24 HAND AAN HAND jou lyf Articles www.voelgoed.co.za

HAND AAN HAND

HAND AAN HAND

Jou hande verrig soveel take. Jy skryf, tik, bestuur en skud hand. Dit plaas druk op jou gewrigte en verrinneweer jou vel.

2009-04-13Ryno Mulder

Tog word jou hande selde gepamperlang. Handmassering wat sagkens gedoen word, verrig wondere. Dit stimuleer bloedsirkulasie onder die veloppervlak sodat jou hande hul beste kan bly lyk. Gebruik ’n strelende essensiële olie wat jy by die apteek of jou naaste gesondheidswinkel kan kry. So doen jy dit –

Stap 1

Ontspan die hand wat masseer gaan word met die palm na die vloer gedraai. Hou jou vingers slap dat daar geen spanning in die hand is nie. Streel oor die vel van hierdie  rustende hand met jou ander, aktiewe hand deur daaroor te gly vanaf jou vingerpunte in die rigting van jou pols. (Wanneer mens masseer doen jy dit altyd in die rigting van die hart.)

Stap 2

Begin nou by jou duim en eindig by jou pinkie. Masseer elke vinger deur sirkelbewegings met die duim van jou aktiewe hand oor die vinger van die punt tot by die handpalm te maak. Werk saggies om jou kneukels. Werk die masseerolie in die naelbed in om die velletjies hier sag te maak. Wanneer jy die hele vinger masseer het, trek jou aktiewe hand liggies daaroor vanaf die handpalm na die vingerpunt asof jy jou vinger strek. 

Stap 3

As jy klaar is met al die vingers aan daardie hand, begin tussen jou duim en wysvinger. Trek onsigbare lyne met die duim van jou aktiewe hand vanaf jou pols na die klofie tussen elke vinger. Laat jou duim gly deur die sagte slootjie wat natuurlike gevorm word tussen die harde handbeentjies. Trek vier lyne per slootjie voor jy aanbeweeg na die volgende slootjie.

Stap 4

Draai jou rustende hand met jou palm na bo. Ondersteun die rustende hand met 4 vingers van jou aktiewe hand en maak sirkelbewegings met jou duim oor jou hele oop handpalm. 

Stap 5

Streel veerlig – eers oor die palm en dan die agterkant van jou hand – vanaf jou vingerpunte na jou pols. Dis die wonderlikste ontspanningstegniek wat jou sommer aan die slaap sal maak.

LET WEL! Jy kan hierdie massering as ’n afskilferingsbehandeling gebruik om van vaal, dooie selle ontslae te raak deur die olie te vervang met ’n tuisgemaakte vernuwingstonikum. Meng vars suurlemoensap en gliserien met rooswater om jou hande van tweedehands na bloedjonk om te keer!

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]