24 DÍT IS WAT JOU REGTIG OUD MAAK jou lyf Articles www.voelgoed.co.za

DÍT IS WAT JOU REGTIG OUD MAAK

DÍT IS WAT JOU REGTIG OUD MAAK

Ons weet almal dat rook en die son jou vel beskadig en jou oud laat lyk voor jou tyd.

2012-01-09

Tog het jou vel ’n paar onwaarskynlike vyande wat net so hard werk om jou oud en afgemat te laat lyk.  Die beste manier om jou vyand te beveg is natuurlik om hom te leer ken. 



Ons het lankal geleer dat die grootste “verouderaar” die son is, maar daar is baie ander skynbaar onskadelike aktiwiteite en faktore wat ook ’n nadelige invloed op jou gesig kan hê. Wie sou kon raai dat iets so onskadelik soos om elke dag jou gesig met warm water te was, jare kan byvoeg? En sou jy kon dink dat ’n gesonde draffie van vyf of tien kilometer jou wange met fyn aartjies kan besaai? Moenie verkeerd verstaan nie: Moenie ophou oefen nie (jammer daaroor!) of die stort vermy nie, maar jy kan baie doen om vroeë veroudering te pootjie.

Onwaarskynlike vyand 1: Jou tandeborsel

Wanneer jy na iemand kyk, evalueer jou brein onbewustelik die persoon se tandvleis-tot-tand-verhouding. Jou brein werk dan uit dat hoe meer tande en hoe minder tandvleis jy sien, hoe ouer is die persoon. Dis bloot omdat jou brein letterlik geprogrammeer is om te dink dat plomp, pienk tandvleis ’n teken van jeugdigheid is. “Dit is waar,” beaam tandarts, dr. Joe Oliver. “Langer tande beteken jou glimlag is nie in verhouding tot jou gesig nie,
wat jou ouer kan laat lyk. Om jou tande te hard te borsel kan maak dat jou tandvleis krimp, maar dieselfde geld ook vir te min borsel. Bakterieë wat op die tande en tandvleis agterbly, veroorsaak dat die onderliggende been verdwyn, en daarmee saam die tandvleis.

Gebruik daagliks ’n mondspoelmiddel (wat die tande effens bleik) soos Brite Smile Crystal-Clear & Alcohol-Free Mouthwash (R99), beskikbaar by sekere tandartse. ’n Goeie elektriese tandeborsel verwyder twee maal soveel plaak as ’n gewone borsel, en dit verhoed ook dat jy te hard borsel.

Onwaarskynlike vyand 2: Té warm badwater

Niks is meer ontspannend as om in ’n stomende bad te gaan lê na ’n lang, uitmergelende dag nie. Maar wees gewaarsku: Warm water laat jou bloedvate verwyd. Namate ons ouer word, word die wande van die bloedvate swakker, wat tot ’n permanente rooi gloed aanleiding gee. Kosmetiese chirurg, dr. Sebach, waarsku ook daarteen om jou gesig met té warm water te was. “Jy loop die risiko dat jou aartjies kan bars.” Dit kan ook rosacea (’n ernstige veluitslag) aanhelp by diegene wat geneig is om te bloos en om baie rooi te word. Dieselfde kan ook in die sauna gebeur. Die reaksie op kort termyn (vlekke en merkies) is nie goed vir jou vel nie, en op lang termyn kan langdurige inflammasie veroorsaak dat jou vel heelwat vinniger verouder.

Coverderm Vanish Visage (R624, 30 ml) werk uitstekend vir rooiheid en couperose – ’n veltoestand wat gekenmerk word deur die verskyning van fyn, rooi aartjies op die gesig en ander dele van die liggaam. Dit werk veroudering teë en maak die vel fermer met ’n strelende uitwerking. Eet ook gereeld kos ryk aan vitamien K, soos spinasie, blomkool en spruite, wat help om die selwande te versterk.

Onwaarskynlike vyand 3:  Jou oefenprogram

Oefening stimuleer bloedsirkulasie en knap jou spiere op, so, dit is seker dan die sleutel tot jeugdigheid? Ja, jou vel kan wel voordeel trek uit oefening, maar te veel oefening kan lei tot dieper plooie, gebroke aartjies en ’n onegalige velkleur. Wees versigtig vir die elemente en vir die effek wat swaartekrag op jou vel kan hê wanneer jy gereeld en lang afstande hardloop. Beteken dit nou jy kan nou rustig op die bank bly sit met ’n tydskrif? Nee, dit gaan maar weer oor die ou riglyn: Hou matigheid voor oë. 

