DIE LIEF JOUSELF DIEET
Wees lief vir jouself en verloor gewig!
2012-01-27
Wees lief vir jouself en verloor gewig!
2012-01-27
Jy volg die een dieet na die ander, maar die vetrolletjies klou. Die gym voel al soos jou tweede huis, maar jou bobene dril nog steeds. Jy lê in die nag en rondrol van die honger ná daardie dun snytjie spanspek, maar jou jeans wil net nie pas nie. Dalk pak jy die saak heeltemal verkeerd aan.
’n Reusepak tjips as beloning op ’n goeie dag en ’n romerige pasta as troos op ’n “arme ek”-dag. En wanneer jy te veel in die yskas was en te min in die gym, straf jy jouself en eet omtrent niks. Baie vroue se verhouding met kos is ’n uitdrukking van emosie: vreugde, hartseer, kameraadskap en selfs berou word gedeel met ’n stewige mond vol kilojoules.
Dit is nie nodig om jouself uit te honger – of jouself te verwyt omdat jy nie uitgehonger is nie – om gewig te verloor nie. Jy kan leer om anders te dink. Dis boonop maklik. Hier is vier Lief vir Jouself-strategieë wat wérk:
• Sit weg die slaanstok
Almal ooreet hulle soms. In plaas van om jouself te straf, bly positief. Baie vroue wat sukkel met gewig, is geneig om hulle energie en tyd “weg te gee” en gee nie aandag aan hulle eie behoeftes nie. Stel jouself ’n slag eerste.
hoe dit help ...
Om jouself te vergewe as jy oortree en te prys vir positiewe keuses, is die beste manier om jou eetgewoontes te verander. Hoe meer gereeld jy tyd aan jou behoeftes afstaan, hoe meer sal jy op jou doelwitte fokus.
begin só ...
Hou dadelik op as jy besef dat jy selfstrafgedagtes oor kos het. Gaan stap ’n ent, ruik aan ’n blom, kyk ’n fliek, lees ’n boek of bel ’n vriendin (sy voel waarskynlik dieselfde na die tweede stuk kaaskoek!).
• Eet met aandag
Hoe ons eet, word al hoe belangriker. Wanneer jy eet, proe, kou en geniet elke happie. Let op die kleur, vorm, tekstuur en geur, sowel as die smaak en beëindig so die gewoonte van ooreet. Eet is een van die lewe se plesiere, hou net matigheid voor oë!
hoe dit help ...
As jy met aandag eet, haal jy dieper asem en dink oor jou kos. Dit sal jou help om meer bewus te word van die redes waarom jy eet, sê prof. Jeffrey Greeson, ’n gesondheidsielkundige. “Ons eet dikwels nie omdat ons honger is nie, maar omdat ons gespanne, gefrustreerd of verveeld is.”
begin só ...
Kies kos wat jou sintuie stimuleer. Dink aan soet, sappige vrugte, kleurryke groente en goeie donkersjokolade. Gebruik die tyd om rustig ’n maaltyd voor te berei wat gesond is, en heerlik lyk en smaak. Bederf jouself – jy verdien dit.
• Kies die regte kos
Hongerpyne moet glad nie voorkom wanneer jy gewig as liggaamsvet wil verloor nie! Drink altyd eers ’n glas water voordat jy begin eet. Die liggaam is dikwels eerder dors as honger. Kosse met ’n lae glukemiese indeks (GI) is die beste keuse.
hoe dit help ...
Navorsers aan die Harvard Universiteit het bevind dat vetsugtige pasiënte wat gewig verloor het deur lae-GI-kosse te eet, minder honger was en nie weer so vinnig gewig aangesit het soos diegene wat gewig verloor het op ’n tipiese laevetdieet nie.
begin só ...
Kies altyd kosse met ’n lae GI en kyk ook na die kilojoule-inhoud om die regte porsie te bepaal.
