23 ANTIDEPRESSANTE jou woema Articles www.voelgoed.co.za

ANTIDEPRESSANTE

ANTIDEPRESSANTE

Die siekte van ons tyd?

2010-07-20Ingrid Botha

“Ag man, hou op om jouself jammer te kry. Dit is duidelik dat jou saak met die Here nie reg is nie. Ruk jouself nou reg.”
Al wat hierdie goedbedoelde “raad” regkry, is om ’n depressie-lyer nog dieper in die donker put af te stoot.

Geestessiektes
 
Is dit die siekte van ons tyd? Waarom hoor ons deesdae so baie van mense wat “bipolêr” is? Is dit ons moderne, vinnig-gejaagde leefstyl se skuld? Of is dit omdat ons in ʼn gebroke wêreld leef waar die Here nie ʼn groot genoeg rol speel nie?
KykNet het nou ʼn splinternuwe geselsprogram: ʼn Lewe Met... met Ruda Landman as die aanbieder. Ruda gesels in diepte met verskillende kenners oor geestessiektes, onder andere ook met die psigiater dr. Franco Colin.

Kliniese depressie is beslis nie ʼn simptoom van ʼn moderne leefstyl nie. Destyds het hulle net nie geweet wat om daardie swaar, hopelose, hulpelose gevoel te noem wat jou hele lewe in besit neem nie. Die lyers was desperaat om van hierdie verlammende gevoel ontslae te raak deur allerhande ‘kure’ te probeer. Sommiges het hulle na dwelms gewend, soos die Franse kunstenaar Vincent van Gogh, wat absinthe gedrink het. Meestal moes ons ouers en grootouers alkohol misbruik om beter te voel, al was dit net vir ’n rukkie. Met die gevolg dat hulle net dieper in die moeras van doodskaduwee afgetrek was.

Die feit is dat depressie ʼn lelike ding is as hy jou eers vasgevat het. En om te dink dat die slagoffer hiervan haarself “net moet regruk,” is bykans onmoontlik. Jy kan netsowel vir ʼn asmalyer of ’n diabeet sê dat sy haarself moet “regruk.” Die persoon het mediese hulp nodig, voordat sy weer beheer oor haar lewe kan neem.

Wat veroorsaak depressie?

“Depressie, of dit nou deur ’n eksterne of interne faktor aangewakker word, bly altyd ’n chemiese wanbalans, sê dr. Colin. Depressie word gewoonlik deur voorafgaande stres veroorsaak. Dit is dus jou emosionele reaksie op die stresfaktor. Mense is lief daarvoor om te sê: ‘my depressie is in my huwelik’ of, ‘in my werk.’
“Nee, depressie is in jou brein. Dit is jou reaksie op die stres in jou huwelik, of die stres by jou werk,” verduidelik dr. Colin, “wat dan veroorsaak dat jy in ’n depressie verval.”

Wat van ‘happy thoughts’ – dit kan mos ook werk?

“Nee, dit is ’n mite. Die paradoks van depressie is, wanneer jy positiewe denke wil toepas, moet jy jou brein gebruik. En jy kan nie ’n kranklike brein gebruik om homself gesond te maak nie. Net soos byvoorbeeld by ’n gebreekte been, al die happy thoughts in die wêreld gaan nie die been herstel nie. Jou brein moet eers medisyne kry om gesond te word. Die medikasie, tesame met intensiewe psigoterapie, herstel die chemiese wanbalans wat deur die stres veroorsaak word en dan eers kan jy begin beter voel,” verduidelik dr. Colin.
Mens kan ligte of medium depressie herstel met net psigoterapie, maar wanneer dit meer ernstig word het jy albei nodig om weer gesond te kan word.”

Is antidepressante nie net ’n moderne foefie nie?

Die eerste antidepressante het in die 1960’s uitgekom.  Die middels het ongelooflike en wêreldwye verbetering by depressielyers meegebring, veral in die hantering van selfmoordneigings en ander simptome van depressie. Volgens dr. Colin was daar ’n rukkie gelede bekommernis oor die gebruik van antidepressante deur adolessente - dat dit gelei het tot selfmoord. En vir ’n tyd lank is daar eerder nie aan tieners antidepressante voorgeskryf nie. Die selfmoordsyfers onder adolessente het in daardie kort tydjie wêreldwyd vervierdubbel! Antidepressante beskerm jou, behandel jou en maak jou gesond.

