23 SLAAN DIE WINTER-LUIHEID HOK! jou woema Articles www.voelgoed.co.za

SLAAN DIE WINTER-LUIHEID HOK!

SLAAN DIE WINTER-LUIHEID HOK!

Dit is winter, jy kry koud en al wat jy wil doen is op die bank lê en hot chocolate drink.

2010-07-19Ilana Scholtz

Jy is ’n stoelpatat wat net opstaan wanneer jou deurklokkie lui en jy die pizza moet betaal. Jy hou van die snoesige atmosfeer in jou huis en jy gaan beslis nie in die koue gym toe ry nie. Nou wat nou? Hier is ’n paar oulike wenke wat jy kan toepas sodat jy nie soos ’n Oros-mannetjie lyk nie en dat jy en jou huis nog steeds staande sal bly na dié koue maande:

Oefening kan pret wees

Ons is só gewoond daaraan dat oefening vervelig en harde werk moet wees, dat ons nie besef dat daar eintlik makliker maniere is om fiks te bly nie. Deesdae is daar oulike speletjies wat jy kan speel, soos byvoorbeeld Wii. Wie sou kon raai dat jy tennis in jou eie sitkamer kan speel? Dit is só lekker, jy kom nie eers agter dat jy oefening inkry nie.
Daar is selfs ook oulike dans-matte op die mark, waar jy en jou kinders lekker pret kan hê deur julself fiks te dans.
As jy dan nou wel vir jou ietsie warms gaan maak om te drink kan jy selfs in die kombuis bietjie oefen. Staan met jou maag teen die blad of kas waar die ketel kook, rus jou hande op die blad, lig nou stadig jou been sywaarts, agtertoe en opwaarts. Sodoende oefen jy jou bene sonder om jouself té veel in te span. Dink net hoeveel oefening kry jy in as jy elke keer vir jou ’n lekker koppie gesonde groentee gaan maak.

Goeie tye!

As dit baie koud is, is mens nie lus om iewers heen te gaan nie, jy wil eerder net by die huis sit en ’n DVD kyk. Daar is geen rede dat jy dit alleen hoef te doen nie, nooi ’n paar vriende oor en kyk saam fliek, julle kan selfs bordspeletjies speel. Dit is nie net groot pret nie, maar jou brein word ook gestimuleer.

Skoon huis, ferm lyfie

Oor die algemeen is huisskoonmaak nou nie een van die lekkerste goed om te doen nie, maak nie saak watter seisoen dit is nie. Ongelukkig is dit iets wat gedoen moet word. Jy moet net die manier waarop jy dit doen bietjie aanpas ... Speel een van jou gunsteling albums op die CD-speler en begin dan met jou huistakies, kort voor lank sal jou huis netjies lyk en jy sal sommer bietjie oefening ingekry het met al daai danspassies met jou mop en besem. Hou net jou gordyne toe, ons wil nie hê die bure moet dink jy is mal nie!

Eet lekker, maar eet gesond!

Eet hoë kwaliteit koolhidrate – In die winter is daar minder sonnige ure in die dag en ons gestoorde serotonien (“goed-voel” brein chemikalieë) neem af. Die gevolg is dat ons dan smag na lekker kosse wat baie koolhidrate bevat. Ons eet koesterkos, sodat ons beter kan voel. Oplossing? Eet eerder voedsame heelgraan, hoe kwaliteit koolhidrate soos byvoorbeeld soetpatats, pampoen en skorsies.

Winteroeste – Die vrugte wat ons in die winter kry is dalk nie so kleurvol en opwindend soos die somer s’n nie, maar dit is nog steeds baie lekker. In die winter hou ons van warm kosse, maar dit is juis daai lekker warm pastas, aartappels en rys wat om die heupe gaan sit. Deur net ’n bietjie vrugte daagliks by jou dieet in te werk sal wonders doen vir jou gestel en jou vel sal ook glinster. Bosbessies (cranberries), persdruiwe, sitrusvrugte en wortels is baie voedsaam en dit sal ook bietjie kleur verskaf aan die normale, vaaletes wat mens gewoonlik in die winter eet.

Vitamiene D – Is ’n belangrike toevoeging in mens se liggaam, dit help om kalsium en fosfor te absorbeer wat beensiektes kan voorkom. Ongelukkig is die vitamiene D wat mens deur kos (versterkte suiwelprodukte, vetterige vis, eiergeel) inneem nie genoeg nie en word jy aanbeveel om gedurende herfs en winter elke dag vitamiene D aanvullings te gebruik. Praat net eers met jou dokter voordat jy begin om aanvullings te gebruik.

Versorg jou verkoue – Mens kan nie altyd ’n verkoue voorkom nie, maar navorsing het bewys dat ’n 1000mg vitamiene C aanvulling jou verkoue heelwat ligter kan maak en selfs kan verkort. En vir die wat lief is vir jogurt, is daar goeie nuus ... ’n Duitse studie het bewys dat probiotika (wat mens in jogurt kry) jou verkoue met twee dae kan verkort.


Bronne:
www.kidzworld.com
www.healthcastle.com
www.sparkpeople.com 
 

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]