22 WATTER TIPE MA IS JY? jou mense Articles www.voelgoed.co.za

WATTER TIPE MA IS JY?

WATTER TIPE MA IS JY?

Dink jou kinders nog jy's die coolste ma ... of sê hulle jy is te streng, te verstrooid of heeltemal laf?

2011-11-22

Jy kry windhonde, worshonde, wolfhonde en Shar Peis. Daar is ook lang mense, kort mense en baie êrens tussenin. Tipe A-persoonlikhede, laat-maar-gaan mense en diegene wat dominant vanuit ’n regterbrein funksioneer. Maak nie saak wie of wat jy is nie, jy sal iewers vir jou ’n pasplekkie kry. Net so is daar ook vir elke tipe ma ’n spesifieke manier van doen.


Die Sponsma

Enige ma word geraak deur dit wat met haar kind gebeur, maar die sponsma ráák haar kind. Wanneer die prefekte se name uitgelees word, klop jou hart in jou keel, en wanneer jou meisiekind oor die hekkies seil, raak jy uitasem saam met haar. Jy gaan huil selfs stil-stil in jou kamer as haar kêrel haar los.

Natuurlik mag jy saam met jou kind voel, maar soms moet jy hulle toelaat om alleen deur hulle emosies te werk. Hoe gaan jy ooit weet wat jý eintlik voel as jy heeltyd eggo wat in jou kind se gemoed gebeur? Wanneer sy hartseer is, is dit goed dat sy besef jy weet hoe sy voel, maar dan het sy iemand nodig wat sterk is en haar troos, nie ’n ma wat eers haar eie trane moet afdroog nie! Probeer vir jouself grense stel. Jy kan byvoorbeeld tot op ’n punt saam voel, maar dan moet jy terugstaan en ’n ondersteunende rol inneem.

Die Rotsma

Niks en niemand kan jou ooit onderkry nie. Alles is moontlik, dit glo jy vas. Jy mors nie tyd met trane en coochy-coo nie. Nee wat, wie het nou tyd daarvoor? Die lewe moet gebeur: Die kinders moet skoolgaan, die huis moet skoon kom en by die kantoor wag daar ’n berg probleme wat jy sommer gou-gou gaan kafdraf. Jy het nie genade met lang stories en lamsakkige houdings nie. Doen dit goed en doen dit gou.

Hoewel ’n rotsma lekker is om te hê, kan jou kind soms koestering mis. Sy sal altyd veilig voel en weet waar om te gaan raad en hulp vra, maar soms wil ’n kind net ’n drukkie hê. Kinders wil soms ook net so bietjie huil oor hulle situasies en dan wil hulle weet jy is daar vir hulle, sonder om hulle te veroordeel. Probeer so elke nou en dan ietsie lafs en lekkers doen – soos ’n piekniek in die tuin of ’n pretparkrit!

Die Helikopterma

Ongelukkig beteken dit nie jy is ’n supersexy GI-Jane-ma wat lag-lag ’n gevegshelikopter kan vlieg nie ... Wel, dalk. As jou kind besig is om te leer hoe! Want jy vlieg laag en aanhoudend oor dit wat jou bloedjies doen en beplan. Jy wil altyd alles weet. Hoe laat? Waar? Wanneer? Hoekom?

Anders as die sponsma is jy nie emosioneel nie, maar alomteenwoordig! Jy wil ook nie bloot net weet wat jou kinders doen nie, maar wanneer dit byvoorbeeld by skoolwerk kom, wil jy hê hulle moet dit goed doen. Wanneer skryf jy toets? Waaroor? Hoeveel het jy al geleer? Hoekom lê jy op jou bed? Wat soek die boek op jou tafel? Ken jy jou werk?

En jy doen nie hierdie dinge omdat jy ’n pyn wil wees nie; jy glo net in jou kind se potensiaal. En dít is goed. Wees net versigtig dat jy nie jou kind probeer beheer en dalk wys dat hy hom nie vertrou nie. Gee hom spasie om sy eie foute en keuses te maak.

Dalk het jy, helikopterma, en jou kind ’n noodlanding nodig!

Luilekkerma

Het jy al jou kinders by die skool vergeet? Kom nou, wees eerlik. Hoeveel keer? Jy is ook die ma wat vergeet om parent control op die DSTV te sit en skuins voor middernag besef jou kind sit nog steeds en televisie kyk. In die middel van die week!

Jou kinders is natuurlik mal daaroor. Jy sal ook maklik saamstem dat jou kind se effense toe neus genoeg rede is om uit die skool te bly, al weet jy voor jou siel sy het ’n bol watte in haar neus opgedruk om haar siek te laat klink! Ag wat, daar is oral soveel reëls wat jou kinders moet nakom, by jou kan hulle ’n bietjie pret hê.

Dit goed om jou kinders pret te laat hê, maar oppas! Wat as jy die dag iets belangriks vergeet – soos sy prysuitdeling of sy beste maatjie se verjaarsdag? Kom in die gewoonte om lysies te gebruik of gebruik jou selfoon se reminders om belangrike dinge te onthou. Jy kort dalk ook ’n meer moedswillige wekker!

Die Pêlma

Jy moet kort-kort van jou klere in haar kas gaan soek, en kry dan sommer gewoonlik daar iets wat jy lus het om te dra. Op pad winkels toe in die kar speel die nuutste Heuwels Fantasties CD of wat die nuutste neiging ook al is. En jy sing woord vir woord saam. Jy is mal daaroor om saam met jou kinders te gaan fliek of hamburgers te eet, en jy voel skoon uitgesluit as hulle die slag alleen saam met hulle maats gaan kuier.

Dit is wonderlik as jy so ’n goeie verhouding met jou kinders kan hê dat hulle gemaklik genoeg voel om alles met jou te deel. “Maar net soos met die ander style kan dit ook ’n probleem raak as daar nie die nodige grense is nie. As pêlma moet jy oppas om nie jou gesag te verloor omdat jou kind jou nie as ’n gesagsfiguur sien nie. Jou kind sien homself as ’n ‘medevolwassene’ in die huis omdat die grensdrade slap is. Hierdie kinders het dan ook later ’n geneigdheid om nie ander mense se grense te respekteer nie, want die voorbeeld is nooit in die ouerhuis gestel nie. Onthou dat daar wel ’n tyd in jou kind se lewe sal wees wanneer jy as ’n vriendin gesien kan word, maar nie te vroeg nie. Leer jou kind eers die waarde van eienaarskap en gesonde grense in die huis.

Kommentaar
  • ek dink ek is "n "gebalanseerde " helikopter ma.
  • Ek het die beste helikopter ma OOIT!!!
    Ek is tans 25 jaar oud en getroud in my eie huis, maar steeds is my ma tik tik tik oor my kop. Ek sal my ma vir niks verruil nie. My helikopter ma is nie net nuuskierig nie, maar vlieg oor jou om jou te beskerm. Sy wil net die beste vir haar kinders he. Soms dink "kinders" helikopers ma's is daar om jou te irriteer van nuuskierigheid, maar eintlik is dit net omdat hulle belangstel. Dis hulle manier om liefde aan jou te wys.
    My broer is steeds in die huis, so hy kry om die oomblik die helikoper dubbel erg.
    Eerlik, ek verkies n helikopter ma, want daar is baie dinge wat sy vir jou doen. Sy beskerm jou voordat jy oor die lyn trap en val.

    Lief vir my ma, Monika Orffer.

    Natasha Senekal

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]