8 GLASE WATER – 'N MITE?
Jy móét 8 glase water per dag drink! Dit is die skoonheidsmantra van ons eeu. Hóé waar is dit? Ons het die kenners gevra om die water-mite op te weeg.
2009-04-13Ryno Mulder
Jy móét 8 glase water per dag drink! Dit is die skoonheidsmantra van ons eeu. Hóé waar is dit? Ons het die kenners gevra om die water-mite op te weeg.
2009-04-13Ryno Mulder
Water is gesond. Om agt glase water te drink hou jou vel ferm en vogtig, dit gee jou blink hare en helder oë en laat jou langer leef. Dis mos logies. Of is dit? Nie noodwendig nie, sê die mense wat weet. ’n Paneel skoonheidspesialiste – van ’n plastiese chirurg tot die land se top dieetkundige – skei feit van fiksie oor die 12 algemeenste aannames oor water. Hier is hulle opinies. Jy kan self die oordeel fel ...
1. Jy moet ten minste agt glase water per dag drink om goed te lyk.
“Agt glase water per dag is nie wetenskaplik [as voorvereiste vir skoonheid en gesondheid] bepaal nie”, sê René Smalberger, die president van die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika. “Mens het ’n toereikende hoeveelheid vloeistof per dag nodig, maar dit hoef nie noodwendig net water te wees nie. ’n Beter riglyn om mens se vloeistofinname te handhaaf ,is om na die kleur van jou urine te kyk – dit behoort liggeel te wees. Indien dit donkergeel is, moet jy jou vloeistofinname verhoog.”
2. Ek gaan ’n gloeiende vel sonder aknee hê as ek genoeg water drink.
“Dis glad nie die geval nie.” René verduidelik. “Vloeistof is belangrik vir jou vel se gesondheid, maar die meeste van die tyd word aknee veroorsaak deur ’n wanbalans in jou hormone. Ook in mans is aknee gewoonlik die gevolg van ’n hormoonversteuring.”
3. My oë sal witter lyk as ek meer water drink.
“Waar kom mense aan die idee?” antwoord René toe ek dit aan haar noem. “Dit is nog nooit wetenskaplik bewys nie,” troef sy dit.
4. Om heelwat water te drink, sal die selluliet op my boude en bobene verminder.
“Selluliet is vetselle wat ’n klonterige voorkoms kry en die veloppervlak ongelyk maak. Water kan ongelukkig nie vetselle laat wegsmelt nie,” sê Sharon Pillay, ’n verteenwoordiger van Weigh-Less Health & Weight Management. Oormatige waterinname kan eerder waterretensie veroorsaak, wat jou meer pofferig kan laat lyk.
5. My haardos is gesonder as ek baie water drink.
Elma Titus, ’n trichokundige oftewel ’n kopvel- en haarspesialis voel dat ’n genoegsame hoeveelheid water definitief sal help om jou hare mooi en bevogtig te hou. “Hare bestaan uit die elemente koolstof, waterstof, suurstof, swawel en stikstof. Wanneer ’n mens genoeg water drink, kry jy die kwota suurstof sowel as waterstof in wat nodig is.”
6. Ek kan gewig verloor deur water te drink.
Volgens Sharon Pillay “is ons dikwels eintlik dors, maar dan eet ons iets. Drink water sodat die ‘hongerpyne’ weggaan en sodoende kán water bydra to gewigsverlies.”
7. As jy water drink, verteer jou maaltye beter.
“Water affekteer nie die absorpsie van voedingstowwe op ’n goeie of slegte wyse wanneer jy kos verteer nie, so jy kan maar iets drink terwyl jy eet,” sê Sharon. Medici noem dat vloeistof wel nodig is om ’n sagte stoelgang te vorm, indien dit saam met heelwat vesel ingeneem word.
8. Om water te drink, is die beste manier om te ontgif.
Aldus René Smalberger het “ons liggame baie oulike sisteme [soos die lewer en niere] om daagliks van die gifstowwe in ons lyf ontslae te raak. Van die sisteme gebruik vloeistof, maar dis nie die water wat die eintlike werk doen nie.”
9. Jy konsentreer beter en is dus skerper as jy groot hoeveelhede water inneem.
Dr. Nerina Wilkinson is een van net ’n handjie vol vroulike plastiese chirurge in die hele land. Anders as wat die geval soms is by haar manlike eweknieë, is sy pragtig en ’n mens kan ’n paar truuks by haar leer om jou liggaam die beste te laat lyk en voel. Dr. Wilkinson is ’n voorstander van die rol wat suiwer water daarin speel om jou maer, jonk en gesond te hou. “Water is noodsaaklik vir die beste funksionering van al jou liggaamselle. So ook is dit belangrik om die senuweeselle altyd goed te hidreer sodat jou breinweefsel so goed moontlik kan werk.”
