24 KRY ALS UIT JOU MASKARA jou lyf Articles www.voelgoed.co.za

KRY ALS UIT JOU MASKARA

KRY ALS UIT JOU MASKARA

Vol wimpers, sensuele skadu en omlynde oë is enige vrou se geheime wapens.

2009-04-13Ryno Mulder

 ’n Oomblik se oogkontak kan onvergeetlik wees. Hoe gemaak om die betowerende blik te hê? Goeie maskara, ’n hand wat nie skud nie en ’n paar skakeergeheime is die antwoord ...

Sedert die dae van Cleopatra het vrouens hul oë en wimpers swart ingekleur om redes so uiteenlopend soos status, godsdienstige seremonies of ydelheid. Vandag is dit nie net die leiers en verleidsters beskore om maskara te dra nie. Voordat jy jou wimpers kan fladder moet jy eers weet watter truuks jou ’n sprankel in die oog en magnetiese aantrekkingskrag gee.

1.  In die knyp

’n Wimper-krultang bly vir baie vrouens die spreekwoordelike monster onder jou bed. Glo dit - jy kan nie bloed vergiet as jy so ’n tangetjie gebruik nie! Die tang gee jou wimpers die perfekte waaier voorkoms. Dit is die oemf wat elkeen met pylreguit wimpers of wimpers wat afwaarts groei, voor soek.

SO DOEN JY DIT!

Kyk af. Sit die tangetjie naby jou ooglid. Druk dit toe vir vyf sekondes. Skuif die tang verder weg van jou ooglid en druk dit weer toe. Herhaal ’n laaste maal naaste aan die punt van jou wimpers. Vergelyk die verskil tussen jou twee oë. Jy sál beïndruk wees met hoeveel beter die gekrulde wimper lyk.

PASOP!

Party wimper-krultange kan jou ooghare knak as jy dit te lank toegeknyp hou. As jou wimpers yl is en maklik uitval moet jy nie jou wimpers daagliks krul nie. Moenie wimpers wat reeds maskara op het, krul nie. Jy kan jou ooghare so breek.

WAT’S NUUT?

Daar is ’n verhitte krultang vir jou wimpers beskikbaar en alhoewel hy nie toeknyp soos die gewone krultang nie – dit lyk soos ’n pen met ’n kammetjie aan die punt – het mens die vreemde sensasie van hitte naby jou oë! Jy smeer vooraf ’n jel aan jou wimpers wat die krul aanhelp en set net soos haarjel. As jy verkies om by die bekende te hou kry Bobbi Brown eyelash curler, R200.

2.  Dek eers

Het mens ’n akriel basislaag nodig voordat jy maskara aanwend? Daardie wit, stroperige voorloper van maskara wat die afgelope jare so gewild is? Modelle is gek hierna en met goeie rede. Die doel van ’n basislaag – beter bekend as ’n primer – is om jou wimpers vir maskara voor te berei deur die ooghare ekstra dik en ekstra lank te maak. Jy kry as’t ware dramatiese wimpers wat gewoonlik net met vals wimpers haalbaar is. Dit is ook ’n goeie oplossing as jou ooghare fyn en yl is. As die basislaag jou ooglede swaar laat voel en jy verkies natuurlike beklemtoonde wimpers kan jy hierdie stap oorslaan.

SO DOEN JY DIT!

Presies net soos jy maskara aanwend.

PASOP!

Party nuwe maskaras bevat reeds sulke maksimaliserende vesels in die formule, so dan is dit onnodig om die stap te volg.

WAT’S NUUT?

Revlon Lash Fantasy Total Definition Mascara in 101 Blackest Black, R95, is beskikbaar in ’n standaard en waterbestande weergawe. Aan die een punt van die buisie is die basislaag en aan die ander punt is die maskara. Die borseltjie met kort haartjies is spesiaal ontwerp om die vorming van klonte te verhoed. Jy kry 5 keer meer impak hiermee!

3.  Kies en kleur

Daar is dosyne maskaras op die mark en soveel nuwes wat gedurig geloods word dat dit geen wonder is as mens verward raak oor watter een reg is vir jou nie. As jy haastig is, kry vir jou een van die groot name – die maskaras is die bekendste met goeie rede. Toets van tyd tot tyd nuwe formules dat jy ’n ander gunsteling kan ontdek wat nog beter aan jou veranderende behoeftes voldoen. Almal se wimpers verskil so jy moet elf ’n paar vir ’n proeflopie neem. Wat jy in gedagte moet hou is die sukses van ’n maskara hang die helfte van die formule af en die helfte van die borseltjie. Let op na die tipe borseltjies wat gewoonlik werk vir jou.  

