24 “SMEUL SOOS ‘n SUPERMODEL” jou lyf Articles www.voelgoed.co.za

“SMEUL SOOS ‘n SUPERMODEL”

“SMEUL SOOS ‘n SUPERMODEL”

Gina Athans was Mej. Tiener, is getroud met 'n prins en topmodel. Wens jy jy was sy? Moenie begeer om jou lewe te verruil vir Gina s'n nie – gebruik net haar slim planne vir goed voel en mooi lyk.

2009-09-22Ryno Mulder

Min mense sal my seker regtig glo wanneer ek vertel dat modelwerk vrek harde werk is. Dis eintlik net glansryk op die blaaie van ‘n modeboek. Agter die skerms is ons dae gevul met mooimaak truuks, tonne selfdissipline en lag met ‘n traan. Want soms voel ons ook vieslik ... en vet. Op daardie dae val ek terug op my 10-punt regruk plan. Probeer jy dit ook. Dis in elk geval heelwat beter as om jouself te sit en jammer kry!

1    Geluk wys in die manier waarop jy lag. En dit verhelder jou hele gesig. Dis my nommer een skoonheidsreël: maak dinge aan die binnekant reg. Wanneer jou hart, kop en lyf nie saamwerk nie, ontstaan daar ‘n wanbalans. Wat een of ander tyd sy tol gaan eis. Ek is ‘n aanhanger van positief dink. En dis iets waaraan jy elke dag moet werk. Strekoefeninge help nogal, omrede jy moet konsentreer en jou asemhaling kontroleer. Dit maak my kalm, daarom oefen ek elke dag.

2    Maak seker jy eet gesond. Dít alleen sal jou algehele welstand ‘n hupstoot gee. Onthou: wat jy insit, kry jy uit. 

3    Slaap genoeg. Dit gee jou liggaam tyd om te herstel. Ek gaan slaap vroeg en staan vroeg op. ‘n Skoonheidslapie is meer waardevol as wat meeste mense besef.

4    Enige dwelm is sleg vir jou. Alkohol en sigarette ook. Dit verniel jou lyf.

5    Anders as wat die media mens soms laat glo, is minder meer. Veral wanneer dit by skoonheidsprodukte kom. Ek glo mens kry beter resultate juis deur minder te gebruik. Ek fokus eerder op my goeie gelaatstrekke en gebruik goed wat my nie ‘n fortuin kos nie.

6    Krul jou wimpers. Jy sal verbaas wees hoeveel groter dit jou oë laat lyk.

7    Ek gebruik ‘n rooskleurige tint op my lippe. Dit laat my mond voller lyk en is dan ook ‘van nature’ pragtig pienk!

8    Moenie wild en wakker wenkbroue uitpluk nie, asseblief? Vol wenkbroue lyk veel beter en is nou vreeslik ‘in’. En sê nou dit groei nooit weer terug nie? Wenkbroue is die raam van jou gesig, wees dus versigtig wat jy daarmee doen.

9    Skoon hare lyk sag en is vroulik en romanties. En dis binne almal se bereik. ‘n Wonderlike haarbehandeling is doodgewone sonneblomolie. Veral vir hare wat chemies beskadig is. Ek vryf die olie in my hare in en los dit sommer vir twee ure op ‘n slag aan. Wanneer jy dit afwas, vryf eers ‘n handvol sjampoe aan jou kop voor jy water byvoeg. Masseer jou hare deeglik met die sjampoe en spoel dit dan af. Dit draai enige bad hair day op sy kop!

10    En voete. Dit help g’n jy is pragtig maar jou voete lyk goor nie. ‘n Moeitelose tuisbehandeling is amandelolie. Smeer jou voete net voor slaaptyd met amandelolie in en trek ‘n paar sokkies aan. Die sokkies help dat jou voete die olie absorbeer en dit hou jou lakens skoon. Hierdie boereraat sal jou heerlik laat ontspan en maak skurwe hakskene seepglad. Moet nooit jou voete afskeep nie. Onthou, hulle werk heeldag kliphard om jou rond te dra!

GINA SE WENK
Ek is gek oor lip-tint. Dit is waterig soos voedselkleursel en vlek jou lippe donkerder vir ‘n paar uur. En dit smeer nie aan jou klere af nie. Probeer dit gerus.



argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]