23 ANTIDEPRESSANTE jou woema Articles www.voelgoed.co.za

ANTIDEPRESSANTE

ANTIDEPRESSANTE

Die siekte van ons tyd?

2010-07-20Ingrid Botha

“Ag man, hou op om jouself jammer te kry. Dit is duidelik dat jou saak met die Here nie reg is nie. Ruk jouself nou reg.”
Al wat hierdie goedbedoelde “raad” regkry, is om ’n depressie-lyer nog dieper in die donker put af te stoot.

Geestessiektes
 
Is dit die siekte van ons tyd? Waarom hoor ons deesdae so baie van mense wat “bipolêr” is? Is dit ons moderne, vinnig-gejaagde leefstyl se skuld? Of is dit omdat ons in ʼn gebroke wêreld leef waar die Here nie ʼn groot genoeg rol speel nie?
KykNet het nou ʼn splinternuwe geselsprogram: ʼn Lewe Met... met Ruda Landman as die aanbieder. Ruda gesels in diepte met verskillende kenners oor geestessiektes, onder andere ook met die psigiater dr. Franco Colin.

Kliniese depressie is beslis nie ʼn simptoom van ʼn moderne leefstyl nie. Destyds het hulle net nie geweet wat om daardie swaar, hopelose, hulpelose gevoel te noem wat jou hele lewe in besit neem nie. Die lyers was desperaat om van hierdie verlammende gevoel ontslae te raak deur allerhande ‘kure’ te probeer. Sommiges het hulle na dwelms gewend, soos die Franse kunstenaar Vincent van Gogh, wat absinthe gedrink het. Meestal moes ons ouers en grootouers alkohol misbruik om beter te voel, al was dit net vir ’n rukkie. Met die gevolg dat hulle net dieper in die moeras van doodskaduwee afgetrek was.

Die feit is dat depressie ʼn lelike ding is as hy jou eers vasgevat het. En om te dink dat die slagoffer hiervan haarself “net moet regruk,” is bykans onmoontlik. Jy kan netsowel vir ʼn asmalyer of ’n diabeet sê dat sy haarself moet “regruk.” Die persoon het mediese hulp nodig, voordat sy weer beheer oor haar lewe kan neem.

Wat veroorsaak depressie?

“Depressie, of dit nou deur ’n eksterne of interne faktor aangewakker word, bly altyd ’n chemiese wanbalans, sê dr. Colin. Depressie word gewoonlik deur voorafgaande stres veroorsaak. Dit is dus jou emosionele reaksie op die stresfaktor. Mense is lief daarvoor om te sê: ‘my depressie is in my huwelik’ of, ‘in my werk.’
“Nee, depressie is in jou brein. Dit is jou reaksie op die stres in jou huwelik, of die stres by jou werk,” verduidelik dr. Colin, “wat dan veroorsaak dat jy in ’n depressie verval.”

Wat van ‘happy thoughts’ – dit kan mos ook werk?

“Nee, dit is ’n mite. Die paradoks van depressie is, wanneer jy positiewe denke wil toepas, moet jy jou brein gebruik. En jy kan nie ’n kranklike brein gebruik om homself gesond te maak nie. Net soos byvoorbeeld by ’n gebreekte been, al die happy thoughts in die wêreld gaan nie die been herstel nie. Jou brein moet eers medisyne kry om gesond te word. Die medikasie, tesame met intensiewe psigoterapie, herstel die chemiese wanbalans wat deur die stres veroorsaak word en dan eers kan jy begin beter voel,” verduidelik dr. Colin.
Mens kan ligte of medium depressie herstel met net psigoterapie, maar wanneer dit meer ernstig word het jy albei nodig om weer gesond te kan word.”

Is antidepressante nie net ’n moderne foefie nie?

Die eerste antidepressante het in die 1960’s uitgekom.  Die middels het ongelooflike en wêreldwye verbetering by depressielyers meegebring, veral in die hantering van selfmoordneigings en ander simptome van depressie. Volgens dr. Colin was daar ’n rukkie gelede bekommernis oor die gebruik van antidepressante deur adolessente - dat dit gelei het tot selfmoord. En vir ’n tyd lank is daar eerder nie aan tieners antidepressante voorgeskryf nie. Die selfmoordsyfers onder adolessente het in daardie kort tydjie wêreldwyd vervierdubbel! Antidepressante beskerm jou, behandel jou en maak jou gesond.

Hoekom is daar steeds ’n stigma rondom depressie in die moderne eeu?

Baie mense dink verkeerdelik dat depressie ’n spirituele oorsprong het. Dat jou geloof nie sterk genoeg is nie en daarom is jy só neerslagtig. Of hulle redeneer dat as jy genoeg bid en onwrikbaar glo dat die Here jou beter sal laat voel nie.
 “Daar kom rook by my ore uit wanneer ek dit hoor,” sê dr. Colin. Depressie is nie ʼn spirituele probleem nie!!  Dit is ’n biologiese reaksie, wat gesond gemaak kan word met die regte medikasie en terapie.  God help net vir die wat hulself help. Jy kan nie in ʼn hopie gaan sit en bid dat die Here ʼn weerligstraal gaan afstuur om jou chemiese wanbalans te korrigeer nie. Maar God gee vir jou insig. God sê vir jou gaan sien ’n dokter.

