22 WEES 'N SUPER-DUPER MA jou mense Articles www.voelgoed.co.za

WEES 'N SUPER-DUPER MA

WEES 'N SUPER-DUPER MA

Jou uitkyk op die lewe verander skielik, jy is verantwoordelik vir 'n nuwe lewe en jou hart is nooit meer jou eie nie.

2012-01-11

Ouerskap is die mees bevredigende en lewensveranderende gebeurtenis in enige vrou se lewe. Ons wil almal goed gebalanseerde, verantwoordelike en gelukkige kinders grootmaak. Ons het ouers met kinders van verskillende ouderdomme gevra hoe hulle ouerskap hanteer en kenners se raad gevra.


PRETTIGE PEUTER

Jou kleintjie raak nou aan die beweeg en raak al hoe meer onafhanklik, maar het nog steeds jou leiding baie nodig. Melinda Swart, ma van Melanté en haar klein boetie, deel haar gedagtes oor peuters.

Dis moeilik om ʼn kleintjie altyd besig te hou met pap babatjie in dis huis, daarom laat ek haar soms na die kinderkanale op televisie kyk. Maar sy hou nie regtig baie daarvan nie. Sy hou van musiek DVD’s soos Nedine Blom, Lollos en Carike en ken al die woorde en danspassies. Sy is gelukkig eerder ’n buitelugkind en ek gaan dit so hou so lank as wat ek kan. My skoonma pas die tweetjies op terwyl ek werk, maar as ek nie werk nie, verkies ek om self na hulle om te sien. Ons sal net ons ouers na hulle laat kyk.

Melanté is gelukkig ’n maklike kind. Sy het ’n goeie eetlus en skroom nie om tande te borsel nie. Ek dink sy is te skaam om byvoorbeeld in ’n openbare plek ’n vloermoer te gooi ... Gelukkige ek! En as dit moet, roep ek “oom Bollie” se hulp in. Hy sien stout kinders gou-gou reg. As sy net oom Bollie se naam hoor, word sy weer die engeltjie wat sy meestal is.


My raad
Ek dink ons as ouers moet net geduldiger met hulle wees, maar dit is somtyds baie moeilik. My grootste moeilikheid is ongeduld. Maar ek werk elke dag daaraan. Ek het besef as ek rustig met haar praat, luister sy baie beter as wanneer ek skreeu en te kere gaan, maar hulle toets ’n mens se geduld soms tot die uiterste toe! Ek dink elke oggend dat ek nie weet wat deur die dag gaan gebeur nie en druk haar styf vas, soen haar op en bid dan dat ek haar in ’n beter toestand gaan kry as wat ek haar gelos het. Die lewe is so kort, koester elke oomblik saam met hulle.

Raad van die kenner

Linda-Su Brink, kindersielkundige, sê: “Beveilig jou huis. Kry iemand om soms by jou oor te neem. Laat haar partykeer by ’n familielid of haar pa bly en gaan ontspan deeglik. Dis ook nie ’n sonde om soms vir ’n hele dag weg te breek nie! Maak seker die mense by wie jy haar los, is ook bewus van veiligheid. Speel in die tuin of saam in die modder sodat sy haar nuuskierigheid kan uitleef en ontdek – dis noodsaaklik vir haar ontwikkeling.”



KOPPIGE KLEUTER

Volgens kenners wêreldwyd is die kleuterjare vir die meeste ouers die moeilikste tyd – selfs moeiliker as die tienerjare! Maar gelukkig bring kleuters ook groot plesier. Christine de Jager, ma van Carlo (3) en Chrizaan (6), gesels oor die kleuterjare.

Ek wil graag elke oomblik van my kinders se lewe onthou. Maar daar is so baie dat ek al die “eerstes” neerskryf. Ek hou ook goed in my memory box – soos hulle eerste kledingstuk, fopspeen, haarlok en nou Sussie se eerste tand. Snaaks genoeg, hou Carlo nie van rympies opsê of sing nie. Maar Kurt Darren se “Kaptein” het iewers vasgehaak ...

Dis ’n ewige stryd om hulle te leer “dankie” en “asseblief” sê. Dit kom nie op die oomblik baie spontaan nie. Hulle begryp ook nog nie dat hulle outomaties respek vir ouer mense moet hê nie.  Maar oor die algemeen werk Carlo goed saam, al is hy nog te klein om “werkies” te onthou. Hy moet maar gereeld daaraan herinner word om sy speelgoed op te tel. Vir Chrizaan het ons ’n sakgeldplan opgestel en sy het takies soos om die voëltjie kos te gee, haar kamer op te ruim en haar kosblik uit haar tas te haal.

