BETER HUWELIK, GEEN WOORDE
Dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!
2011-12-20
Dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!
2011-12-20
Ons word van vroeg af geleer hoe om te kommunikeer, kommunikasie is ook iets waarsonder geen huwelik kan oorleef nie. Maar nie sommer enige kommunikasie nie – dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!
As jy vir jou man sê: “Engel, ons moet praat,” wat verwag jy gaan hy antwoord? Dalk: “Ek dog jy vra nooit!” of “ek wil so graag my gevoelens met jou deel.” Hmm ... Nie op hierdie planeet nie! Die kans is groter dat hy kwaad gaan word en hom onttrek. As jy oor julle verhouding praat as jy ontsteld is, laat dit jou beter voel maar dit laat jou man beslis nie beter voel nie! Al wat hy hoor wanneer jy praat, is dat hy niks kan reg doen nie... Wanneer vroue oor verhoudings en probleme praat, ontspan hulle. Mans, daarenteen, begin fisiek ongemaklik voel.
Maar dit beteken nie dat julle verhouding vir jou man minder belangrik is nie. Navorsing het al bewys dat die huwelik en langtermynverhoudings ewe goed is vir beide mans en vroue se gesondheid. Daarom sê Patricia Love en Steven Stosny in hulle boek How to improve your marriage without talking about it: Finding love beyond words, hou op praat! Daar is ’n beter manier om nader aan mekaar te beweeg – die nieverbale manier. Om mooi te verstaan hoekom “doen” vir mans beter werk as “praat”, is hierdie boek ’n MOET-lees!
Hier volg ’n voorsmakie van die nieverbale boodskappe uit dié boek wat julle deel van julle verhouding kan maak:
• Gee ’n drukkie. Ten minste drie keer per dag vir so 60 sekondes. Dit sal julle albei laat beter voel en kort voor lank sal dit ’n gewoonte raak.
• Maak vir mekaar koffie. Of net iets om te drink. Nie wanneer hy daarvoor vra nie. Sommer net. Jy hoef dit ook nie elke dag te doen nie, maar gereeld. Dis die dinge wat jy doen wanneer jy nie daarvoor vra nie wat wys jy gee om.
• Gee ’n klein geskenkie. Dit hoef nie altyd geld te kos nie, sommer ’n blom uit die tuin. Moenie net op verjaarsdae geskenkies gee nie – doen dit sommer uit die bloute ook. Dit wys julle dink elke dag aan mekaar.
• Glo in hom. Hoe doen jy dit? Glo dat hy die pad ken, dat hy daar sal uitkom. Dat hy die boom sal snoei, dat hy enigiets kan regkry wat hy wil. Wanneer laas het jy in jou man geglo?
• Help hom om jou gelukkig te maak. Wys hom waarvan jy hou, en dat jy graag meer daarvan sal wil hê en sien. ’n Man wat dink hy kan nie sy vrou gelukkig maak nie, sal homself al meer en meer onttrek.
• Laat hom verstaan dat hy jou veilig laat voel. Dis dalk vir jou vanselfsprekend. Maar hy wil dit graag sien en hoor.
• Wys hom jy waardeer sy werk. Deur heeltyd te kla hy is te min by die huis of kom te laat tuis, laat jy hom verstaan jy waardeer nie wat hy doen om vir julle te sorg nie. Wys hom dit maak saak, jy waardeer sy harde werk en sorg.
• Aanvaar sy verskoning. Veral as dit nieverbaal is. Die woorde “ek is jammer” kan soms minder beteken as die letters waaruit dit bestaan.
• Laat hom toe om jou te troos ... op sy manier. Miskien probeer hy om oor iets heeltemal anders te praat. Hy is nie ongevoelig nie, dit is sy manier van troos.
• Los ’n lekker briefie iewers, jy sal weet wat om daarin te sê. Maar doen dit weereens sommer op ’n gewone dag. Nie nét op sy verjaarsdag of julle huweliksherdenking nie.
• Help hom wanneer hy baie besig is of doen iets wat gewoonlik sy werk is. Net so lekker soos dit vir jou is om gehelp te word, is dit ook vir hom lekker as jy hom help met iets. En, wie weet, hy volg dalk net jou voorbeeld.
• Maak oogkontak wanneer julle tussen ʼn klomp mense is. Op ’n manier wat sê: “Ek is bewus van jou, en nou-nou is dit net ek en jy!”
• Onthou die seks. Daardie ou gesegde van “kiss and make up” het dalk baie meer waarde as wat jy dink. Mense weet al eeue lank dat lyftaal kan regmaak waar woorde verbrou het.
Nog iets wat jy dalk vergeet, is dat luister baie sterk nieverbale kommunikasie is. Hoe jy na jou maat luister, wys vir hom hoe jy oor hom voel. Volgende keer wanneer jou man jou iets vertel, kyk hom in die oë, lyk geïnteresseerd en raak aan sy hand of sy been ... wie weet, hy besluit dalk net om al meer en meer met jou te begin praat!
- Ek het al daardie goed al probeer, maar my man is nogsteeds op sy eie planeet. Wat nou gemaak?
argief
DIE EKS-FAKTOR
Rubriek vir geskeide vroue deur Natasha Sutherland.WEET JY WAT JOU MAN REGTIG HÊ?
Wat hy wil hê, is baie anders as wat jy wil hê ...WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ...
Jy kan jou kind se skoollewe baie makliker maak as jy weet hoe 'n onderwyser dink!WEES 'N SUPER-DUPER MA
Jou uitkyk op die lewe verander skielik, jy is verantwoordelik vir 'n nuwe lewe en jou hart is nooit meer jou eie nie.BETER HUWELIK, GEEN WOORDE
Dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!WATTER TIPE MA IS JY?
Dink jou kinders nog jy's die coolste ma ... of sê hulle jy is te streng, te verstrooid of heeltemal laf?HY MAAK MY SO KWAAD!
Is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?OORLEEF JOU SKOONOUERS
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou!GETROUD MET KRIEKET
Krieketvroue Sally Wessels, Tricia Pollock en Elna Rudolph praat oor dít wat alles regtig agter die krieketskerms gebeur.'N OPLOSSING VIR EGSKEIDING?
In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom van mense wat skei tussen 38 en 41, en die meeste skei na 9 jaar.


.jpg)




.jpg)

















