24 IS DUURDER BETER? jou lyf Articles www.voelgoed.co.za

IS DUURDER BETER?

IS DUURDER BETER?

Skoonheid van binne is onskatbaar, maar jou uiterlike kan jou 'n hele paar rand uit die sak jaag.

2009-04-09Wanda Augustyn

Maar is duurder skoonheidsprodukte werklik beter as goedkoper produkte wat met dieselfde beloftes bemark word?

JA duurder is beslis beter

 “AKTIEWE BESTANDDELE ONTBREEK IN GOEDKOOP PRODUKTE.”

Goedkoop koop is duur koop, glo Connie Elizabeth, bestuurder by Nimue-velsorgprodukte. Die rede? “Dis eenvoudig – daar gaan net soveel meer in duurder produkte in!”

Connie is oortuig dat duurder skoonheidsprodukte beter resultate as goedkoper produkte lewer. “’n Duurder produk bevat meer rou bestanddele, meer navorsing word oor die produk gedoen en die nuutste tegnologie word hiervoor aangewend. Só ’n produk word ook oor ’n langer tydperk getoets om negatiewe reaksies uit te skakel. Duurder produkte is dus uitkomsgedrewe,” verduidelik sy.

Hoewel produkte wat meer kos nie noodwendig ’n langer rakleeftyd het nie, kom ’n mens baie verder daarmee, sê Connie. “’n Duurder produk soos ’n serum se aktiewe bestanddele kan soms ’n korter raklewe hê, maar vanweë die aktiwiteit van die bestanddele gebruik ’n mens heelwat minder.”

Waar jy wel geld kan spaar, glo sy, is met die aankoop van ’n goedkoper lipstiffie of maskara. Enige produk wat egter direk op die vel aangewend word en die vel kan beïnvloed, moet liefs ’n produk van hoë gehalte wees.

As duurder produkte dan beter is, hoekom maak dieselfde maatskappye dikwels ook ’n reeks goedkoper skoonheidsprodukte? “’n Etiese maatskappy sal ’n duurder sowel as ’n goedkoper reeks vervaardig bloot omdat sekere rou bestanddele duurder is as ander. Hulle moet ook in gedagte hou wat die verbruiker kan bekostig en hulle produkte daarvolgens aanpas.”

Connie erken dat alle maatskappye nie altyd eties is nie en dat hoë bemarkingskoste en groot winste dikwels by pryse ingebou word. Sy waarsku egter dat klante hulle nie deur mooi advertensies en verpakkings moet laat mislei nie, maar ingeligte besluite oor hulle aankope moet neem. “Fokus op die bestanddele wanneer jy ’n produk kies. Slegs dít sal jou die verwagte resultate besorg.”

Nee kwaliteit is belangriker as prys

“KLANTE MOET PRODUKTE MET MEKAAR VERGELYK.”

As ’n produk nie die verwagte uitkomste het nie, het jy heel moontlik in ’n aantreklike verpakking belê, sê Jane Davey, bemarkingsbestuurder by Clicks se skoonheids-, gesondheids- en algemene handelsafdelings.

Jane glo ’n produk wat aan ’n mens se behoeftes voldoen is belangriker as wat jy daarvoor betaal. “As ’n handelsnaam sekere beloftes maak en dit nie nakom nie, het jy jou geld gemors. Daarom is dit belangrik om presies te weet wat jy van ’n skoonheidsproduk verwag en jou besluit daarvolgens te neem,” sê sy. 

’n Wye verskeidenheid soortgelyke skoonheidsprodukte is op die winkelrakke beskikbaar. Is sommige nadelig vir jou vel? “Sommige produkte kan beslis jou vel beskadig,” verduidelik Jane. “Daarom moet verbruikers slegs produkte met betroubare handelsname gebruik.”

Wat moet ’n vrou in gedagte hou wanneer sy ’n skoonheidsproduk kies? “Die vertrekpunt is jyself en jou soort vel. Vra jouself die volgende vrae: Wat verwag jy van die produk? Hoeveel wil jy betaal? Kan jy die handelsnaam vertrou? Het jy ’n positiewe ervaring van die betrokke handelsnaam of het iemand anders dit vir jou aanbeveel?”

Volgens Jane is die bestanddele egter die belangrikste oorweging. “Rus jouself toe met die nodige kennis oor wat in skoonheidsprodukte gebruik word. Al die inligting is op die internet beskikbaar. Vergelyk dan produkte in terme van hulle bestanddele met mekaar. Goedkoper produkte bevat dikwels dieselfde aktiewe bestanddele as hulle duurder eweknieë. Dit kan ’n mens heelwat spaar.”

Word goedkoper produkte net so deeglik nagevors? “Groot skoonheidshuise belê baie in navorsing en dit kan aangewend word in al hulle produkte – van salon-handelsname tot produkte wat aan ’n wyer mark beskikbaar gestel word. Koop dus jou produkte van skoonheidshuise wat jy kan vertrou. Kwaliteit is veel belangriker as prys.”

Kommentaar

gesels saam


argief