10. Suiwer water is ’n beter drankie as tee of vrugtesap.
Water is die enigste vloeistof met ’n neutrale pH (met ander woorde dis nie suur of alkalies nie). Sharon Pillay gaan voort, “alhoewel tee, koffie, melk en sap bydra tot jou vloeistofinname, bevat dit ook ander komponente soos kafeïne en suiker wat nie aanbeveel word vir beter gesondheid of sodat jy gewig verloor nie.”
11. Mineraalwater het kragtiger skoonheidswaarde as kraanwater.
“Sover ek weet,” sê Dr. Wilkinson, “ is daar geen bewyse dat mineraalwater beter is as kraanwater nie, mits jy ’n goeie filter gebruik of die water kook om die onsuiwerhede daaruit te haal. Daar kan selfs gesê word dat water in plastiese bottels moontlik sleg kan wees vir ’n vrou se gesondheid indien chemiese middels en exo-estrogene [’n chemikalie wat in plastiek voorkom en moontlik tot borskanker kan bydra] in die water uitlek.”
12. Mense wat meer water drink, lyk beter as diegene wat min water drink.
“Jou algemene welstand en voorkoms het met verskeie faktore te make waarvan voldoende vloeistofinname net een aspek is,” sê Sharon. Kenners is van mening dit kan eerder wees dat mense wat genoeg water drink ook geneig is om ander gesonde leefstylkeuses te maak soos om genoeg te slaap, oefening te doen en nie te rook nie.
13. As agt glase water ’n mite is, waar het dit ontstaan?
Dit is moeilik om die presiese oorsprong van die mite vas te stel, want die mite is so deurdringend dat dit sy inslag in populêre kultuur gevind het sowel as in mediese joernale.
Een teorie is egter dat Amerikaanse navorsing in die vroeë twintigste eeu bepaal het dat die liggaam 1 ml vloeistof benodig om elke kalorie in voedsel wat die liggaam inneem, te prosesseer. As daar aanvaar word dat ’n mens ongeveer 2000 kalorieë per dag inneem, beteken dit dat omtrent twee liter water die regte hoeveelheid is. Natuurlik is gemiddeldes nie van toepassing op elke mens nie en verskil individuele behoeftes. Wat uitgelaat is uit die oorspronklike verslag – en sodoende die onlangse opskudding rondom die saak veroorsaak het – is dat heelwat van die vloeistof in die vorm van waterryke kossoorte ingeneem kan word. Tamaties bestaan byvoorbeeld uit 93% water.
Die gevolgtrekking? Agt glase water per dag is nie ’n slegte ding nie, maar is beslis nie ’n noodsaaklikheid nie. Dit is veel belangriker dat ’n mens eerder ’n algehele gesonde leefstyl sal handhaaf, met ander woorde, dat jy genoeg slaap, genoeg oefening doen, gesond eet en nie sal rook nie. Water is maar net een van die komponente van ’n gesonde leefstyl en nie noodwendig die oplossing en kuur vir allerlei skete en kwale nie.
Vind meer uit oor die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika op www.adsa.org.za.
Kontak Weigh-Less op 0861 100 551 .
Vind meer uit oor Elma Titus by www.trichology.co.za.
Mediese spesialiste se details mag nie verskaf word nie, maar kan in die telefoongids gekry word.
- Ek HAAT WATER!!!!!!!!!!!!!!!die kleur die geur en die smaak laat my gril tot in my kleintoontjie toe.........ek is al 54 en ek drink seker nie eers 8 glase water in n jaar nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!Genoeg vloeistof deur die dag in die vorm van vrugte sappe en tee.GEEN koffie nie en in die winter milo en ander warm drankies ...............So ja my dr het moed opgegee met my en na 10 jaar stem hy saam.ek oorleef en leef en is gesond SONDER OM 8 GLASE WATER PER DAG TE DRINK!!!!!!!!!!!!!!
argief
BIKINILYF IN TIEN MINUTE
Jy wil nie ure in die gimnasium deurbring nie, daarvoor is die lewe heeltemal te kort.SKOONHEID WAT JOU SAK PAS
Vroue spandeer soms geld op produkte wat onnodig is.JOU BOOB-ISSUES UITGESORTEER!
'n Volledige gids om jou boob issues op te los.DEURBRAKE WAT JOU MOOIER MAAK
Daar tóg nou en dan 'n skoonheidsproduk wat werklik jou skoonheidsroetine vir altyd verander.10 STER PRODUKTE
Uiteindelik! Die uitslae op die Ongesensorde toets van régte produkte!PROBLEEM-BORSTE? GEEN PROBLEEM!
As hulle nie te klein is nie, is hulle te groot. As hulle nie meer ferm en volrond is nie, jeuk jy om 'n plastiese chirurg te gaa...ELSABÈ SE SKOONHEIDSGEHEIME
Elsabe (Linda in 7de Laan) se grasieuse skoonheid strek veel verder en dieper as haar mooi fyn hande en ongekunstelde naels.JOU EIE KONKOKSIE
... fermer of fataal?JOU BADKAMER WORD 'N SPA!
Kan dit waar wees?JIMMY CHOO NUWE INSPIRASIE
... uit ou skoene!























