REëLS VIR GESONDWEES IN 2012
Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.
2011-12-06
Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.
2011-12-06
Eet vyf porsies vrugte en groente asook neute, drink elke dag groentee en agt glase water en onthou om te oefen. As jy al dié reëls moet volg, sal jy gou soos ’n olifant lyk met al die kos wat jy moet eet vir genoeg voedingstowwe. Boonop sal jy ’n groter kas moet aanskaf om plek te maak vir die aanvullings wat jy moet drink. Om die eerlike waarheid te sê, jy sal heeldag moet eet en aanvullings drink en gesondheidstoetse moet laat doen. Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.
Reëls vir elke dag
• ’n Mooi glimlag - Is jy gereeld op die een of ander spesiale dieet? Dit kan jou glimlag skade aandoen. Dieselfde dieet wat jou ’n slanker lyf belowe, kan jou tandprobleme gee. Wanneer jy eet, skei jou mond meer speeksel af en dit dien as ’n natuurlike mondspoelmiddel. Speeksel was plaakbakterieë weg en los sulfietdeeltjies op wat slegte asem veroorsaak. Verder neutraliseer dit sure in jou mond wat tandgaatjies veroorsaak. As jy min eet, word min speeksel afgeskei. Drink baie water wanneer jy dieet, want dit help om jou mond skoon te spoel.
Die eerste tekens van tandprobleme is bloed wat verskyn as jy jou tandepasta uitspoeg of as jy vlos. Tandvleisontsteking wat nie behandel word nie, kan lei tot die verlies van jou tande. Dit word gewoonlik veroorsaak deur swak mondhigiëne. Voorkom dit deur jou tande twee keer ’n dag liggies te borsel. Onthou jou tandeborsel kan slegs van sagte plaak ontslae raak wat met ligte bewegings verwyder kan word. As jy te hard borsel, beskadig jy jou tandvleis. Besoek ’n mondhigiënis elke ses maande om van harde plaak ontslae te raak.
• Peusel gesond As daar een ding is wat jy vir jou gesondheid moet doen, is dit om meer groente en vrugte te eet. Vyf porsies vrugte en groente per dag moet elke vrou se doelwit wees. Dit verskraal jou kans vir sekere kankers en hou jou langer jonger.
Die beste manier van peusel is om groente en vrugte as peuselhappies te geniet. Eet ’n appel as jy ’n honger kol het of sny ’n wortel in kleiner stukkies en doop dit in gewone jogurt wat met speserye gegeur is.
• Slaap genoeg Alles is mos belangriker as slaap, soos daardie verslag wat môre moet klaar wees of die laataandtelevisieprogram wat jy so geniet. Die meeste volwassenes slaap minder as sewe uur, veel minder as ons voorouers, wat omtrent nege uur lank geslaap het.
Die gevolg van min slaap is gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk en ondoeltreffende funksionering. Jy voel nooit wakker genoeg om regtig jou werk goed te kan doen nie. As jy dadelik aan die slaap raak wanneer jou kop kussing raak of as die middagmoegheid jou tref, kry jy nie genoeg slaap nie. Jou liggaam vervaardig ’n hormoon, adenosien, wat in jou bloed ophoop terwyl jy wakker is. As daar genoeg daarvan in jou bloed is, begin jy moeg voel. Wanneer jy slaap, breek jou liggaam adenosien af. As jy nie genoeg slaap nie, bly dit in jou bloed en voel jy heeltyd moeg. Die beste is om nie minder as agt uur per nag te slaap nie.
Reëls vir elke week
• Eet vis Omega 3-vetsure kan ’n groot verskil aan jou gesondheid maak. Dit maak jou vel mooier, sorg vir soepel gewrigte en hou jou brein gesond. Daar is ’n wye verskeidenheid omega 3-aanvullings op die mark, maar sorg dat jy dié gebruik wat van vis afkomstig is (DHA en EPA). Jou liggaam absorbeer dit beter. Ander bronne van omega 3-vetsure is olierige vissoorte soos salm en sardyne. Eet dit twee keer per week om al die voordele te kan geniet.
Dit is nie nodig om omega 6- en 9-vetsure as aanvullings te koop nie. Ons dieet is reeds vol omega 6 en 9 omdat ons onder meer plantolies gebruik om mee te kook. As jy vet en olie vermy, kan jy ’n aanvulling kies wat al die omegas bevat.
