KINDERS BY DOSYNE... OF NIE
So verbeter jou kanse op swangerskap; en so vermy jy dit.
2010-04-22Karen Webber
So verbeter jou kanse op swangerskap; en so vermy jy dit.
2010-04-22Karen Webber
Vir baie getroude paartjies is die wonder van swangerskap, iets waarna hulle uitsien en nie kan wag nie, maar dan kry jy paartjies wat eerder nie dadelik met ’n gesin wil begin nie en mekaar eers bietjie geniet... Hoe dit ook al sy, hier is ’n paar wenke hoe om swanger te raak en hoe om nie swanger te raak nie...
5 Top tips om swanger te raak ...
Seks. Het die Here nie 'n wonderlike manier geskep om dit vir ons moontlik te maak om kinders te kan kry nie? Maar die pad na ouerskap is nie altyd maklik nie, so hier is ons top tips om die wonderwerk van voortplanting 'n hupstoot te gee.
GESONDHEID
Erg onder- of oorgewig vrouens ovuleer nie gereeld nie of in sommige gevalle glad nie. Maar jou man behoort ook 'n gesonde gewig te handhaaf, aangesien oorgewig mans dikwels 'n lae spermtelling het. Oefening en 'n gesonde dieet sal julle meer energie gee en jul selfvertroue verbeter – en mans regoor die wêreld stem saam dat as 'n vrou haar oorgee aan genot tussen die lakens, dit baie meer sexy is as een wat selfbewus so gou as moontlik die ligte probeer afsit.
DIEET
Moenie wag tot jy swanger is om sigarette, kafeïne en alkohol uit te sny nie, aangesien die gebruik daarvan jou vrugbaarheid negatief kan beïnvloed. Weereens geld dieselfde vir manlief. Hy behoort gewoontes soos rook en bierdrink dop te hou tesame met dinge soos te warm badwater en stywe onderklere wat kan maak dat hy minder en swakker swemmers produseer.
OVULASIE
Ovulasie, wanneer jy op jou vrugbaarste is (vind plaas twee weke vanaf die eerste dag van jou vorige menstruasie). Maar siklusse is soms onvoorspelbaar, so moenie daarop staatmaak om net op daardie dag seks te hê nie. Spermselle kan tot drie dae lank in 'n vrou se liggaam bly lewe, so begin 'n paar dae voor jou verwagte ovulasie met julle babamakery.
As jy jou lyf goed ken - en nie bang is om dit te ondersoek nie - kan jy uitkyk vir die subtiele fisiologiese tekens van ovulasie om te weet wanneer jy op jou vrugbaarste is. Die duidelikste teken is die verandering in die voorkoms van jou vaginale afskeiding (servikale slym) gedurende jou siklus. Wanneer jy nie ovuleer nie is die afskeiding redelik taai en amper romerig, maar gedurende ovulasie lyk en voel dit soos rou eierwitte. Wanneer jy dit tussen jou vingers kan strek vir 'n paar sentimeter is jy op jou vrugbaarste.
POSISIE
Te danke aan swaartekrag is dit beter as jou man bo is wanneer julle seks het, terwyl staande of vrou-bo posisies die saak bemoeilik. Help die sperms aan deur jou heupe te lig met 'n kussing onder die agterstewe. En bly so gestut lê eerder as om dadelik agterna op te spring. Party mense stel ook voor jy skop jou bene in die lug (amper asof jy fietstrap) of trek jou knieë op tot teen jou maag en laat die swemmers hulle ding doen.
ORGASME
Die manlike orgasme is noodsaaklik as julle 'n baba wil maak, maar wat van die vrou? 'n Klimaks vir beide maak natuurlik die babamakery nog meer pret, maar dit kan ook julle kanse op swangerskap verbeter. Wanneer jy saam met jou man 'n orgasme bereik, of kort na hom, druk jou serviks vorentoe in die poeletjie sperms in jou vagina. So kom jou serviks in kontak met meer sperms as wanneer dit in 'n rustende toestand is.
