23 SÊ JA VIR ONTBYT jou woema Articles www.voelgoed.co.za

SÊ JA VIR ONTBYT

SÊ JA VIR ONTBYT

Jy is enkellopend en ontsien bloot die moeite om met kos te sukkel.

2009-04-09

Of jy het ’n gesin en spook jou flou om almal in die môre aan die gang te kry. Hokaai! Begin liewer jou dag op ’n voedsame noot met die regte ontbyt.

Natuurlik weet jy hoekom jy ontbyt moet eet, maar kom ons verfris weer jou geheue:

1. Dit hou jou slank


Vroue wat elke oggend ontbyt eet, neem bedags minder kilojoules in en weeg ook minder. Dit laat ’n mens nogal wonder of die energiestafie wat jy elke oggend voor werk verslind, voldoende is. Kenners sê dis beter as niks, maar die ideale ontbyt moet omtrent 1 500 kilojoules bevat. Dis gelyk aan ’n eier, roosterbrood, ’n dun snytjie cheddarkaas en ’n piesang – ’n mondvol vir meeste vroue, veral as jy nie in die oggende tyd het om te eet nie.

2. Dis vinnig en voedsaam

Dr. Gabi Steenkamp, ’n dieetkundige, sê jy hoef jou nie soveel aan die aantal kilojoules te steur nie. “Die geheim van ’n gesonde ontbyt is balans,” sê sy. Probeer om soggens iets uit al die voedselgroepe te eet. ’n Gebalanseerde ontbyt is byvoorbeeld ontbytgraan met jogurt en ’n vars vrug, want dit verskaf stysel, proteïene, vesel en hope vitamiene en minerale.

3. Dit hou jou kop skerp


As jy gereeld ontbyt oorslaan, voel jy waarskynlik teen middagete moeg en sukkel jy om te konsentreer. “Jou energiereserwes vir die dag word tydens ontbyt bepaal. As jy nie ontbyt eet nie, gaan jy nie genoeg energie vir die dag hê nie,” sê Gabi.

30 MINUTE-ONTBYT

As jou oggende glad verloop, is dit maklik om tyd te maak vir ontbyt. Gabi sê die tradisionele ontbyt is vir haar ideaal. Dit sluit eiers, roosterbrood, gebraaide tamaties en jogurt of melk in.

“Dis baie belangrik dat jy stysel, soos roosterbrood met ’n lae glukose-indeks, moet eet vir volhoubare energie deur die dag.

“Proteïne soos hardgekookte eiers is ’n absolute móét, omdat jy langer vol sal voel. Eiers bevat ook selenium, wat jou breinkrag en geheue bevorder.
“Dan moet jy natuurlik ook vrugte en groente inkry. Eet tamatie wat in ’n klein bietjie olyfolie gebraai is of ’n vars vrug.

“Kry sommer al vroeg dag kalsium in met melk of jogurt. Dit help ook om energie stadig vry te stel sodat jy nie gou weer moeg of honger sal voel nie.”

15 MINUTE-ONTBYT

In 15 minute kan jy hawermoutpap (of kitshawermout, waarby net kookwater gevoeg word) gaarmaak. Dit verseker genoeg krag tot minstens middagete omdat dit energie stadig vrystel.

Sny vars vrugte soos aarbeie die vorige aand op wat jy by die pap kan voeg. Onthou ook om proteïene by te sit, soos neute of melk. Om die pap te versoet, kan jy heuning of versoete jogurt daarby inroer.

5 MINUTE-ONTBYT

Muesli is altyd ’n gesonde keuse, maar jy kan dit selfs nog gesonder maak deur jou eie bestanddele by te voeg. Iets soos gedroogde appelkose of ander droë vrugte is ideaal. Jy kan ook pampoenpitte, sonneblomsaad en haselneute byvoeg. Eet die muesli met melk of jogurt vir kalsium. Jy kan ook veselryke graanvlokkies met neute en vrugte soos skyfies piesang aanvul vir ’n wyer verskeidenheid voedingstowwe.

0 MINUTE-ONTBYT

Wanneer jy in die oggend laat is, gryp jy ’n sjokolademuffin wat jy met koffie afsluk by die werk. Sommige muffins en ander gebakte lekkernye is egter gewoonlik propvol kilojoules en vet en omdat dit van fyn wit meel gemaak word, word die energie vinnig vrygestel en voel jy gou weer honger.

Maak eerder die vorige aand ’n smoothie.  Bevrore of vars vrugte, jogurt of melk, ’n skeppie grondboontjiebotter vir proteïne en heuning is ’n heerlike kombinasie en is ook  gebalanseerd. Gooi dit in ’n bottel wat jy in die yskas kan bêre.

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]