Hoekom is daar steeds ’n stigma rondom depressie in die moderne eeu?

Baie mense dink verkeerdelik dat depressie ’n spirituele oorsprong het. Dat jou geloof nie sterk genoeg is nie en daarom is jy só neerslagtig. Of hulle redeneer dat as jy genoeg bid en onwrikbaar glo dat die Here jou beter sal laat voel nie.
 “Daar kom rook by my ore uit wanneer ek dit hoor,” sê dr. Colin. Depressie is nie ʼn spirituele probleem nie!!  Dit is ’n biologiese reaksie, wat gesond gemaak kan word met die regte medikasie en terapie.  God help net vir die wat hulself help. Jy kan nie in ʼn hopie gaan sit en bid dat die Here ʼn weerligstraal gaan afstuur om jou chemiese wanbalans te korrigeer nie. Maar God gee vir jou insig. God sê vir jou gaan sien ’n dokter.

“Die teenoorgestelde is eerder waar. Dit is depressie wat ’n negatiewe impak op jou geloof het. Alle verhoudings word geaffekteer deur jou gemoedstoestand, ook jou verhouding met God. En dit is baie gevaarlik wanneer jy jou depressie koppel aan jou geloof, want as jou depressie nie beter word nie, wat sê dit dan van jou geloof? Mense koppel depressie onregverdig aan geloof en dit veroorsaak baie skade en pyn vir die lyer daarvan.

‘Kenners’ soos leke-predikers, kruiedokters en maatskaplike werkers is geneig om die brein en die emosies van mekaar te skei. Hulle dink hulle is gekwalifiseerd genoeg om oor die emosionele te praat en mense van emosionele raad by te staan, maar in die proses doen hulle meer skade as goed. Medikasie gekoppel met psigoterapie deur gekwalifiseerde terapeute help jou om weer rasioneel te kan dink. Dit kalmeer jou tot so ’n mate dat jy die stressors realisties kan benader, en dit op ’n nugter en gesonde manier uit te sorteer.
“Die bottomline is, wanneer jy vermoed jy ly aan depressie, gaan kry behandeling by jou huisdokter of ’n psigiater. Sorg dat jy beter word, dit is só eenvoudig soos dit.”

"DIE VERSKIL TUSSEN KLINIESE DEPRESSIE EN BIPOLÊRE DEPRESSIE

Albei geestestoestande verlam jou. Albei het ’n geweldige negatiewe effek op jou werk en op jou private lewe.

Met kliniese depressie is jy so neerslagtig dat NIKS meer vir jou die moeite werd is nie. Jy wil net dood wees. Dit tas jou hele menswees aan. Jy verloor selfvertroue en dit strem jou konsentrasie tot so ’n mate dat jy jou werk kan verloor. Jy is ook baie meer vatbaar vir ander siektes.

Met bipolêre depressie wissel jou gemoedstoestand van een ekstreem tot die ander. Sandra Banade van Kuilsrivier vertel dat sy een oomblik só neerslagtig is dat dit letterlik te pynlik is om jou gesig te trek net om te kan glimlag. ’n Ruk later het sy weer so manies geraak dat sy haar woonstel se matte 50 keer op ’n dag gestofsuig het; drieuur in die oggend haar kaste begin regpak het, net om weer die volgende dag só neerslagtig te wees dat sy skaars haar kop kon  optel. Vir 20 jaar het sy so gesukkel, totdat sy na ’n mislukte selfmoordpoging, gedwing was om ’n psigiater te gaan sien. Sy wou nie medikasie neem nie, omdat daar ’n stigma kleef aan terapie en antidepressante. 
“Ek drink nou my pille en ek gaan sien gereeld iemand en ek is nie skaam om dit te erken nie. Ek is nou al ʼn jaar op die medikasie en ek voel heelwat beter, alhoewel dit nog voel asof ek op ʼn roller-coaster is. Ek weet daar lê nog 'n lang pad voor, maar met al die wonderlike hulp van my familie en vriende, weet ek dat ek bo gaan uitkom.” "

Wanneer weet jy, jy ly aan depressie?

