22 WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ... jou mense Articles www.voelgoed.co.za

WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ...

WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ...

Jy kan jou kind se skoollewe baie makliker maak as jy weet hoe 'n onderwyser dink!

2012-01-20

Ons het by ’n paar onderwysers gaan inloer om te hoor hoe ...

“Ek wens ouers wil besef hoe lief ons regtig vir hulle kinders is,” sê Sunet Meyer, wiskunde-onderwyseres aan York Hoërskool in George. “My beroep gaan beslis oor baie meer as net die vak. Dis geen toeval dat sekere kinders by sekere onderwysers ingedeel word nie. Ek wéét daar is ’n spesifieke rede hoekom ek hier is.”

Het jy al daaraan gedink dat onderwysers só voel? Lees verder om te hoor wat hulle eintlik nog altyd vir ouers wou sê!

Speelgroepiejuffrou: Dit is ’n spanpoging

“Een ding wat ek wens ouers wil besef, is dat dit ’n spanpoging tussen Juffrou en die ouer is om hierdie klein mensies se karakter te bou,” sê Cisca McDonald van Babbelbekkies-speelgroepie op Deben in die Noord-Kaap. “Boompies moet gebuig word terwyl hulle nog jonk is. ’n Juffrou kan dit egter nie alleen doen nie. Ouers en onderwysers moet saamstaan en ’n probleem saam oplos, anders veroorsaak dit net onenigheid wat die kind kan aanvoel en ontstel. Wanneer ’n kind iets doen wat verkeerd is of ’n ander kind te na kom, moet hulle besef daar is gevolge tot hulle dade. Die waarde van goeie samewerking tussen ouer en onderwyser is onontbeerlik. Beide partye moet saamwerk om ’n verantwoordelike kind groot te maak.”

Ouers van speelgroepiekinders, onthou:

•    Kinders gaan deur fases.
•    Woelig is nie stout nie.
•    Ek het jou kind baie lief en gee baie om vir hom of haar.


Graad 1-juffrou: Moenie te veel druk op jou kind plaas nie

“Ek sien baie ouers wat te veel druk op hulle graad 1-kind plaas,” sê Jacolene van Rhyn, grondslagfase-onderwyseres by Hotazel Kollege in die Noord-Kaap. “Ouers moet baie versigtig wees. Daar moet ’n balans tussen positiewe opbouende druk en negatiewe onvanpaste druk op jou kind wees. Wanneer ’n kind te veel gedruk word om in ’n sekere vak of sport te presteer, loop hy die gevaar om sy belangstelling daarin heeltemal te verloor. Hy voel naderhand nie meer goed genoeg nie en presteer nie meer nie. Ouers moet altyd bewus wees van wat daar van die kind, op daardie ouerdom en fase van sy lewe, verwag kan word. ’n Kind moet kan presteer teen sy eie pas en hiervoor is samewerking tussen die ouers en onderwyser weereens belangrik.”

Ouers van graad 1’s, onthou:

•    ’n Kind wat binne sy vermoëns ontwikkel, is een wat eienaarskap van sy verantwoordelikhede en verpligtinge aanvaar. Hy is positief en kreatief en sien elke geleentheid as ’n uitdaging om verder te ontwikkel.
•    ’n Kind wat te veel druk ervaar, is moedeloos, neem nie entoesiasties aan die klasaktiwiteite deel nie en word nie maklik gemotiveer nie. Sy aandagspan is baie beperk en, ironies genoeg, word hy dan gebrandmerk as ‘stout’.


Laerskooljuffrou: Jy is jou kind se grootste invloed.

Ouers kan kinders maak of breek deur hulle optrede en woorde, sê Izanne Harris, onderwyseres by Graanveld Laerskool in Bethlehem. “Ouers besef nie altyd watter invloed hulle op hulle kinders het nie. Ouers wat positief en liefdevol is, se kinders presteer beter. Kinders uit huise waar ouers heeldag baklei, kritiseer of afwesig is, het baie meer probleme, soos aandagafleibaarheid, dwelmprobleme, eetsteurnisse ensovoorts. Ek doen my bes om die kind by die skool op te bou, maar ná skool, by die huis, word die slegte gewoontes herhaal en dit maak jou magteloos,” sê sy. Kinders wat hiperaktief en aandagafleibaar is, kom dikwels in die laerskool voor. Wanneer ouers egter bereid is om die proobleem te aanvaar en iets aan die kind se situasie te doen, maak dit die wêreldse verskil. Ouers moet net bereid wees om partykeer te luister, al is die juffrou jonk en het sy nie kinders van haar eie nie. Samewerking kan net die kind bevoordeel en soveel probleme oorkom.”

Ouers van laerskoolkinders onthou:


•    Kinders is baie beïnvloedbaar deur ouers, maats en onderwysers.
•    Jou kind is baie liefdevol en soek aandag en aanvaarding.
•    Kinders wil veilig voel by die huis en by die skool.


Hoërskoolonderwyseres: Gee van jouself vir jou kind.