• Vind vreugde in beweging
Om aktief te wees beteken lankal nie meer om ure op ’n trapmeul te sweet nie. Kry iets wat jy geniet en maak dit deel van jou daaglikse roetine. Kenners meen dat jy groot voordeel uit Pilates, joga of tuinmaak kan put.
hoe dit help ...
Ons weet almal wat die voordele van gereelde oefening vir jou lyf is. Maar dit help ook vir jou geestesgesondheid. Dit kan ook simptome van ligte depressie verbeter en voorkom dat depressie terugkeer.
begin só ...
Maak ’n lys van die fisiese aktiwiteite wat jy geniet en maak eenvoudig ’n plan om dit in jou besige dag in te pas.
’n Lief vir Jouself-dag
Begin met ons eendagspyskaart. Jy sal fantasties voel, selfs na een dag. Stel jou eie spyskaart op vir die volgende dag, en die dag daarna, en kort voor lank is dit ’n lewenswyse!
Oggend
Begin die dag met 30 minute van gebed of meditasie om jou gedagtes rustig te maak en jou energie te gee.
- Ontbyt: Geniet ’n ontbyt met ’n lae GI en baie proteïene, soos ’n gekookte eier, ’n sny volgraanroosterbrood, aarbeie en ’n koppie tee of koffie.
Middag
- Middagete: Sit rustig met ’n sny lae-GI-brood, tuna en ’n groot, kleurryke slaai met ’n teelepel slaaisous.
- Versnapering: Wanneer die honger tussen maaltye jou vang, drink ’n glas water. As dit nie help nie, eet ’n piesang of appel en grondboontjiebotter.
- Oefening: Ry fiets of stap vir 30 minute.
Aand
- Aandete: Begin met ’n koppie sop met ’n waterbasis. Eet dan 150 g vis met gestoomde aspersies en ’n patat. Sluit die maaltyd af met ’n koppie vol gemengde bessies of ’n ander vrug.
- Voor jy gaan slaap: Skryf in jou dagboek, bid, doen strekoefeninge of ontspan in ’n warm bad.
- Slaaptyd: Sit af die TV en gaan slaap vroeg.
Dit neem tyd en oefening om vir jouself om te gee. Wanneer jy volgende keer halfpad deur ’n pak tjips is, dink watter emosie betrokke is. Besluit dan of jy die res van die skyfies wil eet. Moet dit net nie môre weer doen nie! Fokus op jou doelwitte, en moenie moedeloos raak as jy nou en dan oortree nie. Wees lief vir jouself, en jy sál daardie paar oortollige kilogramme afskud.
argief
PAULA SE 10 GEWIGSVERLIES WENKE
Paula Galão van Eden Life gewigsverlies kliniek deel haar 10 gewigsverlies wenke.DIE LIEF JOUSELF DIEET
Wees lief vir jouself en verloor gewig!WONDERSOETE SLAAP
Sal slaap nog steeds so wondersoet wees as jy te veel slaap?JOU EEN-WEEK ENERGIE DIEET
Sorg dat jou energievlakke heeljaar lank hoog bly, met dié eenweek-energiedieet.DAARDIE TWEEDE GLASIE WYN ...
Jy is by die huis en jy hoef nie te bestuur nie, wat is dan verkeerd met 'n glasie wyn elke aand?REëLS VIR GESONDWEES IN 2012
Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.HOE MAAK JY JOU KOS GAAR?
Jy eet dalk gesond, maar jou gaarmaak-metode, verander dalk jou gesonde kos in iets wat net jou maag vol maak.SIT SPANNING OP SY PLEK!
Jy werk baie hard, want jy moet mos oorleef, of hoe?SOETE SOETE SLAAP
Jy lê stil in jou bed, amper te moeg om die komberse oor jou skouers te trek.DIE EEN-REËL DIEET
Sal jy van 'n dieet hou met nét een reël?
soek op voelgoed


.jpg)




.jpg)

