SO DOEN JY DIT!

Swart bly die beste opsie. As jou velkleur lig is en jy ligte hare het is bruin sag en vleiend. Bruin is ook goed as jy ongekunsteld maar afgerond wil lyk. Deursigtige maskara is die heel natuurlikste manier om subtiele definisie aan wimpers te gee en jy kan dit sommer gebruik om jou wenkbroue netjies te borsel daarmee. Helderkleurige maskara is pret. Dit is ’n maklike manier om modieus te grimeer sonder om die kans te vat om laf te lyk met baie helder oogskadu.

PASOP!

Moenie jou maskara te lank hou nie. 2-3 maande op die langste. As dit snaaks ruik moet jy dit vroeër weggooi. Vir dieselfde rede maak dit nie sin om meer as een buis per slag te koop nie. Jy weet al dat oogprodukte ’n ideale broeiplek vir bakterieë is en maskara raak gouer sleg.

WAT’S NUUT?

Elizabeth Arden Ceramide Lash Extending Treatment Mascara, R130, is meer as net ’n maskara – dit is ook ’n opknapper vir jou ooghare. MAC verkoop deursigtige en bont maskaras.

4.  Hoe om ...

Vee die borseltjie skoon dat daar geen ou, droë maskara kleef aan die haartjies voor jy begin nie. Wend jou maskara mildelik aan by die basis van jou wimpers en minder by die punte. Die basis moet goed gedefinieer wees en die punte moet versprei wees. Dis beter om jou wimpers in seksies te bedek met maskara want dis amper onmoontlik om jou hele oog op een slag te doen. Wend tot 3 lae aan - solank dit nie lyk soos spinnekoppe op jou gesig nie! Borsel jou wimpers uit met ’n wimper-kammetjie dat die ooghare nie plek-plek aan mekaar plak of klonte maak nie. Jy kan maskara op jou onderste wimpers aanwend maar as jou wimpers raak aan die vel onder jou oë gaan dit smeer. Dan moet jy eers poeier onder jou oog en daarna waterbestande maskara aansit. As jy allergies is vir grimering is dit in die haak om die maskara net op jou wimperpunte aan te wend.

SO DOEN JY DIT!

Wikkel die maskara stafie heen-en-weer naby jou ooglede. So dek jy jou wimpers reg rondom met kleur. Wend maskara van onder af aan op jou boonste wimpers en van bo af op jou onderste wimpers.

PASOP!

Moenie lug in die botteltjie pomp nie want dit gaan jou maskara uitdroog. Draai liewer die borseltjie in die rondte om meer kleur op die haartjies te kry.

WAT’S NUUT?

Die nuwe L’Oreal Paris Extra-Volume Collagen Mascara in Black, R130, beloof om ’n reuse treffer te wees. Eva Longoria se verleidelike wimpers is te danke aan die nuutjie se dubbelgrootte borselkop.

5.  Fake dit!

Vals wimpers is nie so moeilik om aan te plak soos wat jy dink nie. Daar is twee soorte. Vol vals wimpers gee volheid aan dun wimpers plus ekstra lengte. Individuele wimpers is enkel ooghare of groepies ooghare van 3 of 5 in ’n “bossie” wat jy aanplak om kaal kolle op jou ooglede vol te maak. Vol vals wimpers is vinniger om aan te sit maar dit lyk nie so natuurlik soos individuele wimpers waarmee mens gewoonlik meer vroetel voor dit perfek sit nie. Maak jou oogomlyner donker en trek ’n breë lyn sodat die vals wimper minder opvallend is. Wend gom aan die wimper en gee dit ’n kans om taai te raak voor jy dit aanplak. Mens kry nou swart gom wat die wimper beter by jou oogomlyner laat inskakel. ’n Stelletjie vals wimpers het een wimper wat bedoel is vir jou linker en die ander vir jou regter oog. Jy sal dit kan sien aan die lengte van die ooghare. Die binnehoeke het kort haartjies en die buitehoeke die langste hare.

SO DOEN JY DIT!

Krul jou eie wimpers sodat dit makliker met die vals wimpers saamsmelt. Plak die vals wimpers eers naby jou binnehoek en druk dan die res van die strook so na as moontlik aan jou ooglid vas tot by die buitehoek.

PASOP!

Moenie jou oë gou knip of styf toeknyp na jy die wimpers aangeplak het nie. Die gom is nog nat en kan jou grimering bederf.

WAT’S NUUT?


Eylure Naturalites is die beste vals wimpers teen ’n redelike prys. Dit is geskik vir hergebruik.

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]