"GESONDHEID EERSTE!"
Gaan vir jóú toetse!
2010-08-25Liezl Heidtmann
Gaan vir jóú toetse!
2010-08-25Liezl Heidtmann
Servikskanker kan heeltemal voorkom word, maar meer as 3 000 vroue in Suid-Afrika sterf steeds jaarliks daaraan. Verder kan 80% van blindheid in Suid-Afrika voorkom word. Daarom moet jy vandag nog jou afspraak maak, want mediese ondersoeke kan jou lewe red.
Vyf van ons glansmense het tyd afgestaan (ten spyte van besige skedules) om hulle mediese toetse by Medi-Clinic Privaat Hospitaalgroep op datum te bring. En natuurlik is dit vir jou ook belangrik, want ’n mediese toets kan risiko’s betyds diagnoseer en jou lewe red! En dis glad nie so erg nie, bieg dié vyf vroue, want twee ure in die warm stoel is beter as ’n jare lange stryd teen ’n ernstige siekte wat voorkom kon word. So, voor jy enige verdere verskonings uitdink, maak vandag vir jou ’n afspraak vir ’n volledige mediese ondersoek.
20’s
“Ek kort ’n bril!”
Christl Weinbeck, beter bekend as Nadia in Binnelanders Sub Judice, is 25. En ons het haar gestuur vir ’n oogtoets omdat sy die afgelope paar jaar nog nooit haar oë laat toets het nie. Vanaf die ouderdom 18 is dit belangrik om jou oë minstens elke twee jaar te laat toets.
Christl se ervaring:
Ek het nog nooit ’n bril gedra nie, want ek kan goed sien, en lees maklik bordjies en straatname wanneer ek bestuur. Wat ek wel agterkom, is dat ek soms sukkel om klein lettertipes in ’n boek of tydskrif te lees. En partykeer kry ek hoofpyn. Daarom het ek met gemengde gevoelens die oogkundige besoek.
Ek het my oë laat toets by TheEyeMakers in Morningside, Sandton. Oogkundige Shruti Desai het my ’n reeks oogtoetse laat doen om te bepaal of my oë gesond is. Die toetse is glad nie ongemaklik nie, jy moet net na ’n klomp voorwerpe kyk, deur of sonder ’n masjien. Ek kon voorwerpe wat ver vertoon maklik sien, maar die naby voorwerpe was soms bietjie wasig.
Die diagnose: Christl het baie gesonde oë, maar sy het ’n bril nodig. Sy is versiende en daarom sukkel sy om te lees of om met detail naby aan haar te werk. Haar regter- en linkeroog is ook nie ewe sterk nie, wat lees moeilik kan maak.
Laat toets jou oë want:
• Jy het dalk ’n bril nodig, en sonder een kan jy jou sig verder beskadig.
• Voorgeskrewe lense moet dikwels aangepas word.
• Vroeë tekens van oogsiektes kan opgespoor word.
FEIT: Kroniese gloukoom is die tweede grootste oorsaak van blindheid in Suid-Afrika, en in die meeste gevalle kan dit voorkom word.
“Dankie tog ek het my oë laat toets! Anders het ek nooit besef ek moet ’n bril kry nie!”
30’s
“Ek gaan elke jaar vir ’n papsmeer!”
Anel Alexander (30), beter bekend as Julia in die reeks Getroud Met Rugby, het ’n geskiedenis van polisistiese ovariale sindroom (PSOS). Dis die algemeenste rede vir onvrugbaarheid by vroue. Daarom gaan sy gereeld vir ’n papsmeer.
Anel se ervaring:
Vandat ek sewe jaar gelede getroud is, gaan ek jaarliks vir ’n papsmeer. Ek wil graag kinders hê, en daarom is dit belangrik om elke jaar seker te maak alles is nog reg. PSOS word veroorsaak deur hoë hormoonvlakke en ’n klomp klein siste ontwikkel op die eierstok wat die toestand uitwys. Die afgelope paar jaar is daar darem geen teken meer van PSOS nie!
En natuurlik is ’n papsmeer ook belangrik om abnormale selle, infeksies of inflammasie op te spoor.
Ek is maar altyd bietjie gespanne voor ek vir ’n papsmeer gaan. Want al gaan mens gereeld, bly dit ’n private saak. Maar dr Noelene Ballot by Sandton Medi-Clinic (Johannesburg) was wonderlik en het my dadelik gemaklik laat voel.
Die diagnose: Alles lyk normaal.
’n Papsmeer werk so:
Jou dokter gebruik ’n spekulum om jou vagina oop te maak. ’n Spesiale pap-stokkie word by die ingang van jou baarmoeder (serviks) geplaas. ’n Paar selle word dan afgeskraap, maar dis nie seer nie. Die selle word oor ’n glasskyfie gesmeer en na die laboratorium gestuur om te sien of daar enige selafwykings is.
Selafwykings is gewoonlik ’n vroeë aanduiding van servikskanker. Die kanker kan maklik voorkom word met antibiotika, solank dit betyds opgespoor word.
