Hier is ’n paar wenke om die top 10 skoonheidsblapse vas te vat.
Ons almal is al deur ’n puisie of twee in die gesig gestaar en moes met die seer van opgeblaasde ingewande saamleef. Dis gewoonlik net ’n paar uur se ongemak en verleentheid. Maar wat maak jy met die lastige skoonheidsprobleme wat jou lelik en onvroulik laat voel? Daardie tye wanneer jy voel jou lyf het jou verraai? Die troos is, jy is nie alleen nie. En die goeie nuus is, daar is raad.
1. Hare op jou ken
Hierdie hardkoppige haartjies verskyn gewoonlik saam met deurmekaar hormone. Moenie te veel karring nie, want dit kan inflammasie en irritasie veroorsaak. As daar net een of twee haartjies is, pluk dit uit met ’n stompneus-haartangetjie. As daar ’n hele klossie is of as dit geneig is om in te groei, is elektrolise beter. Die skoonheidsdeskundige gebruik ’n elektries gelaaide naald om die haarfollikel te vernietig. Dis ’n lang proses en taamlik duur, so, begroot genoeg vooraf.
2. Hare op die tone
Dis meer algemeen as wat enige vrou sal erken en vir die meeste vroue eindig haarverwydering in elk geval nie by die enkel nie. ’n Tuiswaksstelletjie is ideaal om daardie fyn haartjies op jou tone en die brug van jou voet in toom te hou. Dit neem net ’n paar minute en hoef eers na ’n paar weke herhaal te word. As jy egter nie kans sien om die haartjies te laat uitgroei voor elke waks nie, skeer dit liggies af met ’n skeermes en gebruik skeerroom, of seep en warm water, om die vel sag en glad te maak.
3. Hare om die tepels
Weereens kan deurmekaar hormone die skuld hiervoor kry. Hare om die areola is gelukkig meestal dunner en fyner as die hare op die ken. Dieselfde reëls geld egter om daarvan ontslae te raak: Pluk die haartjies doodeenvoudig met ’n haartangetjie uit. ’n Haartangetjie met ’n vierkantige punt kom selfs die fynste haartjie by en sal nie die dun vel op die bors stukkend knyp nie. As die plekkie egter rooi en opgehewe raak, is dit tyd om gespesialiseerde hulp te kry. Hare op die tepelarea reageer gewoonlik goed op elektrolise. Vir hardnekkige donkerder hare is laser ’n moontlikheid.
4. Swartkoppies op jou lyf
Swartkoppies op jou gesig is miskien nog aanvaarbaar, want jy kan grimering en sweet daarvoor blameer. Wanneer dit egter op jou skouers, bors en rug voorkom, is dit ’n perd van ’n ander kleur. Dis veral moeilik as dit op jou rug voorkom, want die oliekliere laat dit vermeerder en versprei. Indien die gewone akneemiddels nie werk nie, kan jy chemiese afskilfering, ekstraksie deur ’n dermatoloog of skoonheidsdeskundige, of selfs medikasie oorweeg.
5. Slegte asem
Om gereeld tande te borsel en te vlos help om gaatjies te voorkom en plaak te verwyder, maar dit kan partykeer ’n slegte asem verbloem. Maar die oorsaak van ’n slegte asem lê veel dieper: by jou tong en keel. Wanneer bakterieë in jou mond nie aan suurstof blootgestel word nie, gee dit ʼn slegte swaelreuk af. Die oplossing is om jou mond “suurstofryk” te hou deur gereeld water te drink en suurstofryke groente, soos pietersielie en seldery, te eet. Nog ’n wenk wat werk, is om twee maal per dag met ’n mondspoelmiddel wat chloordioksied bevat, te gorrel. Dit sal die swaelverbindings neutraliseer.
6. ’n Sterk liggaamsreuk
Sweet is ’n natuurlike reaksie en jou liggaam se wonderlike manier om jou liggaamstemperatuur te verlaag en jou teen hitte-uitputting te beskerm. Sweet is dus noodsaaklik. ’n Sterk liggaamsreuk word veroorsaak wanneer bakterieë wat gewoonlik op die vel voorkom, vinnig en in ’n klam donker omgewing vermeerder. So verander die sweet, wat gewoonlik reukloos is, in ’n liggaamsreuk, wat dan die probleem word. Die standaardoplossing is ’n sweetweerder met of sonder ’n deodorant. ’n Sweetweerder is ’n chemies saamgestelde produk wat oormatige sweet onderdruk, terwyl ’n deodorant help om die liggaamsreuk met ’n parfuum te verbloem.