Jacomine Boonzaaier van Pretoria vertel: “Min mense is bewus daarvan dat daar verskillende tipes depressies is, en daarom dink hulle dat dit net stres is, dat hulle oorwerk is of iets. Maar wanneer jy agterkom dat jy steeds moeg voel na ʼn lang vakansie, jy steeds buierig en geïrriteerd is en dat die geringste dingetjie jou laat ontplof, moet jy weet dat daar fout is. “Voor ek vir behandeling gegaan het, was ek altyd kwaaivriende met almal. My romantiese verhoudings het nooit uitgewerk nie, wat my net dieper en dieper in ʼn put gegooi het. Van my selfbeeld was daar niks meer oor nie. Ek was paranoïes en obsessief sodra ek in ʼn nuwe verhouding was, ʼn groot fout in enige verhouding. Ek het drie keer my werk verloor. Ek het tweekeer probeer selfmoord pleeg. Die laaste keer het ek my polse in die bad gesny. Vandag is ek bly dat ek nog hier is. Antidepressante is die beste uitvindsel nog. Dit het my lewe aan my teruggegee.”

“Natuurlik is alles nie maanskyn en rose wanneer jy op medikasie is nie, daar is ook newe effekte soos gewigstoename, of ʼn lae libido, maar ek voel steeds dit is niks in vergelyking met die hel waardeur ek was nie, sê Jacomine.

Mens kan eers weet hoe verskriklik depressie is, wanneer jy self ʼn lyer is. Antidepressante het ’n ver pad gekom vanaf die 1960’s en dit is hier om te bly. Wanneer mens na die twee slagoffers luister begin jy wonder ... Hoekom sal jy jouself deur soveel hel sit, wanneer daar medisyne is wat dit beter kan maak?