• Oefen Jy oefen nie, want dit maak jou honger ... en lus vir roomys, nè? Nee! Navorsing deur die Universiteit van Loughborough in Engeland het bewys dat oefening nie net jou honger kan stilmaak nie, maar ook kan voorkom dat jy voortdurend wil peusel. Oefening kan oor die lang termyn ghrelien, ’n hormoon wat jou eetlus stimuleer, in jou liggaam verminder. As jy oefen, verhoog die vervaardiging van peptied YY, wat jou eetlus demp. Dit gebeur egter net as jy intense oefening doen. Met oefening onderdruk jou liggaam jou eetlus sodat jy nie nog warmer word nie. Doen minstens drie keer per week intense oefening, soos om 30 minute lank te hardloop, as jy hierdie voordele wil geniet. Jy kan matige oefening doen om jou gesondheid in stand te hou.
Reëls vir elke jaar
• Kyk na jou borste Van die ouderdom van 40 af moet jy elke jaar ’n mammogram laat doen en nog vroeër as daar ’n geskiedenis van borskanker in jou familie is. As jou borste baie dig is, kan jy jou dokter vra of ’n MRB nodig is, omdat ’n mammogram nie altyd probleme raaksien nie. Ondersoek jou borste ook elke maand self, drie tot vyf dae nadat jy gemenstrueer het.
Hou jou gewig dop, veral na die menopouse. Vetsug op ’n hoër ouderdom maak jou meer vatbaar vir borskanker. Moenie meer as twee 250 ml-glase alkoholiese drankies per dag drink nie, want dit kan jou risiko vir borskanker verhoog.
• ’n Gesonde hart Of jy ’n hartsiekte kan kry, word eintlik al bepaal as jy nog ’n kind is. Dit ontwikkel terwyl jy ’n volwassene is en manifesteer dan in jou middeljare. Jou gene en gewoontes is ook bepalende faktore. Daarom is dit belangrik om van ’n jong ouderdom af getoets te word vir cholesterol en bloeddruk, wat groot risikofaktore is. Rook is ook ’n groot risikofaktor, en jy verklein jou kans vir hartsiekte as jy ophou rook.
• Laat toets jou oë Die meeste gevalle van blindheid kan voorkom word as mense hulle oë gereeld laat toets. As ’n gekwalifiseerde oogkundige gereeld jou oë toets, kan sy veranderings in jou visie raaksien, oogtoestande monitor en jou algemene gesondheid ondersoek. Jou oë wys dikwels gesondheidsprobleme lank voor die simptome in jou liggaam manifesteer. Jou oogkundige kan toestande soos hoë bloeddruk en cholesterol uitwys. Drink ’n goeie multivitamien om jou oë se gesondheid te verbeter en dra ’n sonbril in skerp sonlig.
Onthou, jou lyf ís jý. En jy verdien om die regte keuses te maak om goed vir jouself te kan sorg.
argief
PAULA SE 10 GEWIGSVERLIES WENKE
Paula Galão van Eden Life gewigsverlies kliniek deel haar 10 gewigsverlies wenke.DIE LIEF JOUSELF DIEET
Wees lief vir jouself en verloor gewig!WONDERSOETE SLAAP
Sal slaap nog steeds so wondersoet wees as jy te veel slaap?JOU EEN-WEEK ENERGIE DIEET
Sorg dat jou energievlakke heeljaar lank hoog bly, met dié eenweek-energiedieet.DAARDIE TWEEDE GLASIE WYN ...
Jy is by die huis en jy hoef nie te bestuur nie, wat is dan verkeerd met 'n glasie wyn elke aand?REëLS VIR GESONDWEES IN 2012
Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.HOE MAAK JY JOU KOS GAAR?
Jy eet dalk gesond, maar jou gaarmaak-metode, verander dalk jou gesonde kos in iets wat net jou maag vol maak.SIT SPANNING OP SY PLEK!
Jy werk baie hard, want jy moet mos oorleef, of hoe?SOETE SOETE SLAAP
Jy lê stil in jou bed, amper te moeg om die komberse oor jou skouers te trek.DIE EEN-REËL DIEET
Sal jy van 'n dieet hou met nét een reël?


.jpg)




.jpg)

