Probeer lae-impak-oefening, soos swem of fietsry. Maak ook seker jy gebruik ’n produk soos Decleor Hydra Floral Anti-Pollution ‘Flower Nectar’ Moisturising Cream (R495), wat jou vel laat ontspan, dit verfris en hidreer, en dit boonop teen omgewingsfaktore en besoedeling beskerm.

TOETS JOUSELF

Verouder jou vel te vinnig? Jy mag dalk fantasties voel, maar voel jou vel dieselfde? Vind uit met hierdie vraelys.

1.    Hoe sal jy jou sonbeskermingsgewoontes beskryf?
A    Ek gebruik elke dag ’n sonskerm of ’n vogroom met ’n SBF.
B    My onderlaag bevat ’n SBF.
C    Ek gebruik sonskerm wanneer ek op vakansie gaan.

Beste antwoord: A
Sonskade is die belangrikste faktor wat tot veroudering lei, dus het jy spesifiek ’n sonskerm nodig. ’n Afgewaterde weergawe in jou vogroom of onderlaag is nie voldoende nie. Die Amerikaanse dermatoloog Zoë Draelos het ontdek dat die hoeveelheid beweging in jou gesig maak dat enige SBF in grimering vanaf jou wange beweeg, en uiteindelik in jou hare beland.

2.    Watter van hierdie eet jy die meeste?
A    Wortels, spinasie, tamaties, appelkose
B    Aartappels, patats, pampoen
C    Blaarslaai, komkommer, ertjies, bone

Beste antwoord: A
Enige vars groente verskaf antioksidante, maar navorsing deur die Universiteit van Bristol, Engeland, het bewys dat oranje, rooi en donkergroen groente die hoogste vlakke van die kragtige antioksidant, betakaroteen, bevat. Dis hierdie antioksidant wat jou vel ’n spesifieke gloed gee wat jou jonk en aantreklik laat lyk.

3.    Hoe lyk jou stresvlak?
A    Ek moes die afgelope jaar ’n klomp groot kwessies (soos ’n egskeiding of ’n finansiële krisis) verwerk.
B    Ek het eintlik net af en toe baie druk by die werk (soos spertye).
C    Niks groots het my regtig vir ’n lang tyd bekommer nie.

Beste antwoord: C
Erge stresvolle episodes verouder jou vel. Studies het getoon dat een van ’n tweeling wat deur ’n egskeiding gegaan het of antidepressante gebruik, twee jaar ouer as haar suster lyk. Stres verander die vlak van steroïedhormone in die vel, wat kollageen kan verswak. Dit is al bewys dat selfs stres wat van korte duur is (soos om ’n toespraak te maak of ’n spertyd wat nader kruip), ’n invloed op die immuniteit van die vel kan hê.

4.    Rook jy sigarette?
A    Nee, ek het nog nooit gerook nie.
B    Nee, maar ek het altyd gerook.
C    Ja.

Beste antwoord: A

Rokers lyk oor die algemeen vyf tot sewe jaar ouer as wat hulle is. Die rede hiervoor is waarskynlik dat rokers se velle 40% dunner as nie-rokers s’n is. Rook wakker die produksie van ’n ensiem aan wat die kollageen vernietig. Voeg blootstelling aan die son by, en jy het ’n dodelike kombinasie.

5.    Hoe gereeld het jy seks?
A    Selde of nooit
B    Een of twee keer per maand
C    Meer as drie maal per week

Beste antwoord: C
Dit mag dalk vreemd klink, maar vroue wat gereeld intiem is, kan tot 12 jaar jonger as hulle werklike ouderdom lyk, volgens navorsing deur Skotland se Koninklike Edinburg Hospitaal. Gereelde seks was die tweede grootste rede vir jonk lyk. Die goeie nuus is dat oefening die grootste is, en jy het nie eers ’n maat nodig om dit te doen nie!

Kommentaar

gesels saam


argief