Verder wys dit ook infeksies uit wat deur seksueel oordraagbare siektes of vaginale sproei veroorsaak kan word.
Gaan jaarliks of tweejaarliks vir ’n papsmeer as:
• jy seksueel aktief is of was.
• jy op ’n vroeë ouderdom seksueel aktief geword het.
• jy meer as een seksmaat het.
• jy sukkel met ongewone of ongereelde bloeding, of ’n afskeiding
FEIT: Servikskanker is die hoofoorsaak van kankersterftes onder vroue, want 3 400 vroue sterf jaarliks aan servikskanker
“Gemoedsrus is soveel meer werd as om die gevreesde afspraak uit te stel weens ’n bietjie stres.”
Ons het ook Anel se cholesterol, bloeddruk en bloedsuiker laat toets by Sandton Medi-Clinic en Lancet Patoloë: “Weer normale uitslae! Ek is bly my gesonde eetgewoontes werp vrugte af.”
40’s
“Dis my eerste mammogram!”
Mary-Anne Barlow is 36 jaar oud. En sy het nog nooit vir ’n mammogram gegaan nie. Hoewel die meeste vroue eers op veertig daarvoor gaan, kom daar al meer borskankergevalle onder vroue in hul dertigs voor. Daarom beveel dokters aan dat jy op 36 vir jou eerste mammogram gaan, veral as jy ’n familiegeskiedenis van borskanker het.
Mary-Anne se ervaring:
Ek het nie ’n familiegeskiedenis van borskanker nie en daarom was ek nooit haastig om vir ’n mammogram te gaan nie. Maar hoewel ek nie bang is vir borskanker nie, was ek ’n senuweewrak voor die mammogram, want ek het gedink dit gaan seer wees.
My ma het my altyd van haar ervarings vertel en dit het vir my barbaars geklink.
Toe ek egter by Sandton Medi-Clinic aankom, het ek dadelik tuis gevoel. En die mammogram was glad nie seer nie!
Ek moes ook vir ’n sonar gaan omdat jonger borste nog dig is, en ’n mammogram gee soms vals alarms.
Die diagnose: Normale borsweefsel!
’n Mammogram werk so:
Jou borste word tussen x-straalplate vasgedruk sodat x-straalfoto’s geneem kan word. Dit ondersoek die borste vir knoppe wat opgemerk kan word nog lank voordat jy dit voel.
Gaan jaarliks vir ’n mammogram, veral as jy:
• ’n familiegeskiedenis van borskanker het.
• ’n knop voel.
• ’n afskeiding uit die tepel gewaar.
• merk dat die vel oor jou borste verander.
FEIT: In 90% gevalle word borskanker genees met vroeë opsporing – borskanker word jaarliks by 1 uit 29 Suid-Afrikaanse gediagnoseer.
“Ek gaan elke maand my borste self ondersoek, want as ek betyds ’n verandering oplet, kan ek my lewe red.”
Mary-Anne se cholesterol, bloeddruk en bloedsuiker is getoets by Sandton Medi-Clinic deur Lancet Patoloë: “My cholesterol is ’n bietjie hoog. Dit motiveer my om te begin oefen en gesond te eet!”
50’s
“My bene lyk nog goed!”
Ruda Landman (56), het vyf jaar gelede vir ’n beendigtheidskandering gegaan en sy was ver bo die gemiddelde lyn vir haar ouderdom. Maar omdat osteoporose algemeen onder vroue voorkom en dikwels geen simptome toon tot dit gevorderd is nie, is dit noodsaaklik om elke vyf tot tien jaar te laat toets.
Ruda se ervaring:
My ma het beenkanker gehad en voor haar dood het haar skelet bros geraak met die tipiese krom ruggraat. Osteoporose is egter nie geneties in ons familie nie. Daarom was ek nie bang om vir die beendigtheidskandering te gaan nie.
Ek oefen drie keer ’n week, wat noodsaaklik is vir sterk bene, en ek neem ook vir die afgelope vyf jaar kalsiumaanvullings.
Die beenskandering by die Radiologie-afdeling van Morningside Medi-Clinic (Johannesburg) is glad nie ’n ongemaklike ervaring nie, omdat ek doodstil kon lê terwyl x-strale geneem word.
Die diagnose: Normale beendigtheid en weefsel vir haar ouderdom.
’n Beendigtheidskandering werk so:
Dit word by die radiologie-afdeling gedoen. En jy lê vir ’n rukkie stil tydens bestraling, wat jy nie kan voel nie.
Gaan vir ’n beendigtheidskandering:
• op 65 of ouer.
• as jy jonger as 65 is, met ’n hoë risiko vir frakture.
• as jy na menopouse frakture opgedoen het.
• as jy oor ’n lang termyn steroïedterapie gebruik.
• as jy aan gastro-intestinale wanabsorpsie ly.
FEIT: Vier tot ses miljoen Suid-Afrikaners sal osteoporose kry, en die meerderheid daarvan is vroue.
“Ek weet hoe bevoorreg ek is dat ek die bewustheid en die geld het om gereeld vir my mediese ondersoeke te gaan.”
