24 TYDLOSE SKOONHEIDSWENKE jou lyf Articles www.voelgoed.co.za

TYDLOSE SKOONHEIDSWENKE

TYDLOSE SKOONHEIDSWENKE

Ontdek die beste truuks!

2010-08-25Liezl Heidtmann

En dis nie die nuutste, duurste behandeling, of ’n room vol egte goud nie ...

Wanneer jy jou vriendin vra hoe om van donker sirkels om jou oë ontslae te raak, is die kanse goed dat sy vir jou ’n lysie gaan uitpluk so lank soos die snelweë tussen Kaapstad en Pretoria. Want skoonheidswenke is volop. Maar nie alle skoonheidswenke werk ewe goed nie. Vra maar vir enige vrou wat ’n klomp geld spandeer het op ’n wonderproduk, net om teleurgesteld te wag vir die “wonder”-werk. Maar ander wenke werk weer verbasend goed.

Daarom het ons vir die model en aktrise, Elrinda du Toit, gevra om ’n paar populêre skoonheidswenke op die proef te stel. En ’n paar manne, wat anoniem wou bly, het gestem vir hulle gunsteling-look.

GLIMLAG!

Die teorie: Baie vrouetydskrifte het al beweer dat ’n glimlag jou gesig dadelik lig, jou meer spontaan en toeganklik laat lyk en sommer jonger ook. En hulle was reg!

Glimlag want: Dis jou beste wapen wanneer jy lelik voel. Jy kan hoe mooi gegrimeer wees, soos ’n supermodel lyk, in olyfolie bad en nog wat! Maar as jou gesiggie suur is, gaan min mense in jou rigting kyk. En om alles te kroon is ’n glimlag spotgoedkoop ook.

’n Studie in Oostenryk het bevind dat deelnemers ’n glimlag meer aantreklik en betroubaar vind as ’n neutrale gesig, of selfs ’n geheimsinnige glimlag. ’n Ander studie in Detroit het weer foto’s geanaliseer en bevind dat die mense wat die breedste op foto’s glimlag, langer leef!

Wat mans sê:
•    “Wanneer sy oopmond glimlag, lyk sy baie meer spontaan en aantreklik. Ek sal maklik met hierdie vrou kan gesels. Sy lyk nie of sy met haar neus in die lug rondloop nie.”
•    “Daar is min dinge wat my so afsit soos ’n nors vrou wat in die hoek sit en met niemand gesels nie. ’n Glimlag laat haar dadelik meer oop lyk.”
•    “Ek hou van haar. Sy lyk vriendelik en oop. Dié model is natuurlik pragtig, maar selfs vroue wat gewoon is, lyk mooier as hulle vriendelik is.”
•    “’n Glimlag is mooi. Maar niemand kan permanent met ’n glimlag op hulle gesigte rondloop nie. Iemand wat die lewe leef, is mooi. En dit beteken trane en woede ook.”
•    “Solank die glimlag eg is, want min dinge is so lelik soos ’n vals een. Loop dan eerder en frons.”

 “Ek maak aarbeie fyn en meng dit met ’n bietjie koeksoda voor ek my tande daarmee borsel. Dit hou my glimlag skitterwit.” – Catherine Zeta Jones

OVULASIE!

Die teorie: Wanneer jy ovuleer, is jou estrogeenvlak hoër. Meer estrogeen beteken ’n gladder vel, want dit verminder olieproduksie, wat beteken jy sukkel minder met puisies. En dan is estrogeen ook verantwoordelik vir ’n blink haredos.

Jy is mooi wanneer jy ovuleer, want: Dit is moeder natuur se manier om te verseker dat ons spesie voortbestaan. Wanneer jy ovuleer, is jy op jou vrugbaarste en daarom ook op jou mooiste. Mans moet jou nou aantreklik vind! Dis ook die tyd wanneer jy meer selfversekerd en spontaan voel. Miskien selfs ’n bietjie roekeloos ...
Ginekoloog, dr. Annemie Shuda van George, sê dat hoë ’n estrogeenvlak jou beter laat voel en lyk. “Na ovulasie neem jou progesteroonvlak toe en dit beteken vogterughouding, hoofpyn en premenstruele sindroom, wat slegte nuus beteken vir jou voorkoms.”