Kommentaar
  • so waar en jammer baie mense hak nog vas agter die stigma.
  • Dankie vir die artikel, ek glo dit kan baie mense help en ook lewens red, as jy iemand verloor het deur depressie, kan mens dit nie genoeg beklemtoon dat daar hulp is en medikasie is nie 'n skande nie.
  • Ek het ook geweldig baie baat gevind by medikasie teen depressie. In my geval het ek vir niemand vertel nie, juis ook oor die stigma wat daaraan verbonde is. Mens moet met iemand kan praat. Kan mens niks doen aan die gewigstoename nie? Ek is 'n landloper en my enkels wil eenvoudig nie meer die ekstra gewig dra nie.
  • The sad part is when the person won't take medication for the depression, and doesn't see a problem, and the rest of the family then has to live with the misery. Eventually they lose interest because the person won't help himself either, which of course exacerbates the problem. Thanks for great reading!
  • Dankie tog daar is mense wat 'cense' praat. My pa was 'n depressielyer maar het dit eers op 76 uitgevind!!! Hy het vandat hy 16 jaar oud was, skokbehandelings ontvang vir bogemelde. Volgens die drs daardie tyd het hy 'n senu-kwaal gehad!! My broer het klinies en bipolêre depressie. Dankie tog vir medikasie vir dit. Was aaklig om my pa te sien na so 'n skoksessie!
  • Ek was self 'n depressielyer vir 3 jaar en was 3 jaar lank op medikasie. Ek het egter die medikasie gelos en lewe nou slegs op God se genade en Sy genesende krag.
  • My man is bipoler,weet iemand wat se hel die familie deurgaan,
    jy kan niks sê nie dan is die hel los, ek voel baie van die mense gebruik hulle siekte as 'n skerm, ek voel ek word elke dag emosioneel verkrag, ek het in die 5 jaar wat hy gediagnoseer is, 20 jaar ouer geword, want jy weet nooit wat die vlg uur gaan gebeur nie,jy moet al die probleme self uitsorteer want jy kan niks sê nie, dan ontrek hy hom en kom dae nie uit die kamer nie,
    medikasie help maar nie altyd nie, ek dink daar moet meer vir die families gebid word as vir die pasient, want glo my jy het dit nie maklik nie
  • Ken 'n jong dame met bipoler en sal graag dat haar ouers ook net meer inligting en bystand kry.
  • Weke nou gaan ek weer deur die wip plank van emosies....en die afgelope paar dae het die geloofswroeging by my posgevat....ai, as ek moet dink hoe ek my self nou al gekasty het met "jy is besig om alles te verloor en jy gaan alles verloor!!! jy moet harder werk aan jou geloof in God. jy moet net glo! dan word ek so opstroppelis en voel verlate en hoekom gaan ek alles moet verloor voor God my net kan aanvaar en my help om nie goor goet te dink nie. Jy moet mos bereid wees om alles net so te los om 'n goeie Jesus kind te wees. Maar hoekom hoekom ag en soveel hoekoms, met die keer op keer..."moenie jou sin in gebed verloor nie. God is daar vir jou! ek weet God is daar en ek glo in Hom, anders sou ek nie so gestoei het nie. Ek glo ook in die Heilige Gees, want ek glo is deur sy leiding ek die artikel oop gemaak en gelees het om net weer duidelikheid te kry. God het die mens geskape en is elkeen met sy eie talent gebore. Psigiaters ook. God het hulle brein so ingestel om ons te help. Dankie tog ook vir 'n Psigiater by name van dr. Arno Oberholzer wat my gehelp het. Kyk tog, alles kan nie net reg gemaak word deur gesels nie. En deur antidepriesante nie....glo my ek is nou al vir 'n paar jaar deur diep doodskaduwees en dan weer opi wolke...en nee ek is nie bipolêr nie...ek het ook nie suiker nie en in 'n mate is ek seker klinies depresief, maar deur 'n EEG toets is daar einde ten laaste opgemerk dat ek 'n ooraktiewe frontale brein het wat nooit ophou nie, nie eens as ek slaap nie en daarby het ek 3 Eptologene Polse ook in die frontale brein wat sulke skokgolfies heen en weer skiet. Sonder medikasie kan hulle na vergelyking so groot soos R5 munte word en baie skade aanrig, met medikasie krimp dit tot so 10c grootte of hopenlik sal dit dalk eendag geheel en al verdwyn. Mense depressie is nie daar vir hoogagtende mense wat jou benede hulle waardigheid ag oor jy nie kammakastig geloof toon nie, hou op om daardie mense te oordeel en ongevraag te seg, bid. Is reg wat jou artikel sê, God help die wat hulle self help...nou het ek myself so deurmekaar getik ek moet net onthou dat ....uhm, ag wat...Ek het depresie en ek het medikasie, ek moet dit gereeld gebruik en God is lief vir my en Hy het wonderlike drs geskape soos Dr. Oberholzer en Dr. Colin en sovele ander wat daar is om saam met hom na ons welsyn om te sien...dankie weereens