Ruda se cholesterol, bloeddruk en bloedsuiker is getoets by Morningside Medi-Clinic deur Lancet Patoloë: “My toetse is normaal, behalwe dat my cholesterol ook ’n bietjie hoog is. Ek sal dit in die toekoms dophou!”
60’s
“Ek is ’n bietjie doof in een oor”
Ons het vir Sandra Prinsloo (62) gevra om vir gehoortoetse te gaan. Hoewel dit van die ouderdom 18 aanbeveel word, toets min vroue dit tot hulle begin om gehoorprobleme te ervaar.
Sandra se ervaring:
Doofheid is in ons familie en my pa, ma en ouma het almal begin doof word hoe ouer hulle geword het. Daarom was ek ’n bietjie skrikkerig om vir die toetse te gaan. Ek is na Constantiaberg Medi-Clinic (Kaapstad) waar ek oudioloog dr Gail Jacklin ontmoet het.
Die toetse was baie interessant en sonder enige ongemaklikheid! Ek sal van nou af jaarliks vir my gehoortoetse gaan.
Gehoortoetse werk so:
Jy word in ’n klankdigte kamer toegemaak met oorfone aan. Jy luister na “biep-biep” geluide wat al hoe sagter word en jy moet aandui as jy dit hoor. Die oudioloog kan ook ’n voorwerp oor haar mond hou sodat jy nie kan liplees nie en sy sê dan woorde wat jy moet herhaal.
Die diagnose: ’n Bietjie doofheid in my regteroor.
Gaan vir ’n gehoortoets:
• Elke tien jaar.
• Hoewel doofheid nie noodwendig genees kan word nie, is baie tegnologie beskikbaar om jou gehoor te verbeter.
FEIT: Selfs die grassnyer kan jou gehoor beskadig! Dra oorpluisies as jy vir lang periodes na harde geluide moet luister.
Al vyf vroue is getoets by ’n Medi-Clinic hospitaal in hul area. Vir ’n Medi-Clinic in jou area, besoek www.mediclinic.co.za of skakel 021 809 6500 / Medi-Clinic Hulplyn 0860 233 333 (Namibië +27 10 205 3064).
Kontak ook TheEyeMakers in Morningside, Sandton by 011 783 9999 of besoek www.theeyemakers.co.za.
- Ek is ook al 40 maar sien regtig nie kans vir 'n mammogram nie. Almal sê dis ongelooflik seer as jou borste so saamgepers word. Alhoewel ek 'n 36C bra dra, is my borste betreklik klein omdat dit oor 'n groot oppervlak strek. Dit sit amper meer langs my as voor my! So daar is nie veel om saam te pers nie. Is daar nie ande, meer 'vriendelike" toetse beskikbaar nie, soos bv 'n tipe CAT scan? As daardie masjien deur been kan sien om brein tumors op te tel, is dit sekerlik goed genoeg vir borskanker. En die mammogram is in elk geval nie altyd so akkuraat nie.
- ek is 45 en gaan al vir 10 jaar al vir n mammogram dit is nie so erg nie die persoon war doen moet weet wat sy doen die eerste keer is dit seer want jy weet nie wat om te verwag nie sterte doen dit net vir jou eie beswil
- Ek wil net weet volgens die dr het ek n sist ek moet gaan vir n papsmeer om vas te stel of ek nie kanker het nie maar die medikasie het nie gehelp nie dit is nog seer wat moet ek doen
- ek het polisistiesie ovariale sindroom, ek is 21 jaar oud. Ek het 1 eierstok, en menstrueer nie, ek begin met kanker inspuiting om n .16 kanker te behandel. My ginekeloog is regtig baie goed dink ek. Ek beveel aan dat almal vir inwendige toetse moet gaan. n mens is nooit TE jonk nie. As ek nie gegaan het nie kon ek later n baarmoeder kanker eerder behandel het.
argief
HOE MAAK JY JOU KOS GAAR?
Jy eet dalk gesond, maar jou gaarmaak-metode, verander dalk jou gesonde kos in iets wat net jou maag vol maak.SIT SPANNING OP SY PLEK!
Jy werk baie hard, want jy moet mos oorleef, of hoe?SOETE SOETE SLAAP
Jy lê stil in jou bed, amper te moeg om die komberse oor jou skouers te trek.DIE EEN-REËL DIEET
Sal jy van 'n dieet hou met nét een reël?'N FINESSE STAPPLAN VIR ELKE VROU
Die gimnasium is nie die enigste plek waar jy fiks kan word nie. Verruil die gewigte vir 'n paar tekkies - en stap jou fiks!DIE MAER-WORD-UITDAGING!
FitSlim challengeWORD FIKS TEEN 'N WINSKOPIE!
Run/Walk for Life bied hierdie maand 'n uitstekende aanbod aan FINESSE lesers.IS DIT NET 'N GRIL?
... Of 'n groter gevaar?SLAAN VERKOUE HOK
Wanneer kry dit einde? Koue dae en lang nagte …AANVULLINGS ...
Het jy 'n tekort die winter?























