DRAF STRES KAF
Stres is hier om te bly. Die redes vir jou stres ook. Maar dis geen rede om die lewe nie te geniet nie!
2009-09-22
Stres is hier om te bly. Die redes vir jou stres ook. Maar dis geen rede om die lewe nie te geniet nie!
2009-09-22
Pret en plesier is juis die manier om van stres en spanning ontslae te raak, sê Amalie Pistorius, 26 van Port Elizabeth.
“Stres is soos ’n besige straat. Dis verwarrend, gevaarlik en die geraas maak jou mal. Jy kan kies – óf jy word deel van die chaos, óf jy breek weg.”
As spraakterapeut by ’n skool vir kinders met outisme, is daar verskeie uitdagings wat die werk meebring. ’n Mens moet op jou voete kan dink, geduldig wees en die kinders reg hanteer, veral omdat hulle soms ook gedragsprobleme toon. Dit is daarom belangrik om my frustrasies en emosies te ontlaai en om ontslae te raak van die dinge wat my bekommer. Daar is ’n paar goed wat vir my werk:
Ek lag saam met iemand
Wanneer ek erg gespanne is, bel ek my ma of iemand wat vir my omgee. Ek was een Vrydagaand vreeslik ontsteld en gestres omdat ek ’n moeilike week by die werk gehad het. In trane bel ek toe my ma. Sy was besig om na ’n Afrikaanse musiekprogram op televisie te kyk en sê ek moet saam met haar dans. Ek was eers nie baie lus nie, maar na ’n ruk spring ek toe maar rond. Ons was so simpel en laf, ek kon nie anders as om te lag nie! Dit help om laf te wees. Ek voel weer soos ’n kind en kan vir myself lag wanneer ek saam met my gunstelingliedjies jive!
Ek oefen in die buitelug
Die beste teenmiddel vir stres is seker oefening. Ek sorg dat ek elke tweede dag oefen.
Ek is bevoorreg om by die see te bly en langs die water te kan draf. Die branders het ’n ongelooflike effek op my. Dis asof die water my kop skoon spoel. As ek klaar gedraf het, voel dit of ek my probleme in die sand gelos het. Om in die buitelug te oefen maak ’n groot verskil. Jy asem vars lug in, en as jy gelukkig is, ervaar jy stilte. Dis ’n duisend keer beter as om jou frustrasies in ’n besige gimnasium te probeer wegoefen. Die lang toue en die vasgestelde oefentye dra eintlik net by tot nóg frustrasies. Maar as ek nie ’n ander opsie het nie, dan is die gimnasium steeds beter as niks.
Ek leef my kreatiwiteit uit
Ek was nog altyd lief vir skilder. Daarom maak ek seker ek haal gereeld my kwaste uit. Skilder absorbeer al my aandag en vir ’n paar uur fokus ek net op die kwashale, baie kleur en die lekker musiek wat speel terwyl ek verf. Dit laat my ontsnap na ’n ander wêreld waar probleme nie bestaan nie! Wanneer ek my kwaste neersit, voel ek meer ontspanne. Dit help om soms net van alles te vergeet.
Ek bederf myself
Dis nie net werk wat my gespanne laat voel nie. Ek is doodbang om tandarts toe te gaan. Elke besoek aan die tandarts is vir my ’n traumatiese ervaring! Ek moes onlangs weer gaan, en om dit vir my beter te maak, bespreek ek toe ’n massering vir na die tyd. Dit was die lekkerste tandartsafspraak wat ek nog gehad het! Ek het meer ontspanne gevoel, want ek kon na iets lekkers uitsien. As jy baie stres, is dit goed om jouself te bederf. ’n Warm skuimbad of ’n Friends-DVD verrig ook wondere na ’n stresvolle dag.
My gunsteling-aanhaling
“Dit (situasies) is soos dit is. Jy kan dit nie verander nie. Jy kan net besluit hoe jy daarop gaan reageer. Jy kan nie die kaarte kies wat vir jou uitgedeel word nie, maar jý besluit hoe jy daarmee gaan speel.” – Anoniem.
Die aanhaling laat my besef hoeveel beheer ek eintlik in ’n situasie het. Hoe ek besluit om stresvolle situasies te hanteer, maak ’n groot verskil. Ek kan dit beskou as ’n berg op my skouers wat my swak maak of ’n uitdaging wat my gaan sterker maak.
argief
PAULA SE 10 GEWIGSVERLIES WENKE
Paula Galão van Eden Life gewigsverlies kliniek deel haar 10 gewigsverlies wenke.DIE LIEF JOUSELF DIEET
Wees lief vir jouself en verloor gewig!WONDERSOETE SLAAP
Sal slaap nog steeds so wondersoet wees as jy te veel slaap?JOU EEN-WEEK ENERGIE DIEET
Sorg dat jou energievlakke heeljaar lank hoog bly, met dié eenweek-energiedieet.DAARDIE TWEEDE GLASIE WYN ...
Jy is by die huis en jy hoef nie te bestuur nie, wat is dan verkeerd met 'n glasie wyn elke aand?REëLS VIR GESONDWEES IN 2012
Ons het die belangrikste reëls uitgesoek sodat jou strewe na gesondheid nie jou lewe oorneem nie.HOE MAAK JY JOU KOS GAAR?
Jy eet dalk gesond, maar jou gaarmaak-metode, verander dalk jou gesonde kos in iets wat net jou maag vol maak.SIT SPANNING OP SY PLEK!
Jy werk baie hard, want jy moet mos oorleef, of hoe?SOETE SOETE SLAAP
Jy lê stil in jou bed, amper te moeg om die komberse oor jou skouers te trek.DIE EEN-REËL DIEET
Sal jy van 'n dieet hou met nét een reël?


.jpg)




.jpg)

