  • Dankie. Julle wat nie weet hoe dit voel nie, sal nie verstaan nie. As God my nie elke dag vashou en moed gee om aan te gaan nie, en my vashou as ek so huil en moedverlore voel nie, en boonop luister as ek my hart uitstort nie, sal ek dit nie maak nie. Dan drink ek my pille, en raak rustig, en Hy wys my dat alles nie so sleg is soos wat dit vir my voel nie. Hy verstaan alles, en daarom het Hy mense die kennis gegee om medikasie te ontwikkel om ons te help. Dankie vir julle wat verstaan hoe ons voel. God verstaan.
  • Ek is 28jr oud en het na n miskraam 2 jr gelede eers uitgevind van depressie.Die miskraam was net die 'trigger'van n jarelange geworstel met depressie!Ek is nie skaam om te erken dat ek op antidepressante is nie,dit het my gered van myself....Dankie vir die puik artikel,dit word waardeur...
  • Ek ly aan depressie en gebruik elke dag van my lewe medikasie daarvoor, ek het ook my eie lewe probeer neem, maar is gered, jy kan as jy wil met help, wat daar is
  • Ek het 'n paar maande gelede op aandrang van my huisdokter my antidepressant gelos. Volgens haar sal 'n glas wyn elke aand beter werk. Die uiteinde hiervan was ek uiteindelik in die hospitaal beland het. Nou is ek op dubbele sterkte en die gehalte van my lewe is baie, baie beter!
  • Ek ly aan erge depressie, het elke dag my meds gebruik en toe dink ek ek is genees en als gaan goed vir 2 maande. Nou met 'n groot skok het ek uitgevind ek is bipoler, ek is weer terug op my medikasie en voel fantasties. Ek kan nie dink hoekom ek dit gelos het nie, vir ander mense? Omdat altyd gevra is of ek my mal pilletjies gedrink het? Ek gaan myself nie weer daardeur sit nie, ek kan net dankbaar wees dat my man my hierdeur ondersteun en my vriende vir die res wat dink ek is mal... ek het nuus vir julle!!! Die hulp is daar hoekom dit nie gebruik nie??
  • Daar is sekere dinge wat jy vir jouself MOET doen as jy aan depressie ly:
    1. Gaan sien n terapeut as jy dit kan bekostig
    2. Kry medikasie
    3. Los die kafeien en gebruik minder suiker
    4. Kry GENOEG sonskyn op jou vel en kop (dis nie twak nie)
    5. Oefening is uiters belangrik
    6. Vermy stimulante soos rook, dwelms en alkohol so ver as wat jy kan.
    Hierdie goed gaan hand aan hand as jy genees wil word van depressie.
  • My emosies ry ook wipplank en ek sukkel met die medikasie,dan wil ek net slaap,dag en nag en dan kan ek weer glad nie slaap nie,kom klaar met 2-3ure slaap per dag.Tog haal die min slaap mens in en het mens geen energie en krag vir jou normale dagtake nie.Mense verstaan nie en jyself is raadop.Dokters meen jy is te haastig om resultate te sien,maar jy leef met die talle newe effekte.mede christene is die moeilikste om jou situasie te verstaan,want jy is dan so diep gelowige? Moedeloos!!!!
  • My man ly al vir meer as 3 jaar aan OCD.Hy was self by Dr Colin,en het medikasie vir dit gekry.Hy weier egter om die psigoterapie te doen.Hy het self sy medikasie laat verander en hy drink dit net soos dit hom pas.Ek moet gereeld hoor dat ek hom siekmaak en dat ek hom daarvan weerhou om gesond te word.Ek mag nie enige iets vir hom se nie,dan se hy ek maak hom net sleg en ek kraak hom net af.Maar intussen kan hy met my praat net hy wil en hy kan my uitmekaar vloek,en ek moet dit maar vir soetkoek opeet.Ek kan nie langer meer so aangaan nie, ek het alles in my vermoee gedoen om hom te probeer bystaan,en om hom te help met die psigoterapie,maar dis net nie goed genoeg vir hom nie.Ek het nou die punt bereik dat ek dit sterk oorweeg om my goed te vat en te loop, want hy se in elkgeval vir my hy gee nie meer om vir my en die kinders nie.Ek weet dis seker nie nou die regte tyd nie, maar hoe kan ek iemand help wat nie gehelp wil word nie.Hy nmoet gesond wil word, maar ek kry die idee dat hy agter sy siekte wegkruip, en dit as 'n verskoning gebruik.Ek het 'n professor gekry wat gese het sy sal hom kan help om met OCD te cope, maar hy het net nooit na haar toe gegaan nie.Ek kan hom nie dwong om soontoe te gaan nie,dis 'n besluit wat hy by homself moet maak.Ek stem saam dat die familie die meeste van die tyd erger daaronder lei as die siek persoon.
  • Hallo daar.Die ergste is om vir ander mense te verduidelik hoekom jy 'n sekere verpligting nie kan nakom nie. Jy het dan nie 'n sigbare siekte nie. Die skuldgevoelens teenoor jou gesin is vreeslik.Bipoler
  • puik artikel het ook vir jare weggekruip, maar erken nou openlik dat ek antidepressante gebruik en dit vir die res van my lewe moet gebruik, net soos enige ander persoon met kroniese siekte. al is ek eerlik is daar nog steeds mense wat dink dat ek dit oor myself bring deur op te staan en te besluit 'ek kan nie 'cope' so ek loop maar rond met 'n lang gesig omdat dit vandag my keuse is. maar vandat ek 2 jaar gelede my medikasie gereeld drink en alles onder beheer is sien ek van die wat my veroordeel met presies dieselfde simptomes!Gelukkig het ek 'n man wat my 100% ondersteun en kan nie genoeg dankbaar wees dat die Here die middelpunt van ons lewe is nie.