’n Man sê: “Sy lyk selfversekerd op dié foto en verbeel ek my of is daar ’n stoute glimlag?”

OEFENING!

Die teorie: Wanneer jy oefen, verbeter jou bloedsirkulasie wat beteken meer bloed kan suurstof en voedingstowwe na jou vel toe neem. Jy spog met ’n mooier gelaatskleur en rooier wange.

Oefen vir skoonheid want: Dit laat jou vel gesond lyk. Wel, geen vrou gaan beeldskoon lyk direk na sy geoefen het nie ... maar die voordele kom effens later. Gaan stort daarom eers en sit bietjie grimering aan voor jy hierdie wenk probeer. Biokinetikus, Ilani Richards van Corelli Wellness Centre in Pretoria sê: “Jy sweet lekker, wat jou porieë laat oopgaan en die vuilgoed kom uit. Maar was jou gesig direk na jy geoefen het om van die sweet op jou vel ontslae te raak.”
Dermatoloog, dr Lizmare Bronn van Medi-clinic in die Paarl, sê daar is geen studies wat bewys dat oefening die vel direk verbeter en jonger hou nie. “Maar daar is genoeg bewyse dat oefening baie voordele inhou vir die liggaam in geheel en dit sluit dan ook die vel in. Oefening verbeter sirkulasie en dit beteken meer voedingstowwe en suurstof word na die organe, insluitend die vel, vervoer. Daar is enkele klein studies wat toon dat aknee verbeter word deur oefening, en dis dalk omdat oefening stres verlig.”

Sy opinie: “Die model gloei! En ek is mal oor haar rooi wangetjies. Tog glo ek nie alle vroue kan so mooi lyk as hulle klaar geoefen het nie.”

’N GESIGBEHANDELING!

Die teorie: Boeke is al vol geskryf oor die perfekte gesigbehandeling. En daar is een vir elke gier, of jy nou ’n fermer vel, ’n beter gelaatskleur of ’n afskilfering begeer. En volgens meeste leesstof werk die behandelings werklik. Maar gaan jou man die verskil sien?

’n Gesigbehandeling: Ons model het die Placecol Platinum RF Nonsurgical Facelift probeer. Radiofrekwensiegolwe word gebruik om die vel binne te dring, weefsel te verhit en sodoende selle te genereer. Die behandeling beloof onmiddellike en langtermyn resultate. Elrinda se vel het fermer gelyk. “My vel het bietjie geblink direk na die behandeling, maar dit het gladder gevoel en ek kon ’n verskil sien in kleur en tekstuur, veral die volgende dag. Ek sal weer vir so iets wil gaan!”

Wat hy sê:
“Sy lyk mooi en natuurlik, selfs al het sy grimering aan. Dis jou tipiese meisie van langsaan.”
   
JOU SKOON GESIG

Die teorie: Jy lyk op jou mooiste sonder grimering. Grimering steek jou blosende vel weg en onderlaag laat jou onnatuurlik lyk, veral in die verkeerde kleur. Die meeste vroue het net ’n bietjie verbloemer en maskara nodig om op hulle beste te lyk.

Ons het agtergekom: Mans hou van grimering, selfs al ontken hulle dit. Die geheim is om dit nie te oordoen nie. Al is ons model beeldskoon sonder grimering, het haar onopgemaakte gesig die minste stemme gekry. Maar as jou vel mooi is, lyk jou grimering ook gladder en meer natuurlik.

Wat hy sê: “Ek sou haar raakgesien het, al het sy nie grimering aan nie, maar die meeste vroue het ’n bietjie hulp nodig. Dit beteken nie jy moet jouself toeplak nie. ’n Natuurliker voorkoms is beter.”

Is dit nie ’n verligting dat skoonheid eenvoudiger is as wat jy baiemaal dink nie? En jy het gedink duur rome gaan jou mooier maak, maar toe is dit al die tyd jou glimlag!

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]