23 DIS HY WAT MY VET MAAK ... REGTIG! jou woema Articles www.voelgoed.co.za

DIS HY WAT MY VET MAAK ... REGTIG!

DIS HY WAT MY VET MAAK ... REGTIG!

Jy was altyd skraal voor die troue, maar nou word jou jeans elke jaar 'n nommer groter ...  Hy sê niks nie, maar jy kan sien hoe sy wenkbroue lig as jy sukkel om jou rits op te kry. Tog voel jy dis alles sy skuld.

2010-02-25Liezl Heidtmann

Hy verlang steeds na daai stywe wit jeans waarin hy jou die eerste keer raakgesien het. Dit was baie hamburgers gelede, want daardie broek haak nou by jou knieë vas. Die meeste vroue tel gewig op as hulle eers getroud is, maar jy kán dit vryspring! Sielkundige Phia Kotze sê jy moet weet waar die struikelblokke lê, want dan kan jy jou gewig beheer.

WAT GAAN AAN?

Skielik is alles vir jou vreemd. En daar’s “iemand” in jou badkamer en bed ... pal. Jy weet ook nie altyd wat om van jouself of van hom te verwag nie. Wie moet wat doen? En wie mág wat doen? Is die kombuis jou departement en die tuin syne ... of gaan julle alle verpligtinge gelykop deel? En geld? Meeste paartjies besluit gewoonlik hierdie tipe goed voor die troue. Maar besluit en praktyk verskil! En dis amper onmoontlik om oor alles saam te stem. Dit dra alles by tot stres, en as jy gespanne voel, gaan jy maklik jou hand in die koekblik druk.

Die sielkundige sê: Wees oop-oë in hierdie hele ding. Weet wat jy eet en skryf dit neer as jy moet. Dan kan jy duidelik sien hoeveel jy elke dag eet en hoekom. As julle die dag baklei en jou lys is twee bladsye lank, moet jy liewers iets anders as oliebolle kry om jou tande in te slaan. Flink gaan stap of ’n entjie op jou fiets, sal jou ook beter laat voel ...

KOSPOTTE VIR TWEE!

Hoeveel keer het jy as enkellopende vir jouself gekook? Dis heeltemal te veel moeite om ’n groot ete vir een mens te maak. Die meeste aande het jy sommer ’n geroosterde toebroodjie geëet of ’n bietjie groentelasagne van Woolworths in die mikrogolfoond gesit. Maar so ’n bietjie kos sal nooit jou hongerige man vol kry nie! Daarom kook jy volstoom ... genoeg vir hom en die hele weermag. Elke ete bestaan uit (vetterige) vleis, aartappels, geroomde groente en soms ook nog nagereg. En as hy so lekker eet, doen jy heerlik mee.

Die sielkundige sê: As jou gewig vir jou en jou man belangrik is, maak dit ’n prioriteit. Mans het meer kos nodig, want hulle is groter en hulle metabolisme is ook vinniger. Hou dit in gedagte wanneer jy opskep en moenie by hom probeer byhou nie. Gewoonlik eet mans ook minder deur die dag en kry saans eers lus vir ’n lekkerny of twee. Maar jy’t dalk al klaar vanmiddag joune gehad ...

IETS OM TE VIER!

Julle verhouding word gevier, en daarom gaan julle baie uit. Ongelukkig word die meeste paartjies se tyd saam rondom kos beplan, soos uiteet, braai en kuier saam met al die “nuwe” familie.

Die sielkundige sê: Volgens ’n studie wat deur die Noord-Carolina Universiteit in Amerika gedoen is, is getroude paartjies se kans om vetsug te kry, dubbeld so groot as enkellopendes s’n. Doen goed saam wat nie noodwendig eet en kos insluit nie. Gaan byvoorbeeld teater toe, of gaan speel gholf. Eet liewer by die huis waar jy beheer oor die kilojoules het. Probeer ook om nie voor die televisie te eet nie. Studies het bewys dat volwassenes en kinders meer eet wanneer hulle voor die kassie sit – dan werk die kos-advertensies veral goed!

DIS DIE PIL SE SKULD!

Die meeste van ons glo die pil maak ons vet. En nou wonder jy of jou voorbehoedmiddel nie die sondebok vir jou nuwe rondings is nie.

Jou oplossing: Dit lyk nou of die ouer handelsname soos Diane en Minerva wel gewigstoename tot gevolg kan hê. Maar daar is genoeg bewyse dat die nuwe generasie voorbehoedmiddels gewoonlik nie gewigstoename tot gevolg het nie. Dit sluit in
drosperinoon (Yaz & Yasmin), desogestrel (Mercilon, Marvelon en die plakker Evra), of selfs gestodene (Femodene, Melodene, Minesse & Mirelle, Minulette). Vra jou dokter oor die verskillende opsies.

JY’S MOEG!

Dis nie altyd so maklik om langs iemand anders aan die slaap te raak nie, veral nie as jou maat snork of rondrol nie. Studies het bewys dat baie paartjies wat ’n bed deel, slegter en minder slaap. Min slaap beteken meer stres vir jou liggaam en meer vet word dan gestoor. En wanneer jy in die middel van die nag opstaan, peusel jy ook waarskynlik, wat jou kilojoule-inname opstoot.

Die sielkundige sê: Natuurlik is dit lekker om lepel te lê en jou man snags naby jou te hê. Maar wanneer jou maat veroorsaak dat jy sleg slaap, moet jy ’n plan maak. Bepaal die oorsaak van sy gesnork of rondrollery en vra jou dokter vir raad. As niks help nie, is ’n groter dubbelbed of aparte beddens dalk die oplossing. Besluit daarom saam hoe julle wil slaap en oorweeg aparte kamers of beddens as dit julle slaappatroon gaan verbeter.

HELP MEKAAR

Dis nie net jy wat vet word nie, sommige mans tel ook gewig op wanneer hulle trou ... Die skade vat net gewoonlik langer om te wys!

Die sielkundige sê: Wees eerlik met mekaar en sê vir jou maat as hy gewig optel. Hy kan dieselfde vir jou doen. Moenie seergemaak voel nie, maar waardeer sy eerlikheid en sleep hom saam gimnasium toe. Julle wil mos goed lyk vir mekaar!

Bederf jouself en jou man deur seker te maak jy lyk nog net so goed in jou skinny jeans soos voor jy getroud is. Daar is niks wat jou so onseker in jou verhouding laat voel soos ongemaklikheid met jou lyf nie.
Vir navrae of sielkundige berading kontak Phia Kotze by 012 343 0265.

Bronne: www.webmd.com




Kommentaar
  • wat nie vat is nie
  • ek het nou 'n jaar laas voorbehoedpille gedrink, en het baie gewig aangesit. Ek was op FEMODENE ED. Dink jy ek moet weer terug gaa op die pil of 'n ander een gebruik. Ek is al 34 en is 15jaar getroud.
  • Ek het vyfjaar niks gebruik nie en my gewig was altyd konstant en gewig maklik verloor, toe begin ek so jaat terug die evra gebruik en het toe baie gewig opgetel en toe die evra gelos en die Yaz begin gebruik en my gewig blky net stilstaan ek val nie af nie en eks op 'n dieet en oefen vierkeur 'n week, eks raadop en lus om die pil heeltemal te los en kyk dan wat gebeur.

gesels saam


argief