  • Dit help om te ontspan en die "waves" uit te ry.Drink die pille.Kry oefening.Gesels.Bly weg van negatiewe mense af.Moenie te veel op die "siekte" fokus nie.Mense het die neiging om te sê iemand skuil agter die siekte.As jy nie self weet hoe dit voel nie het jy geen reg om te sê iemand skuil agter die siekte nie.God genees en God verstaan.Ek sit hier en skryf en ek voel lus vir niks nie.My werk hoop op.My boyfriend is dierbaar, maar vir hoe lank?Sien hy kans om met my te trou?Ek wag maar geduldig vir die mania.Dis beter as die af tye.Ek sonder my maar af as ek down is.Vir die wat nie weet hoe dit voel nie, dis soos om permanent PMS te hê.Net erger.Jy weet nie wat is volgende nie.Ons het net nodig dat mense verstaan.
  • Ons het 'n familiegeskiedenis van depressie. Ouma,Ma,Oom's, Tannie's,neefs en niggies. Ek het grootgeword met 'n ma wat van tyd tot tyd die swart hond op haar rug gedra het. As tiener moes ek haar sien swaarkry. Ek het nooit kon dink hoekom die Here my deur hierdie swaar moes laat gaan nie.Totdat my pragtige middelkind sewe geword het,toe het ek geweet, God moes my
    leer om te verstaan. 'n Wonderlikke vrou, (psigiater)Dr Hanneke Malan het saam met ons die pad geloop. Vir sewe jaar het hy sy medikasie gedrink en dit het 'n groot verskil in ons lewens gemaak. Soms 'n bietjie sielkundige hulp gehad, en nog steeds in sekere omstandighede net nie kon cope nie, maar daar was 'n 80% verbetering. 'n Jaar gelede op 17 het hy by 'n college begin en hy het wonderlik gevoel. So wonderlik dat hy begin Maart 2010 (18) gevra het of ons 'n toets kan maak en die medikasie speen.Twee maande het dit goed gegaan, en toe op 'n dag lewer hy 'n swak toets in, en die dosent spreek hom aan. Dit was 'n "triger" vir alles om weer van voor te begin. Ons het Dr Collin gesien en en hy moes weer reg van voor met medikasie begin.Die afgelope paar weke was baie moeilik. Ons kon hom nie alleen los nie. Daar moes altyd iemand by hom bly want hy wou nie meer leef nie.Hy wou nie gesels nie. Hy wou nie eet nie. Hy wou nie soggens opstaan nie.Hy het ure net op sy bed in 'n donker kamer gelê. Soms gehuil,soms kwaad vir alles en almal. Net sodra dit lyk of dinge betergaan en hy is terug by die College, stort hy weer inmekaar en alles begin van voor af. Vir die res van die gesin is dit erg ontwrigtend. Vir my en pa hartverskeurend.Hy kry tans hipnoterapie/hipnose, om sy selfbeeld te versterk en sy geheu te verbeter.Ek weet die behandeling en medikasie sal werk, en dat ons net dag vir dag moet dankie sê dat daar wel "iets" is wat kan help om hom weer mens te laat voel. Vir die ouens daar buite wat nie verstaan wat depressie is nie wil ek sê "moet nooit iemand oordeel voordat jy nie drie weke in sy skoene gestaan het nie" Ek het selfs "vriendinne" wat heel ongevoelig/onnosel uitlatings maak dat mense op antidepresante, wat anders optree as wat hulle wil hê, zombies is agv die medikasie en nie gesonde besluite of keuses kan maak nie. Ek het nuus vir jou ou sussie....!
  • Hi daar. Ek het na vele terugslae in my lewe op gegee en so by 'n phigiater beland. Sy het my op Zolof gesit en ek was 2 jaar daarop. Omdat ek dink ek is beter en kan dit hanteer het ek dit gelos omdat ek toe ook nie wou terug gaan nie. Ek het intussen my Lewe vir ons Hemelse Vader oorgegee en bakleie elke dag die stryd. Ek stoeie baie met die emosionele wipplank ryery en sal sommer begin huil as dit teveel raak. Ek gebruik nou Prozen wat 'n herbal middel is en dit werk nog al om die vreeslike angstigheid te kalmeer. Beteken dit dat ek beter is of wat stel julle voor?? Groete
  • baie danie vir die artikel -baie leer saam en so jammer mense daar buite wil nie hulp kry wat beskikbaar is nie want die lewe is nie net moeilik vir hulle self nie maar vir almal om hulle wat lief is vir hulle en intusses gaan nie lewe by hulle verby
  • Die artikels is absoluut korrek wat n depressie lyer beskryf .....Baie dankie . Ek het die TV program ook gesien .
    ALLES GOED EN WEL - MY PROBLEEM
    My skoondogter is ook n ernstige depressie lyer en is op medikasie,
    Dit voel soms of ons ,as haar naaste familie,wat haar baie lief het die GEVANGENES is.HOE HANTEER N MENS SO N PERSOON IN HAAR DEPRESSIE.Wat se jy vir haar as sy begin twyfel in haarself , haar geloof , haar liefde en opvoeding van haar kinder.Wat doen jy as sy haarself bejammer.
    Moet die persone die naaste aan so n depressie lyer nie ook net soveel "opleiding " kry om sulke situasies te hanteer nie ???
  • ALLES GOED EN WEL-MY PROBLEEM en
    MY MAN LY AL DRIE JAAR AAN "OCD"-VERDER BOONTOE GESKRYF