Elmarie Badenhorst is ’n hoërskoolonderwyseres by Kgethatsebo Sekondêre Skool in Harrismith. Sy wens ouers het geweet dat hulle kind se gedrag, houding, waardes en verwagtings by die skool ’n weerspieëling is van wat hy of sy by die huis ervaar. “As ’n kwessie nie aangepak word nie, is die akademie die eerste plek waar kinders belangstelling verloor,” sê sy. “As onderwyser kan jy alles doen om die kind te motiveer, maar as die ouers nie saamwerk en van hulle kant liefde en tyd gee nie, is die saak hopeloos. Ons sien dikwels wanneer ouers afwesig is of nie genoeg belangstelling toon in hul kinders se skoolloopbaan nie. Sonder ouers se ondersteuning is daar geen manier wat ’n kind goed kan presteer op skool nie. Die motivering en wilskrag begin by die huis.

Ouers van hoërskoolkinders, onthou:

•    Al is jou kind ’n tiener, is hy steeds ’n kind. Hanteer tieners soos kinders, maar beklemtoon verantwoordelikheid.
•    Wees lief vir jou tiener, wees betrokke, gee aandag en toon belangstelling.


Matriekonderwyseres: Dis jou kind se depressiejaar   

“Ek wens ouers wil besef dat jou kind se matriekjaar sy depressiejaar is,” sê Wilma Kasselman, van Kathu Hoërskool in die Noord-Kaap en met meer as dertig jaar ondervinding. “Alle matrieksleerders kom met ’n skok agter dat dit nóú of nóóit is. Hulle dink: ‘Ek kan nog net ses maande vir my span speel en nou moet ek alles gee.’ Of: ‘Ek sien my maats nog net hierdie jaar, so, nou moet ons aanmekaar social’¬; ‘Ek is groot en moet nou self oor my lewe besluit maar ek weet nie rêrig hoe nie’; ‘Ek moet vir oulaas die res van die skool wys dat ek eintlik baie cool is’.  En die vreesaanjaende gedagtes: ‘Ek het net ’n maand of twee oor om te besluit wat ek volgende jaar gaan doen’; ‘Ek wil graag die akademie-ding doen maar die tyd is net te min’; ‘Hulle sê ek kan, maar ek twyfel en my punte spook by my’.

Matrieks se ouers vergeet van hulle dit ervaar het in hulle laaste jaar op skool. Hulle onthou net die ‘slaag’ op bladsy 24 van die koerant. Jou kind se matriekjaar is die geboortejaar van ’n nuwe mens en almal moet deur die pyn gaan. Begrip is hier nodig.”

Ouers van matrieks, onthou:

1. Net soos jy, gaan jou kind nog baie foute maak. Laat hulle begryp dat jy nie altyd hulle dade gaan goedkeur nie, maar hulle altyd as mens gaan aanvaar. 
2. Verseker jou kind dat jy altyd daar is vir hulle. Dra maar die bekers koffie aan en sit maar langs hulle en lees terwyl hulle met die boeke stoei.
3. Bid dag en nag vir jou kind. Gebed verander nog altyd sake.


Skoolhoof 1: Ouers is die voorbeeld

“Ek is van mening dat jy nie probleemkinders kry nie, net probleemouers,” sê JJ Westraad, hoof van Hotazel Kollege in die Noord-Kaap. “Ouers kan nie aanmekaar verskoning maak vir hulle kinders se foute nie, hulle moet eerder die regte voorbeeld stel. Elke week kom verduidelik ’n ma, tot die verleentheid van haar kinders, dat dit háár fout is dat hulle laat vir skool is. So leer die kinders dat ’n mens nie verantwoordelikheid hoef te aanvaar nie en dat daar geen gevolge is nie, jy moet net ʼn goeie verskoning hê! Kinders is ’n advertensie van wat by die huis gebeur. Hulle leer hulle goeie en slegte gewoontes uit die voorbeeld van hulle ouers.”

Skoolhoof 2: Onderwysers kan nie alleen opvoed nie

Abrie Botha, hoof van Vanderbijlpark Hoërskool, wens dat ouers wil besef dat onderwysers nie die primêre opvoedingstaak kan verrig nie. “Kinders moet, veral gedurende hulle eerste ses lewensjare, en ook daarna, die liefde, aandag, tyd en goeie voorbeeld van hulle ouers kry. Onderwysers wil graag daarmee help. Hulle is opgelei om dit te doen, maar hulle kan net voortbou op dit wat reeds vasgelê is. Onderwysers kan nie alles wat met jou kind ‘verkeerd’ is, ‘regmaak’ net omdat jy betaal nie!” Die enigste manier hoe ons Suid-Afrika se siek gemeenskappe gesond gaan kry, is met goeie, liefdevolle opvoeding binne gesinsverband.

Die sukses van jou verhouding met jou kind se onderwyser lê in jou hande. Maak seker jy is op goeie voet met die rolspelers in jou kind se skoolloopbaan. Doen moeite om ’n wen-wen-wen verhouding tussen al drie partye te bou!

 

Kommentaar
  • Dit klink nou als wonderlik en ek wens my kind het sulke oulike onderwysers gehad wat omgee. My wens is net dat onderwysers (veral laerskool) begin besef dat hulle met die land se toekoms werk en afkrakende en neerhalende opmerkings breek die kinders af - gee elke kind die kans om sy kant van die saak te stel en moenie sommer net die kind stilmaak net omdat jy 'n slegte dag het nie. Onderwys is 'n liefde vir kinders en het BAIE geduld nodig en nie 'n poging om elke dag te kyk hoe hard jy vir die kinders kan skreeu nie... (ek se maar net)

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]