... En 5 top tips om swangerskap te vermy
Maar wat as jy juis nié wil swanger word nie? Miskien is julle pasgetroud en wil eers 'n paar jaar wag of julle voel julle gesin is volkome - hier is die moets en moenies om swangerskap te vermy.
VOORBEHOEDMIDDELS
Geen voorbehoedmiddel is volkome betroubaar nie, maar die pil - solank jy nie 'n dag mis nie - is die veiligste opsie. Ander voorbehoedmiddels wat meer as 99% suksesvol is, sluit in kondome, intrauteriene apparate en die hormoon-inspuiting wat jaarliks of elke drie maande toegedien word.
DUBBEL SEKER
Sekere medikasie soos antibiotika kan maak dat jou voorbehoedpil nie werk soos dit moet nie, aangesien dit die absorpsie van estrogeen vlakke in jou liggaam kan beïnvloed. Vra jou dokter of apteker oor die moontlike effek van medikasie - met of sonder voorskrif - op jou voorbehoeding of gebruik kondome gedurende jou huidige siklus om dubbel seker te maak jy raak nie swanger nie.
IN NOODGEVALLE
Alles is nie verlore as die kondoom skeur of jy mis 'n pil nie. Nood voorbehoeding in pil vorm kan sonder voorskrif by apteke gekoop word of gratis by hospitale of klinieke verkry word en is relatief effektief tot drie dae na onbeskermde seks.
TYDSBEREKENING
Aangesien bevrugting tegnies net moontlik is gedurende ovulasie, kan vrouens met 'n gereelde siklus die ritme metode gebruik om swangerskap te vermy. Deur glad nie seks te hê wanneer jy ovuleer of die drie dae voor ovulasie nie, kan jy met redelike sekerheid swangerskap vermy. Die week voor jou verwagte menstruasie is die veiligste tyd vir onbeskermde seks gedurende jou siklus.
STERILISASIE
As julle doodseker is julle wil nie nou of in die toekoms kinders hê nie kan sterilisasie 'n goeie opsie wees. Beide die manlike en vroulike prosedures - afbinding van die Fallopius buise of 'n vasektomie - is relatief eenvoudig, maar die permanente effek wat dit sal hê op julle vermoë om ouers te word beteken julle moet baie seker wees voor julle hierop besluit.
Maar of julle nou probeer swanger raak of nie, moenie die pure plesier van seks uit die oog verloor nie. Genotvolle seks is 'n belangrike element van enige huwelik en dit is belangrik dat jou intieme verhouding met jou man die prioriteit bly - selfs wanneer jy heeldag aan babas dink!
argief
PAULA SE 10 GEWIGSVERLIES WENKE
Paula Galão van Eden Life gewigsverlies kliniek deel haar 10 gewigsverlies wenke.DIE LIEF JOUSELF DIEET
Wees lief vir jouself en verloor gewig!WONDERSOETE SLAAP
Sal slaap nog steeds so wondersoet wees as jy te veel slaap?JOU EEN-WEEK ENERGIE DIEET
Sorg dat jou energievlakke heeljaar lank hoog bly, met dié eenweek-energiedieet.DAARDIE TWEEDE GLASIE WYN ...
Jy is by die huis en jy hoef nie te bestuur nie, wat is dan verkeerd met 'n glasie wyn elke aand?REëLS VIR GESONDWEES IN 2012
Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.HOE MAAK JY JOU KOS GAAR?
Jy eet dalk gesond, maar jou gaarmaak-metode, verander dalk jou gesonde kos in iets wat net jou maag vol maak.SIT SPANNING OP SY PLEK!
Jy werk baie hard, want jy moet mos oorleef, of hoe?SOETE SOETE SLAAP
Jy lê stil in jou bed, amper te moeg om die komberse oor jou skouers te trek.DIE EEN-REËL DIEET
Sal jy van 'n dieet hou met nét een reël?


.jpg)




.jpg)

