    Is daar geen kundiges wat wil reageer op ons oproep om hulp nie ????
    Ons wil bittergraag help maar weet nie hoe nie
    Wat se jy en doen jy as jou dogter in erge depressie verval en wil selfmoord pleeg
    Sy is op streng medikasie maar skynbaar verval sy soms steeds in erge depressie.Hoe lig jy haar weer op ????
  • My seun het ook depressie. Het al twee keer ge OD. Geen persoon sal kan verstaan waardeur n ouer gaan om jou kind so down te sien nie. Ek bly net op my kniee. Met God en die medikasie weet ek hy sal genees word, maar dit is nie maklik nie.
  • Ek het ook nooit aan enige middel geglo wat 'n geestestoestand kan bevorder nie. Ek het my moeder sien mal word en sterf omdat daar nie van nie begin af vir haar die hulp was wat ons vandag het nie. Die Liewe Vader weet in watter bose wereld ons leef en ek glo Hy het die mens so slim gemaak om ons met hulpmiddels te help om ons dagtake te verrig. Drink jou pilletjies as dit jou laat beter voel en leef 'n vol lewe vir jou en jou geliefdes.
  • Daar is nog 'n terapie wat tesame met jou medikasie en sessie by die dokter vir jou baie lewenskwaliteit gee. Gaan lees by www.braingain.co.za meer oor Neuroterugvoeringsterapie en waar jou naaste Brain Gain Terapeut is. Dit werk en is baie bekostigbaar.
  • hi ek het n dogter wat bipoler is en het gisteraand na n lewe met gekyk.Kan iemand net vir my sê of julle moodstablisers en antidepressante gebruik.Soos ek van dr Colin verstaan vererger antidepressante bipolar.Sy sien n psigiater gereeld en ook n sielkundige weekliks.Haar pille maak haar egter naar en tot die dood toe moeg.Ek is al so moedeloos.Weet julle dalk waar ek dr Colin kan opspoor .

gesels saam


argief