7. Koorsblare
Koorsblare word deur ’n virus veroorsaak wat lewenslank in jou liggaam vertoef. Hierdie virus vra net ’n verkoue, spanning of sonblootstelling om dit te laat opvlam. Ongelukkig keer dit weer en weer terug. As jy gereeld met koorsblare sukkel gebruik ’n lipbalm wat ’n sonskerm bevat. Vra ook vir jou apteker watter plakkers en salf die beste sal wees vir jou om te gebruik. Foliensuur is ’n aanvulling wat help vir cholestrol maar wat ook die virus wat koorsblare veroorsaak onderdruk. Gesels egter eers met jou dokter of apteker oor al die moontlike opsies.
8. Soolvratte
Nog ’n virus wat jou lelik kan verniel, is soolvratte. Dit vorm sulke ronde blasies wat gewoonlik net op jou voetsole voorkom. As jy dit egter ignoreer, kan dit na ander dele van jou voete versprei. Soolvratte is ook baie aansteeklik. Hierdie virus skuil veral rondom swembaddens, spa’s, storte en selfs in salongereedskap en -voetbaddens. Daarom is dit ’n goeie idee om altyd plakkies te dra as jy by openbare geriewe moet swem of stort. Raadpleeg onmiddellik ’n dermatoloog om die vratte met vloeibare stikstof te brand of met laser te verwyder.
9. Aknee op jou agterstewe
Hierdie uitslag lyk nes puisies, maar anders as puisies, word dit deur hitte, oormatige wrywing en te stywe klere veroorsaak. Om dit baas te raak, het jy ’n bensoïelperoksied-room nodig. Die peroksied kan jou klere bleik, so, maak seker jy gebruik dit net in die aand en dra dan net jou oudste nagklere. Soggens kan jy sag aan die area druk met ’n salisielsuur-reiniger. Indien daar na ’n paar weke geen verbetering is nie, vra jou dermatoloog om ’n antibiotikum voor te skryf. ’n Goeie gewoonte is om katoenonderklere en los boklere te dra om so ’n veluitslag te voorkom.
10. Naelswamme
Swamme en bakterieë kom selfs by die beste skoonheidsalonne voor. In Suid-Afrika is daar geen regulasies wat aandring op die ontsmetting van saloninstrumente nie. Daarom is dit jou verantwoordelikheid om daarop aan te dring. Of neem jou eie saam. Een van die algemeenste swaminfeksies laat die voorkant van die nael van die naelbed af oplig. Die enigste manier om hierdie swamme te beveg is om die nael so ver moontlik terug te sny en die area dan met ’n antiswam-medikasie te behandel. Indien die probleem nie binne ’n maand opklaar nie, moet jy maar dokter toe.
Jy is nie die eerste en ook nie die laaste persoon wat met die een of ander netelige probleempie sukkel nie. Wat jy egter moet onthou, is dat daar altyd raad is vir selfs die grillerigste probleem. Vra net!
argief
MOOIER BENE IN NÉT 4 WEKE
Volg dié maklike wenke en jy kan dit ook in 'n kortbroek waag hierdie somer.ONDERLAAG - JOU NOMMER EEN WAPEN
Jy kan nog wegkom met goedkoop maskara en lipstiffie, maar die verkeerde onderlaag laat jou oud en afgeleef lyk.BIKINILYF IN TIEN MINUTE
Jy wil nie ure in die gimnasium deurbring nie, daarvoor is die lewe heeltemal te kort.SKOONHEID WAT JOU SAK PAS
Vroue spandeer soms geld op produkte wat onnodig is.JOU BOOB-ISSUES UITGESORTEER!
'n Volledige gids om jou boob issues op te los.DEURBRAKE WAT JOU MOOIER MAAK
Daar tóg nou en dan 'n skoonheidsproduk wat werklik jou skoonheidsroetine vir altyd verander.10 STER PRODUKTE
Uiteindelik! Die uitslae op die Ongesensorde toets van régte produkte!PROBLEEM-BORSTE? GEEN PROBLEEM!
As hulle nie te klein is nie, is hulle te groot. As hulle nie meer ferm en volrond is nie, jeuk jy om 'n plastiese chirurg te gaa...ELSABÈ SE SKOONHEIDSGEHEIME
Elsabe (Linda in 7de Laan) se grasieuse skoonheid strek veel verder en dieper as haar mooi fyn hande en ongekunstelde naels.JOU EIE KONKOKSIE
... fermer of fataal?


.jpg)




.jpg)

