“Die teenoorgestelde is eerder waar. Dit is depressie wat ’n negatiewe impak op jou geloof het. Alle verhoudings word geaffekteer deur jou gemoedstoestand, ook jou verhouding met God. En dit is baie gevaarlik wanneer jy jou depressie koppel aan jou geloof, want as jou depressie nie beter word nie, wat sê dit dan van jou geloof? Mense koppel depressie onregverdig aan geloof en dit veroorsaak baie skade en pyn vir die lyer daarvan.

‘Kenners’ soos leke-predikers, kruiedokters en maatskaplike werkers is geneig om die brein en die emosies van mekaar te skei. Hulle dink hulle is gekwalifiseerd genoeg om oor die emosionele te praat en mense van emosionele raad by te staan, maar in die proses doen hulle meer skade as goed. Medikasie gekoppel met psigoterapie deur gekwalifiseerde terapeute help jou om weer rasioneel te kan dink. Dit kalmeer jou tot so ’n mate dat jy die stressors realisties kan benader, en dit op ’n nugter en gesonde manier uit te sorteer.
“Die bottomline is, wanneer jy vermoed jy ly aan depressie, gaan kry behandeling by jou huisdokter of ’n psigiater. Sorg dat jy beter word, dit is só eenvoudig soos dit.”

"DIE VERSKIL TUSSEN KLINIESE DEPRESSIE EN BIPOLÊRE DEPRESSIE

Albei geestestoestande verlam jou. Albei het ’n geweldige negatiewe effek op jou werk en op jou private lewe.

Met kliniese depressie is jy so neerslagtig dat NIKS meer vir jou die moeite werd is nie. Jy wil net dood wees. Dit tas jou hele menswees aan. Jy verloor selfvertroue en dit strem jou konsentrasie tot so ’n mate dat jy jou werk kan verloor. Jy is ook baie meer vatbaar vir ander siektes.

Met bipolêre depressie wissel jou gemoedstoestand van een ekstreem tot die ander. Sandra Banade van Kuilsrivier vertel dat sy een oomblik só neerslagtig is dat dit letterlik te pynlik is om jou gesig te trek net om te kan glimlag. ’n Ruk later het sy weer so manies geraak dat sy haar woonstel se matte 50 keer op ’n dag gestofsuig het; drieuur in die oggend haar kaste begin regpak het, net om weer die volgende dag só neerslagtig te wees dat sy skaars haar kop kon  optel. Vir 20 jaar het sy so gesukkel, totdat sy na ’n mislukte selfmoordpoging, gedwing was om ’n psigiater te gaan sien. Sy wou nie medikasie neem nie, omdat daar ’n stigma kleef aan terapie en antidepressante. 
“Ek drink nou my pille en ek gaan sien gereeld iemand en ek is nie skaam om dit te erken nie. Ek is nou al ʼn jaar op die medikasie en ek voel heelwat beter, alhoewel dit nog voel asof ek op ʼn roller-coaster is. Ek weet daar lê nog 'n lang pad voor, maar met al die wonderlike hulp van my familie en vriende, weet ek dat ek bo gaan uitkom.” "

Wanneer weet jy, jy ly aan depressie?

Jacomine Boonzaaier van Pretoria vertel: “Min mense is bewus daarvan dat daar verskillende tipes depressies is, en daarom dink hulle dat dit net stres is, dat hulle oorwerk is of iets. Maar wanneer jy agterkom dat jy steeds moeg voel na ʼn lang vakansie, jy steeds buierig en geïrriteerd is en dat die geringste dingetjie jou laat ontplof, moet jy weet dat daar fout is. “Voor ek vir behandeling gegaan het, was ek altyd kwaaivriende met almal. My romantiese verhoudings het nooit uitgewerk nie, wat my net dieper en dieper in ʼn put gegooi het. Van my selfbeeld was daar niks meer oor nie. Ek was paranoïes en obsessief sodra ek in ʼn nuwe verhouding was, ʼn groot fout in enige verhouding. Ek het drie keer my werk verloor. Ek het tweekeer probeer selfmoord pleeg. Die laaste keer het ek my polse in die bad gesny. Vandag is ek bly dat ek nog hier is. Antidepressante is die beste uitvindsel nog. Dit het my lewe aan my teruggegee.”

“Natuurlik is alles nie maanskyn en rose wanneer jy op medikasie is nie, daar is ook newe effekte soos gewigstoename, of ʼn lae libido, maar ek voel steeds dit is niks in vergelyking met die hel waardeur ek was nie, sê Jacomine.

Mens kan eers weet hoe verskriklik depressie is, wanneer jy self ʼn lyer is. Antidepressante het ’n ver pad gekom vanaf die 1960’s en dit is hier om te bly. Wanneer mens na die twee slagoffers luister begin jy wonder ... Hoekom sal jy jouself deur soveel hel sit, wanneer daar medisyne is wat dit beter kan maak?

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]