23 GELUK HET MEER KRAG AS KANKER jou woema Articles www.voelgoed.co.za

GELUK HET MEER KRAG AS KANKER

GELUK HET MEER KRAG AS KANKER

Sy was besig met die laaste troureëlings toe die verdoemende woord "borskanker" oor haar uitgestort word. Samantha Brown (35), van Johannesburg moes kies: wegkwyn of voluit blom.

2009-10-14Liezl Heidtmann

In siekte en gesondheid

Toe ek ’n jaar gelede uitgevind het ek het borskanker, wou ek skree: “Hoekom ék?!” Ek het my afgevra hoe ek dit kon voorkom het. Daar was egter niemand in my familie wat kanker gehad het nie en bowendien was ek mos nog te jonk vir so iets.

Ek het na so baie goed uitgesien: my troue, die wittebrood en my nuwe lewe as getroude vrou. Ek het gewonder hoe my verloofde, Mike, oor my siekte sou voel. Sou hy steeds met my wou trou? Toe ek hom daaroor uitvra, was sy antwoord: “In siekte en gesondheid, Skat.” Ek het toe besef hoe gelukkig ek was al het ek borskanker gehad. Hoewel die stryd opdraand was, glo ek dis geluk wat borskanker geklop het.

My eie hare op my troudag!

Vir die meeste vroue is dit vanselfsprekend, maar vir my was dit ’n voorreg. Ek het chemoterapie gekry om die gewasse in my bors kleiner te maak. Die eerste behandeling was ’n week voor die troue. Dit was aaklig! Ek was hondsiek, maar Mike het heeltyd by my gebly.

Ek was doodbenoud my hare gaan uitval voor my groot dag en dat ek ’n pruik sou moes dra.
My troudag het egter aangebreek en ek het steeds my hare gehad! Ek het soos ’n prinses gevoel.

’n Pruik is pret

My hare het begin uitval terwyl ons op wittebrood was. Dit het my siekte ’n werklikheid gemaak, omdat almal kon sien ek het kanker. Aan die begin het ek baie gehuil. Mike het my gehelp om my hare af te skeer. Ek was nogal trots op my nommer 1-haarstyl. My kopvel was eers baie sensitief, maar later kon ek ’n pruik dra.

Dit was pret om ’n pruik te kies! Ek het gekyk hoe lang en kort, rooi en swart style lyk, maar ek het ’n blonde een gekies, omdat dit my eie haarkleur is. Dit het baie natuurlik gelyk – iemand het my selfs gevra waar ek my hare laat sny het. Dit het my dag gemaak!

My man is lief vir mý

Die chemoterapie het eers die gewasse kleiner gemaak en daarna moes dit tydens ’n operasie verwyder word. Ek was bekommerd hoe ek na die tyd sou lyk en of my man my steeds aantreklik sou vind.

Ek kon nie dadelik borsrekonstruksie ondergaan nie, wat beteken ek is sonder ’n regterbors.
Mike het my verseker dit pla hom nie en dat sy liefde vir my groter is as my bors. Hy is lief vir die hele ek, nie net ’n deel van my nie.

Ek maak vrede met hoe ek lyk


’n Paar dae voor die operasie was ek in ’n boekwinkel. Daar was ’n man wat moeilik geloop het en nie regop kon staan nie. Oomblikke later was sy lang en aantreklike vrou langs hom. Ek het besef die man kon nie sy toestand wegsteek nie, maar hy het nogtans trots langs sy vrou geloop asof daar niks fout was nie. Anders as hy, kan ek nog my toestand onder my klere wegsteek. Niemand hoef te weet nie. Ek het besef hoe dankbaar ek moet wees, maar ook dat my toestand nie bepaal wie ek is nie. Na die operasie sou ek steeds Samantha wees.

Ek lyk nie meer soos ek voorheen gelyk het nie, en ek het vrede daarmee gemaak. Emosies neem egter langer om te verwerk en soms worstel ek nog daarmee. Maar ek besef elke dag dat ek gelukkig is om te leef en daarom leef ek met oorgawe.




argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]