Ek probeer vir elke kind hulle eie ruimte gee om hulle eie potensiaal te ontwikkel, alhoewel dit soms baie moeilik is. Ek dink drie jaar is ’n goeie ouderdomsverskil, hulle is groot maats. Maar hulle kan ook lekker baklei!

My raad
Kleuters leer nie deur jou woorde en preke nie, maar deur jou dade. As jy heeltyd gaan gil en skree, gaan hulle ook so praat. As jy nie vir hulle asseblief en dankie kan sê nie, gaan hulle dit ook nie doen nie. As jy nie respek het vir hulle nie, gaan hulle ook nie respek hê vir jou nie.

Die kenner se raad

Anrie Spangenberg, konsultant van Immergroen Ouerskap, sê: “Kinders tussen die ouderdom van twee en vier jaar kom tot die besef dat hulle ’n eie wil het, en toets dan hoe ver hulle daarmee sal wegkom. Veral die outjies met die sterker temperamente – die gebore leiertjies – gaan kyk hoe ver Mamma en Pappa hulle sal toelaat om te doen wat hulle wil. Hulle toets as’t ware wat hulle self kan doen, en wanneer hulle nog hulp nodig het. Ouers verwar dit maklik met rebelsheid of ongehoorsaamheid. Ons benadering moet eerder wees om ’n klein bietjie beheer prys te gee oor takies wat hulle self kan baasraak.


OP PAD SKOOL TOE

Jou kind begin homself nou ontdek en sy unieke persoonlikheidjie begin vorm aanneem. Hy is dol oor sosialiseer en kan takies op sy eie begin doen. Elona van der Nest, ma van Harlu (5) en Liam (3), deel haar ondervindings oor die voorskoolse jare.

Dis Harlu se werk om vir hom en sy boetie badwater in te tap. Na badtyd lees ons Bybel en bid. Dan gesels ons oor hulle skooldag, maatjies en sulke goed. Hulle is dan ontspanne en dis ’n lekker tyd om oor alles te gesels wat lekker is en wat pla.
 
Hy geniet dit om Discovery se How it’s made saam met sy pa te kyk en ook Cbeebies. Maar regte speletjies soos wegkruipertjie is vir albei lekkerder! Harlu het al een keer oorgebly by vriende – hulle seun is ses jaar ouer as hy en hulle speel lekker saam en Harlu kyk op na hom. Dis nogal ʼn gesukkel om vir hom geduld aan te leer. En hy wil graag verstaan hoekom hy iets moet doen of hoekom nie. Maar hy doen werkies, soos om vir hom en sy boetie water vir skool in botteltjies te gooi, sy klere op te tel en in die wasgoedmandjie te gooi as hy uitgetrek het.  Harlu gaan haal ook self vir hom klere uit en trek aan – hy skep somtyds nuwe modes maar is altyd trots op sy look! Hy wou ook vreeslik graag self soggens oor die pad skool toe stap. Daarom het ons hom mooi geleer om oor die sebrastrepe loop, onder ʼn wakende oog, natuurlik!
 
My raad
Luister na wat jou kind vir jou vertel. Hoor wat is belangrik vir hulle en wat hulle pla en gelukkig maak. Maak tyd vir jou kind en lag vir sy grappies (al is dit flou) en laat hom altyd goed voel oor homself.

Die kenner se raad
Elmien van Staden, kindersielkundige, sê: “Jou kind behoort van ’n baie jong ouderdom af reeds waardes te leer, soos om ‘asseblief’ en ‘dankie’ te sê en nie op mense te skree nie. Hierdie is egter ’n fase waarin jy dit meer kan begin inprent. Dra aan jou kind die waardes oor wat vir julle belangrik is. Alledaagse lewensituasies bied die perfekte geleentheid om jou kind dinge oor die lewe te leer.”



GROEIPYNE ...

Tussen die ouderdomme van sewe en twaalf raak jou kind al hoe meer onafhanklik. Dit mag dalk voel asof hulle ‘wegbeweeg’ van jou. Natasha Kemp Human vertel hoe sy die laerskooljare ervaar. Sy is ma van Damian (11), Ethan (10) en Liam (7).

Hulle geboortes was so spesiaal, ek was elke keer stomgeslaan. En ek het my morsdood gehuil met elkeen se eerste skooldag! Op televisie mag hulle na Cartoon Network, Boomerang en Disney Channel kyk. En hulle mag by maatjies oorslaap as ek die ouers goed ken. Of as hulle al vir ’n paar maande oor en weer vir ’n middag gespeel het en gemaklik is daarmee. Hulle begin eers regtig oorslaap so vandat hulle nege is

Om chaos te vermy, is ek baie gesteld op roetine. Na skool mag hulle vir ’n halfuur ontspan, dan is dit huiswerktyd. En geen Wii of televisie voor almal nie klaar is nie. Sport is belangrik omdat kinders nie meer so aktief is nie. Ek dwing hulle nie, maar elkeen het iets gekies waarin hy belangstel.

