23 DIABETES, NIE DIE EINDE VAN WERELD jou woema Articles www.voelgoed.co.za

DIABETES, NIE DIE EINDE VAN WERELD

DIABETES, NIE DIE EINDE VAN WERELD

Gail Purchase, 43, van Pretoria, is 6 jaar gelede met diabetes 2 gediagnoseer. Sy't besluit om haar leefwyse te verander en het sommer 15 kilogram in die proses verloor.

2009-08-17Liezl Heidtmann

“Dit is moontlik om ’n normale lewe met diabetes 2 te ly. Toe ek uitvind ek het diabetes, het dit gevoel of my wêreld tot ’n einde kom. My dokter het pille voorgeskryf en my na ’n dieetkundige verwys. Dit het aanpassings en opofferings geverg, maar vandag beheer ek my toestand deur ’n gesonde gebalanseerde dieet en oefening, sonder enige pille.

Kennis is mag:

Aan die begin was ek baie onseker oor my toestand. Ek het nie geweet hoekom ek diabetes gekry het nie. Ek wou ook meer weet oor hoe om dit te beheer. Daarom het ek begin navorsing doen deur boeke te lees en die internet te gebruik. Ek het by ’n ondersteuningsgroep aangesluit, lesings bywoon wat deur Diabetes SA Pretoria aangebied word en Pick ’n Pay se Diabetic Tour bygewoon. Hoe meer jy oor jou siektetoestand weet, hoe meer kan jy vir jouself doen.

Jy is wat jy eet:

Ek het my eetgewoontes verander en eet nou meestal lae glukose indeks kosse. Deur dié dieet het ek 15 kg in 3 maande verloor en my bloedsuiker onder beheer gekry. Ek eet kosse wat laag is in suiker en vet soos volgrane, groente en soms vrugte. Ek probeer om lekkergoed, pasta, vrugtesap, gaskoeldrank en verfynde koolhidrate uit te sny. Ek eet gereeld tussenhappies om my suiker konstant te hou, sodat ek nie moeg voel later in die dag nie. Dit is baie belangrik om jou bloedsuiker gereeld te toets en seker te maak jy’s nog op koers.

Baie mense dink dat diabetes geen lekkernye beteken. As jy ’n diabeet is, kan jy steeds lekkergoed eet. Jy moet net baie minder daarvan eet. Daar is baie Suid-Afrikaanse lae glukose resepteboeke beskikbaar wat jou kan riglyne gee oor gesonde eetgewoontes.

Maak ’n verskil:


Ek het ’n webtuiste geskep www.ptadiabetes.org vir Diabetes SA Pretoria om mense met diabetes in kontak met mekaar te bring, hulle op hoogte te hou van wat in die diabeteswêreld aangaan en om hulle stories vir mekaar te kan vertel. Onthou daar is ander mense soos jy wat dieselfde ervarings deurgegaan het wat jou kan help of wie jy kan help. Waar ek voorheen deur ander mense se ervarings geleer het, kan ek nou terugploeg en vir mense wat pas gediagnoseer is, help met die pad vorentoe.

Vandag is ek dankbaar vir wat diabetes vir my beteken het. Dit het my geleer om gesonder te leef. Ek eet gesonder. Ek oefen meer. Ek en my familie doen meer saam, omdat ons saam fietsry en stap. Ek voel ook baie meer gesonder as voor ek gediagnoseer is. Waar ek voorheen altyd moeg was en nooit genoeg slaap kon kry nie, het ek nou genoeg energie om my deur die dag te dra. Diabetes het definitief ’n positiewe verskil in my lewe gemaak en sonder die siekte sou ek tien teen een net aangeploeter het met my ongesonde gewoontes.




Kommentaar
  • ek stem saam bo geskrewe.eet reg,oefen leef gesonder passop vir die vetjies om die middel abdominale gewig is n nee dit kan lei na siektetoestande nml diabetis 2
  • Ek het gedink die doodsvonnis is oor my uitgespreek toe ek gehoor het ek is 'n diabeet.
    My gewig is besig om pratig af te kom en ek voel weer lus vir die lewe.
    Soms is dit maar moeilik om nee te sê vir iets soets, maar later is jy so trots op die wilskrag wat jy gekry het. Oefen, oefen en oefen is my wagwoord, sonder om dit te oordoen. Sterkte my mede lyers
  • My man is met diabetes 2 gediagnoseer - ongeveer 2 weke gelede. Dis vir ons redelik moeilik, aangesien ons ge-eet het wat ons wil. Soetgoed is 'n baie groot gunsteling in ons huis. Ek sal graag wil weet - Die produkte wat mens in die supermark kry by die weigh-less afdeling soos konfyte, koekies en lekkers, is dit veilig om te gebruik?
    Watse kosse is regtig heeltemal taboe?
    Wat van gesondheidsbrood met sade, of die ligte rogbrood?
  • Dit is nash en ek staan 100% agter u.
  • HET JY N EELPLAN VIR MY PA WAT N DAIBEET IS
  • Ek is manlik weeg 150 kg en is gediagnoseer met diabetis 1. Ek spuit 2 maal per dag. Waar kan ek n lys van kosse kry van wat jy kan eet en nie eet nie. Ek ry baie ek weet nie wat se koeldranke ek mag drink nie. Kan iemand help Dankie. Nico.
  • my man het n kies opgetel en dit het sy lewer aangetas . die dokter het voorgestel dat hy n diabeet dieet volg. ek weet nie regtig wat hy mag eet en wat hy mag drink nie.
  • my man van 58 is skielik met diabetes gediagnoseer - hoe 'n groot rol speel stress, want met geen familiegeskiedenis van diabetes wonder ons net? Hy is ook deur sy dokter aangeraai om alle vrugte te vermy totdat hy oor 2 maande weer terug moet gaan - drink nou medikasie - sy telling is nie vastend hoog gewees en hy is toe terug vastend en met 'n hoer telling op die medikasie gesit. Wat my egter deurmekaar maak is dat omdat hy nie vrugte mag eet nie en die groente wat hy mag eet - mag ek weens ander redes weer nie eet nie - ek soek regtig raad en soek 'n resepteboek met 'n lys wat vir my 'n aanduiding kan gee wat toelaatbaar is en wat nie...A van Moorreesburg

gesels saam


argief