23 JOU GEREED-VIR-AKSIE SOMERGIDS! jou woema Articles www.voelgoed.co.za

JOU GEREED-VIR-AKSIE SOMERGIDS!

JOU GEREED-VIR-AKSIE SOMERGIDS!

Somer is nie altyd so sexy soos op televisie nie. Bruingebrand is dikwels eers 'n kreefrooi eina. Ons wys hoe jy koelkop kan bly, wanneer somer kook.

2009-12-22Liezl Heidtmann

Jy sien al heeljaar na julle Desembervakansie uit. Dwarsdeur die koue wintermaande dagdroom jy oor daardie spesiale tyd. Jy begin sommer dan al reëlings tref. Maar helaas! Keer op keer dreig julle somervakansie om te ontaard in ? ramp. Daar is nog ? duisend dinge om te doen en helfte daarvan loop in elk geval verkeerd. Wel, miskien kan jy hierdie jaar rustig agteroor sit en hierdie vakansie geniet, want ons het ’n oplossing vir elkeen van jou probleme gevind.

Orden die chaos

PROBLEEM: Julle vertrek oor twee dae met vakansie, en dit voel of jy nog niks gedoen het nie! Waar op aarde moet jy begin?

OPLOSSING:
Maak twee lysies waarop jy jou prioriteite uiteensit. Een lysie is vir dinge wat jy beslis voor die vakansie moet doen, en die tweede lysie is vir goed wat maar kan wag totdat julle vakansie verby is. Werp jou energie in die eerste lys se take in, en bêre die tweede een.
Delegeer take om seker te maak al die verantwoordelikheid rus nie op jou skouers nie. Vra jou man om seker te maak die motor is gereed vir die langpad of vra jou buurvrou om na die kinders te kyk, terwyl jy reëlings tref.

Jy kan ook jou senuwees kalmeer met ’n natuurlike kalmeermiddel soos EasiCalm, R60, by uitgesoekte apteke beskikbaar.

Ry rustig

PROBLEEM: Die wiele het nog skaars begin draai, of alles in jou lyf draai saam. Jy begin so effens in ’n koue sweet uitslaan, terwyl jy naar en duiselig voel. Die groot karsiek het jou getref! Dit gebeur gewoonlik wanneer die boodskappe tussen jou ore, oë en brein in konflik is. Maar gelukkig is daar baie hulp, jy hoef nie so sleg te voel nie.

OPLOSSING:
Gemmertee is ? natuurlike produk wat ’n kalmerende uitwerking op jou maag het en dus naarheid teenwerk. Week varsgemmer vir ’n paar minute in kookwater en gooi dit in ’n flessie om saam te vat op die langpad. Drink vooraf daarvan en neem gereeld ? paar slukkies daarna.
Probeer ook iets soos Tripease, R120, ’n homeopatiese middel spesifiek vir karsiekte. Dit het geen newe-effekte nie, so dit jou nie lomerig maak nie.

Stuit muskiete

PROBLEEM: Dis ongelukkig nie net jy en jou familie wat ’n gesellige aand om ? bosveldkampvuur geniet nie. Die muskiete doen behoorlik mee! Hoewel die meeste muskietbyte net jeuk en ongemaklik is, veroorsaak muskiete die meeste sterftes onder mense weens virusse soos malaria wat hulle oordra. Wees maar versigtig en beskerm julleself.

OPLOSSING:
Muskiete hou van water, donkerkleure, sweet en bloed. Verwyder alle waterbakke wat in en om julle blyplek staan. Dra langmouklere in ligtekleure, veral vroeg in die oggend en teen skemer, dan is muskiete op hulle besigste. Kies produkte wat DEET bevat om jouself “onsigbaar” vir muskiete te maak. As jy sensitief is vir chemikalieë, probeer Mozzie-less, R55, wat ’n 100% natuurlike produk is en uit ’n mengsel van essensiële olies bestaan. Dit bied vir ses tot agt ure beskerming, sonder om jou vel te irriteer.

Ry jy sjleeptong?

PROBLEEM: Julle het te heerlik gebraai. En saam met jou watertand kos, het jy ? paar glasies rooiwyn geniet. Jy voel nog so reg soos ? roer, maar is jy regtig nog in staat daartoe om te bestuur? Jy moet seker maak dat jy veilig by die huis gaan kom. Maar hoe bepaal jy of jy wel nog kan ry, en of iemand anders liewer moet bestuur?

OPLOSSING: Daar is ’n oulike doen-dit-self alkoholvlak asem-analiseerder beskikbaar. Dit meet of jy te veel alkohol in jou sisteem het. Jy blaas in ’n sakkie met geel kristalle en as dit groen verkleur en oor ’n sekere merk beweeg, mag jy nie bestuur nie. Dis gerieflik om byderhand te hê en hou jou en diegene om jou, veilig. Besoek www.anytests.com vir ’n minimum bestelling van vyf toetse teen R35 elk.

Wees sonslim

PROBLEEM:
Soms voel dit of jy net nie die skadelike strale van die son kan vryspring nie. Al smeer jy sonskerm aan, brand jy nog steeds seer. Jy wil graag jou vakansie voluit geniet, buite die strandhuis ook!

OPLOSSING: Die meeste mense smeer eenvoudig nie genoeg sonskerm aan nie. Jy moet tenminste een teelepel sonskerm op jou gesig smeer en ’n eetlepelvol op elke arm. Dit is belangrik om ook genoeg sonroom op jou rug en bene te smeer. Navorsing het bewys dat golfspelers wat ’n 70 SBF waterbestande sonskerm aansmeer, minder brand as dié wat ’n gewone SBF 15 aansmeer. Omrede sweet en water dikwels die sonskerm afspoel of verdun, moet jy ten minste elke twee ure weer daarvan aansmeer.
Wees bedag op die volgende gevaarareas wat dikwels verwaarloos word: ore, voete en kopvel (dra ’n breërandhoed!).


Tref dié jaar beter voorsorg vir die vakansie sodat jy ook kan ontspan. Dit is mos jou vakansie ook!



argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]