Straf wat die beste werk is hok, ekstra “straftake”, minder sakgeld, of beperkings op Wii en TV-kyk. Vroeër het hulle pak gekry, maar dis nie regtig meer nodig nie. Ek het al uitskryfwerk ook uitgedeel! Ek het ook al foute gemaak. Ethan is tien weke te vroeg gebore, en eers op vyfjarige ouderdom is daar vasgestel dat hy dispraksie het ... Ek het altyd gedink hy is ongehoorsaam en ignoreer my. Toe ek die rede daarvoor ontdek, het ek verskriklik sleg gevoel omdat ek kwaad geword het vir iets wat hy nie verstaan het nie.

My raad
Geniet hulle, want hulle groei vinnig! Hulle doen gereeld spesiale dinge, en as ’n mens nie oplet nie, dan mis jy baie. Ek was streng toe die seuns kleiner was, en glo dat dit die grondslag vir later is. Vandag het hulle respek vir ander en goeie maniere.

Die kenner se wenke
Clare Marketos, ouerskapfasiliteerder, sê: “As jy gedurig vir jou kind sê: ‘Doen dit omdat ek so sê’ of iets wat impliseer dat jy altyd reg en hy verkeerd is, is dit ’n aanduiding dat jy nie werklik in voeling is met wie jou kind is en wat sy behoeftes is nie. Toon belangstelling in wat hy doen, al interesseer dit jou nie spesifiek nie. Laat hom toe om sy drome, ideale, planne en wense uit te druk. Laat hom toe om foute te maak en daaruit te leer. Lei en ondersteun hom, maar laat hom sy uniekheid ontdek. Laat hom weet dat jy hom verstaan en aanvaar.”



TIENERTOFFIES

Of jy dit nou wil weet of nie, ’n tiener is “anders” – die brein van ʼn tiener verander volgens wetenskaplikes letterlik teen ongeveer 13 jaar en keer weer na normaal terug op 18-jarige ouderdom. Brenda Posthumus, ma van drie tieners, deel haar wysheid.

Daar is soveel mooi omgee-oomblikke tussen hulle. Al is hulle skaam om te erken dat hulle lief is vir mekaar, ondersteun hulle mekaar wanneer dit regtig nodig is. Ons het nie DStv nie, so, hulle kan enigiets op televisie kyk. Naweke mag hulle by vriende kuier, maar net as ons dit met die ouers bevestig het. As hulle uitgaan moet die seuns twaalfuur by die huis wees, en ons dogter halfelf. Hulle mag aandpartytjies bywoon slegs as ons met die ouers waar die partytjie gehou word, gepraat het en tevrede is met die reëlings. Hulle gaan fliek gereeld, maar nie later as agtuur saans nie. Ons gaan laai hulle af en gaan haal hulle ook weer. My seuns mag alleen Mall toe gaan, maar my dogter mag net in ’n groep gaan.

Ek het ’n baie oop verhouding met my kinders. Ek praat gewoonlik oor nét genoeg onderwerpe volgens wat hulle vir hulle ouderdom moet weet. As daar vrae gevra word, antwoord ek dit so eerlik moontlik. Verder is ek ook ’n betrokke ma. ’n Raadgewer, dokter, pastoor, ensiklopedie, vertaler, taxi, kok,  polisieman, kredietkaart en vriendin. Ek is ’n ma wat baie hard gaan huil, maar baie trots gaan wees wanneer my kinders eendag die huis verlaat.

My raad
Wees altyd eerlik, gee baie aandag, ken hulle vriende, praat met hulle, stel belang, luister en bid kliphard! Ek dink jy wonder altyd, het ek genoeg aandag gegee? Het ek die situasie reg hanteer? Ek moes dit seker nie gesê het nie! Almal maak foute, maar probeer vir jou kinders verduidelik hoekom jy so optree, hoekom jy iets gesê het of hoekom jy iets doen. Erken as jy verkeerd was en sê jammer. Niemand is perfek nie.

Die kenner se mening
Dorothy Russel, terapeut by die Universiteit van die Vrystaat, sê: “Dissipline kan eintlik nie in die tienerstadium begin nie, dit begin al van baie jongs af. Wanneer tieners besig gehou word met buitemuurse aktiwiteite, is hulle minder rebels. ’n Deur wat nou en dan toegeklap word, kan ’n mens nog soms oorsien. Onthou, tieners is baie bewus van hulle omgewing en die mense om hulle en meet hulleself gedurig. Hulle selfbeeld is gekoppel aan jou aanvaarding, ondersteuning en aanmoediging. Hulle probeer sin maak van hulle eie emosionele warboel van gevoelens.”


 

Kommentaar

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]